Die Heilige Gees leer en herinner ons aan alles wat Jesus gesê en gedoen het (14:26)

image_pdfimage_print

Die Heilige Gees leer en herinner ons aan alles wat Jesus gesê en gedoen het (14:26) – Francois Malan

14:26 Die Vader sal die Gees stuur in die Naam van Jesus – daarmee word die Gees nóú aan die Seun verbind. Jesus is deur die Vader gestuur in die Naam van sy Vader, as verteenwoordiger van die Vader (5:4). Die Gees word deur die Vader gestuur in die Naam van Jesus, as verteenwoordiger van Jesus. Jesus het nie in sy eie Naam gekom nie. Die Gees kom ook nie in sy eie Naam nie (vgl Gal. 4:4-6). Die taak van die Heilige Gees is om hulle ‘te leer (didaskoo) en te herinner (hupomimneskoo) aan alles wat Jesus aan hulle gesê het – vgl. Joh. 2:17,22 toe die dissipels gedink het (mimneskoo) aan Ps 69:10 ‘die liefde vir u huis verteer my,’  toe Jesus die tempel gereinig het (v17); en hulle het die woorde van Jesus onthou  (mimneskoo) oor sy liggaam as die tempel wat afgebreek en wat Hy in  drie dae sal opbou (v22); vgl. Joh. 12:16 nadat Jesus verheerlik is, het hulle daaraan gedink (mimneskoo) dat Sag. 9:9 op Jesus se intog betrekking het: ‘jou Koning kom en Hy ry op ‘n donkie.’

Die dissipels se insig in die drie gebeurtenisse illustreer die werk wat die Heilige Gees doen. Hy stel hulle in staat om dit te onthou en gee insig in die betekenis van die gebeure en woorde van Jesus. So leer die Heilige Gees hulle om die openbaring van God wat Jesus gebring het in sy rykheid en diepsinnigheid te begryp. Die Heilige Gees bring geen nuwe openbaring nie; sy taak is om te wys na wat Jesus gebring het, en die volgelinge van Jesus in staat te stel om dit te verstaan. Nuwe insigte wat deur die Heilige Gees gebring word in nuwe omstandighede,  moet daarom steeds aan die woorde en optrede van Jesus getoets word (1 Joh. 2:27; 1 Kor 2:12-16; 7:12-16; 40; Mat. 13:52). Jesus sit sy werk voort deur die Heilige Gees. Hierdie vers onderstreep ook die persoonlike aard van die Gees as Jesus se verteenwoordiger. Die Vader en die Seun en die Heilige Gees is duidelik drie persone in die godheid wat in eenheid optree.

 

Jesus sy skenk vrede en neem afskeid (14:27-31)

 

Die gesprek wat deur hoofstuk 13 ingelei is, en met ‘n woord van versekering in 14:1 begin, word afgesluit met ‘n

woord van versekering, ‘n stelling oor die implikasie van Jesus se vertrek en terugkoms, en ‘n aanmoediging om geloof in Jesus te hê. Die volgende afskeidsgesprek (15-16) word ook so afgesluit in 16:33.

 

14:27 ‘Vrede’ (eirene) is ‘n vertaling van die Hebreeuse sjaloom wat ‘n omvattende groetwoord en totsienswoord is vir geestelike en stoflike onversteurbaarheid, voorspoed en gesonde verhoudings. Jesus se vredewens is egter geen gewone ‘vaarwel!’ nie. ‘Mý vrede gee Ek vir julle’ – dit is niks minder as die verlossing van die koninkryk van God nie, die vrede van God, in die wêreld bewerk deur Jesus se koms, vertrek en terugkoms (vgl. Jes.9:6-7; 52:7;  57:19; Eseg.37:26). Die groet van die wêreld het geen krag nie (Jer.6:14). Waar die Gees in die hart is, is daar dié vrede wat Jesus vir ons nalaat.  ‘n Innerlike vrede wat voortvloei uit die regte verhouding tot God. Hierdie vrede verdryf alle ontsteltenis uit die hart en verban die vrees/lafhartigheid (deilia), want God het in ons kom woon.

 

14:28 Jesus vertrek om na die Vader toe te gaan. Ware liefde vir Jesus sal saam met Hom daaroor bly wees. Daarby is die Vader groter as Jesus; Hy is die bron (Jesus is sy enigste Seun monogenes Joh. 1:14,18; 3:16,18) wat die Seun stuur en opdrag gee. Die Seun gehoorsaam. Daarom is alles wat nou gaan gebeur onder beheer van die Vader. God sal sy heilsame doel uitwerk deur die vreeslike gebeure van die volgende aantal ure. So kan die dissipels ook seker wees dat God sy heilsame doel sal uitwerk in hulle uur van beproewing.

 

14:29 Jesus wil verseker dat sy dissipels in die toekoms standvastig in die geloof sal bly (vgl. Joh. 13:19 voor Judas uit is om Hom te verraai). Nou het die tyd aangebreek wat hulle geloof werklik beproef gaan word. Daarom berei Hy hulle voor vir die toets. Na dié gebeure sal hulle onthou dat Hy dit voorspel het, en sal hulle nog vaster glo in Jesus se woorde.

 

14:30  In die bovertrek sê Jesus: ‘Ek sal nie meer lank met julle kan praat nie (nog net die tweede afskeidsrede in hoofstukke 15-16), want die owerste van hierdie wêreld (vgl. 12:31; ‘die Satan’ – staan nie in die twee tekste nie) is aan die kom.’ Judas is die werktuig van die duiwel (6:70 diabolos; 13:2 diabolos – kwaadspreker/skinderaar; 13:27 satanas  teenstander – albei titels/name word gebruik vir die duiwel/satan). ‘Hy het geen mag oor my nie’ is ‘n wetlike term: die Satan het geen saak/aanklag teen Jesus nie, want Jesus staan nie onder die sondeheerskappy van hierdie wêreld nie (8:23). Hy het die duiwel konsekwent weerstaan en het nooit in sy hand gespeel nie (8:46). Hy het gekom sodat ‘die owerste van hierdie wêreld uitgegooi sal word buitentoe’ (12:31). 

 

14:31 Die wêreld moet leer dat Jesus die Vader liefhet en sy wil doen, daarom sal Hy nie enige kompromis maak en die maklike uitweg kies (soos die duiwel wil hê nie – vgl. Mat. 4:8-10; 16:22-23; 27:42)., maar Hy sal doen wat die Vader, wat die wêreld liefhet, bepaal het (Joh. 10:17-18): Hy sal die wêreld en die duiwel oorwin, sy lewe aflê en uit die dood opstaan vir die verlossing uit sonde en dood vir elkeen wat in Hom glo (Joh. 3:17-18). Die slotwoord: ‘Staan op,’ getuig van Jesus se vasbeslotenheid om die lydensweg te betree. Johannes het skynbaar later hoofstukke 15-17 bygewerk by sy eerste beskrywing, wat ná 14:31 aangegaan het met 18:1: ‘Nadat Jesus dit gesê het…’ 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...