Die Heilige Gees, Jesus, en gebed – Hermie van Zyl

Is dit die Heilige
Gees wat met ons praat in drome, en vir ons gesigte – en vrede – gee? Mag ek
direk met die Heilige Gees praat en vir hom iets vra, byvoorbeeld, om my
gedagtes te vernuwe, ensovoorts? Wanneer ek bid, bid ek tot God alleen of kan
ek tot / deur Jesus ook bid?

Antwoord

Prof Hermie van
Zyl antwoord:

Die vraag handel
onder andere oor wie ons moet aanspreek in ons gebede.

Normaalweg sê ons
dat ons tot God die Vader bid, deur Jesus, en in (die krag van) die
Heilige Gees. Christus is die Middelaar tussen ons en God (Hebreërs 7:25;
9:24), daarom bid ons deur Jesus tot
God (Johannes 15:16; 16:23). En die Heilige Gees is God se “Vertaler”:
Die Gees weet wat die diepste bedoeling van ons hart is en “vertaal”
dan ons stamelende woorde sodat die Vader sal verstaan, by wyse van spreke.
Dink hier aan ‘n teks soos Romeine 8:26-27, waar staan dat ons nie mooi weet
wat om te bid nie, maar dat die Gees ons in ons swakheid bystaan en dat Hy
volgens God se wil vir ons by God intree. Daar is dus ‘n innige band tussen die
Persone van die Goddelike Drie-eenheid om ons swakke gebede so te verstaan en
so te verhoor dat dit volgens God se wil én tot ons voordeel en geloofsgroei is.
So verkry ons die “maksimum voordeel” uit ons gebede, ten spyte
daarvan dat ons nie eens altyd mooi weet wat en hoe om te bid nie. (Selfs die
dissipels het “gesukkel” met gebed; daarom vra hulle op ‘n keer vir
Jesus: “Here, leer ons bid …”, Lukas 11:1.) Ons hoef ons dus nie
daaroor te bekommer dat ons gebede nie “reg” sal klink vir God nie;
Hy is die Een wat ons gebede reg verstaan en reg beantwoord. Daarvoor sorg Hy
as Vader, as Seun en as Heilige Gees. Wat ‘n wonderlike gedagte. Ons hoef nie “diep
gedagtes” uit te dink en dit in mooi woorde te klee nie. Die spreekwoord
sê mos: ‘n Goeie begrip het ‘n halwe woord nodig. En God het ‘n baie goeie
begrip, as ons dit so menslik kan stel. Hy weet wat ons nodig het, nog voordat
ons vra (Matteus 6:7-8). Ons het nie ‘n stortvloed van woorde nodig om Hom te
oortuig nie. Ons hoef ook nie vroom te klink of allerlei geleerde woorde te
gebruik nie. Die Heilige Gees het al klaar ons diepste begeertes en bedoeling opgevang
en dit deur Christus aan die Vaderhart bekendgemaak. Al wat God eintlik maar
net wil hê, is dat ons Hom in kinderlike vertrou sal nader; Hy sal verstaan,
meer as wat ons onsself verstaan. Inderdaad, “bo verwagting, bo gebede,
skenk Hy ons sy vrede”, soos ‘n sekere kerklied lui.

