Die heerlikheid van God
Die heerlikheid van God – Kobus Kok
Fia vra:
Ek wil graag meer weet van die heerlikheid van God.
- Kan ons nou al die heerlikheid beleef in ons aardse lewe?
- Wat behels die heerlikheid van God in die hemel? En verheerliking van God? Is dit eer en lof deur lofprysing en ook deur my lewe; dit waarvan my lewe getuig?
Antwoord
Prof Kobus Kok antwoord:
Die heerlikheid van God? Liggaamlik of fisies? Nou al of eers dan?
Die heerlikheid van God waarvan ons in die Nuwe Testament lees, kom van die Griekse woord doksa. Dit is ‘n baie komplekse woord en rondom die gedagte het daar uiteenlopende perspektiewe in die antieke tyd bestaan tussen die Jode, die Stoïsyne, die Platoniste en die Middel-Platoniste en natuurlik ook die Gnostiese groepe. Die Bybel se siening van die doksa het beide Joodse en Grieks-Hellenistiese, veral Stoïsynse gedagtelyne, wat baie verskil van die Platoniste en die Gnostieke groepe. Om dit eenvoudig te maak: Die Jode en die Stoïsyne het geglo dat die gees of pneuma materieel, fisies in die mens aan die werk is. Die Platoniste en veral die Gnostiese denkgroepe het geglo dat die gees of pneuma nie materieel is nie, en ook nie aan die mens se liggaamlikheid gekoppel kan word nie. Volgens Troels Engberg Pedersen, ‘n professor van Kopenhagen, in sy boek Cosmology and Self in the Apostle Paul (vgl. http://www.amazon.com/Cosmology-Self-Apostle-Paul-Material/dp/0199558566#reader_0199558566 ), was Paulus ‘n ou wat geglo het dat die Gees fisies in die mens teenwoordig is en dat dit daartoe lei dat ons kan sê dat die doksa van God en die krag of dunamis van God aktief in ons vleeslikheid aan die werk is. Die middel Platoniste en die ouens soos die Gnostiek (‘n ketterse splintergroep van Christene wat ons veral vanaf die tweede eeu n.C. kry) het geglo dat die liggaam van die mens so soort van ‘n tronk is en dat die gees net nie kan wag om te ontsnap uit die liggaam nie. Hulle sou nie gedink het dat die doksa of heerlikheid van God aan die werk kan wees in die verganklike menslike liggaam nie. Paulus praat bietjie anders daaroor. Hy is van mening dat die heerlikheid van God juis aan die werk is in ons liggame. Lees gerus 1 Korintiërs 15 en Romeine 8.
Deur die wedergeboorte en die doop kry ons fisies nou al deel aan God se Gees en die krag van God. In en deur ons sterwende, fisiese liggame word die doksa of heerlikheid van God tog nou al in hierdie lewe sigbaar omdat die Gees aan die werk is in en deur ons fisiese liggame (vgl. 1 Kor 3:16). In die proses is daardie doksa en die dunamis van God nie bedoel om versamel te word soos hemelse pêreltjies nie, maar bedoel om uitgedeel te word. Ons word geroep om die werk van God se dunamis in ons lewe so uit te straal dat die doksa van God vir die wêreld sigbaar word, met die doel dat die ganse wêreld se knieë uiteindelik sal buig en verklaar dat Jesus die Here is tot eer en verheerliking van God. Wanneer ons sterf, word ons opgeneem en getransformeer in geestelike liggame, deur God se krag, en kry ons deel aan die absolute heerlikheid van God. Wanneer Christus weer kom, sal almal, die wat lewe en die wat reeds gesterf het die absolute heerlikheid en krag van God in en deur Christus sien.
Ons sien dus die volgende belangrike aspekte by Paulus se siening van die doksa:
- Dit is fisies aan die werk in die liggame van gelowiges alreeds in hierdie lewe deur die krag of dunamis van God se gees of pneuma. Dit klink bietjie anders as wat ander geloofsgroepe soos die Gnostici daaroor gepraat het.
- Daar is dus ‘n duidelike verband tussen die pneuma (gees), die krag van God (dunamis) en die heerlikheid (doksa) van God.
- Ons kry nou al deel aan die doksa van God (heerlikheid) en die krag van God, maar sal dit eers na ons dood of by die wederkoms in volle effek sien/beleef.
- In en deur ons gebroke, sterwende liggame is die krag van God aan die werk en daarom kan ons ook instrumente wees wat die heerlikheid van God aan ander mense uitstraal soos ligte wat skyn in hierdie wêreld.
Die teks wat dit die duidelikste beskryf is Filippense 2:15
“…. sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld…” In hierdie teks is dit duidelik dat God se krag, sy heerlikheid in ons werk, en dat ons daardeur God se heerlikheid deur ons lewe laat skyn en so lof en heerlikheid aan God bring. Doksa of heerlikheid is dus in resiprositeits-beginsels ingebed. Resiprositeit beteken dat as ek iets ontvang dat gee ek dit weer terug. God transformeer ons, en daarom is ons geroep om as nuwe mense tot sy eer te leef en ons lewe aan hom te wy. Deur te leef tot God se eer straal ons sy heerlikheid uit en dien dit as ‘n getuienis vir ander. As ons lewe ‘n getuienis is, dan bring dit weer lof aan God. Ek noem hierdie tipe teologie ‘n positiewe resiprositeitspiraal.
Skrywer: Prof Kobus Kok