Bogenoemde is wat
ons die Goddelike ekonomie kan noem as dit by gebed kom. Al Drie die Persone
van die Goddelike Drie-eenheid is werksaam wanneer ons bid, elkeen op sy eie
manier. Maar dit beteken nie dat ons nie ook tot slegs een van die Persone in
die Goddelike Drie-eenheid kan bid nie. Ons gebede hoef nie altyd die geykte
patroon te volg van bid tot God die
Vader, deur die Seun, in die krag van die Gees nie. Hoewel die
meeste gebede in die Bybel tot God (die Vader) gerig word, is daar gevalle waar
die Seun ook aanbid word. So lees ons
in Johannes 14:13-14  dat ons tot
Christus in sy Naam kan bid. Dit klink vreemd om tot iemand te bid in sy eie
naam, maar die bedoeling is waarskynlik hier om die innige band tussen gelowige
en Christus tot uitdrukking te bring. Wie in die Seun glo, leef in volle
lewensgemeenskap met Hom en praat daarom vanselfsprekend met Hom en noem Hom by
die Naam. Verder, wie glo in Christus tree toe tot die kragveld van die Vader
en die Seun (Johannes 14:10-12), en verkry dan in die Naam van die Seun toegang
tot die gesprek tussen die Seun en die Vader. Hierdie gedagte kom ook voor in
Matteus 18:20, waar staan dat as twee of drie in die Naam van Christus vergader
(d w s, met aanroeping van sy Naam), Christus in hulle midde is. En so kom die
innige band tussen Seun en Vader ook na vore, want vers 19 sê dat die Vader die
gelowiges se versoek sal toestaan; basies dieselfde gedagte as by Johannes
14:13-14. Hierdie innige eenheid tussen gelowige, Vader en Seun maak dat ons
gebede ook nie verval in allerlei trivialiteite nie, maar beweeg binne die wil
van God. Want dan word dit gebede wat gerig is op die Christelike lewe en die
voortsetting van Christus se werk op aarde, waardeur die Vader verheerlik word.
Ook Paulus ken die aanroep van Christus se Naam. In 1 Korintiërs 1:2 praat hy
van die gelowiges in Korinte wat die Naam van Jesus Christus aanroep. Dit het
waarskynlik as agtergrond Psalm 116:4 waar die Naam van die Here aangeroep
word. Daar is dit natuurlik die Here God van die Ou Testament (OT) wat
aangeroep word, maar in 1 Korintiërs 1:2 word dit toegepas op Jesus Christus.
Dus, net soos wat Gód in die OT aangeroep is (in die gebed), so word Jésus die
Here nou in die NT aangeroep.

Hierdie gegewens
is genoegsame aanduidings vanuit die NT dat ons met vrymoedigheid tot Jesus, die
Seun, kan en mag bid.

Hoe staan dit met
die Heilige Gees? Daar is nie spesifieke
tekste in die Bybel wat sê dat mense pertinent tot die Gees gebid het nie. Maar
soos bo reeds genoem, is die Gees as die derde Persoon in die Goddelike
Drie-eenheid volledig God en net so ‘n Persoon as die Vader en die Seun. Hy is
nie bloot ‘n onpersoonlike krag wat van God uitgaan nie. Daarom word aan Hom
ook eienskappe toegeskryf wat tipies net by ‘n Persoon hoort. So word Hy in die
NT die Trooster of Voorspraak genoem wat oor die Seun getuig (Johannes 15:26); daar
word verder gesê dat Hy alle dinge deursoek (1 Korintiërs 2:10), dat Hy
besluite neem (Handelinge 15:28), dat Hy hoor en verkondig (Johannes 16:13),
onderrig en herinner (Johannes 14:26), bid (vir ons intree, Romeine 8:27), en selfs
dat ons Hom kan bedroef (Efesiërs 4:30). Dit is dus volkome geregverdig om tot
die Gees te bid en Hom te vra om jou lewe voortdurend te vernuwe ooreenkomstig
God se wil. Een van die oudste belydenisse in die kerk, die belydenis van Nicea
(325 nC), sê dan ook dat die Gees van die Vader en die Seun uitgaan en saam met
die Vader en Seun aanbid en verheerlik moet word. ‘n Baie ou gebed en kerklied
uit die 9e eeu lui byvoorbeeld: Veni,
Creator Spiritus
(“Kom, o Skepper Gees”); hierdie gebed/lied roep
die Gees aan as die Een wat nuwe lewe aan die kerk sal gee. Geen wonder nie dat
baie kerkliedere vandag ook direk tot die Gees gerig word. Ek haal maar een van
talle aan:

Gees van God wat in my woon,

breek die Woord vir my.

Gees van God wat in my woon,

kom en heilig my.

Troos my, sterk my, leer my, lei my.

Gees van God, kom heilig my,

breek die Woord vir my.

Wat die Heilige Gees en drome en gesigte betref – dis ‘n onderwerp op sy eie. Ek het reeds by ‘n vorige geleentheid volledig hieroor geskryf. Dit kan gevind word op ons webblad – bybelkennis.co.za. By “Soek Fasiliteit”, sleutel in: “Drome – Hermie van Zyl”, en die betrokke artikel sal dan verskyn. As daar dan nog vrae is, sal ek graag verder probeer antwoord.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl