Die Hel

Die Hel – Francois Malan

‘n Leser vra: 

Bestaan die hel regtig of beteken dit net dat jy gaan doodgaan en nie die ewige lewe hê nie. M.a.w. is daar regtig ‘n vuur waarin mense gaan brand vir ewig?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die Bybelse woord vir hel is gehenna, wat afstam van die Hebreeuse woord gehinnoom die dal van Hinnom aan die Suid-Ooste van die stad Jerusalem. Onder konings Agas en Manasse het hulle die afgod Molog hier gedien vir wie hulle babatjies geoffer het deur hulle op die vuurwarm uitgestrekte arms van die beeld te sit om te verbrand (2 Konings 16:3; 21:6; 2 Kron.28:3; 33:6). Die vroom koning Josia het dié plek daarom verwoes en onrein verklaar (2 Kon. 23:10), vgl. ook Jeremia 7:31 en 32:35  se hoogte van Tofet in die Ben-Hinnomdal. Later word dit die stad se ashoop waar dooie diere en mense wat tot die dood veroordeel is se lyke kon vrot en verbrand word.

Die dal van Hinnom het toe die simbool en die profesie geword van die ewige plek van smart, die ewige strafplek van die goddelose na die oordeelsdag. Dit word met verskillende woorde in die Bybel aangedui: die brandende oond waarin hulle sal huil en op hulle tande kners (Mat.13:42,50); die hel waarin goddeloses gegooi word (Mat.5:29,30; 10:28); die vuurpoel wat met swael brand, waarin die satan en sy engele en die goddeloses gegooi word (Openb.19:20); daar brand ‘n onuitbluslike/ewige vuur (Mat.18:8; Mark.9:43,44,48 waar die wurms nie doodgaan en die vuur nie uitgeblus word nie); ‘n ewige straf/pyniging (Mat.25:46); ewige verdoemenis geban uit die teenwoordigheid van die Here (2 Tes 1:9); die diepste duisternis daarbuite (Mat 8:12); onder die toorn van God met lyding en benoudheid (Rom 2:5-9); dood en verderf (Gal.6:8); die ondergang (1 Tes 5:3).

Vuur word dikwels geassosieer met die voltrekking van God se oordeel (Openb. 1:14; 2:18; 4:5; 14:18; 16:8; 18:8; 19:12; 20:9,14,15). Swael is ‘n soort asfalt wat in vulkaniese uitbarstings voorkom. Brandende swael skep die dodelike gas swaeldioksied. Dit dra by tot die intensiteit van die beeldspraak (9:17-18; 19:20; 20:10).

Openbaring 14:9-11 waarsku dié mense wat die dier en sy beeld aanbid dat hulle met vuur en swael gepynig sal word en dag en nag geen rus sal ken nie tot in alle ewigheid, as beeld van God se oordeelsvoltreking wat vir ewig duur. Uit liefde waarsku God die mense en nooi hulle ernstig om hulle te bekeer.

Oor die laaste oordeel sê Openbaring 20:14-15 dat die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi word, en noem die vuurpoel die tweede dood. En as daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

As die laaste van sewe uitsprake van God self in Openb. 21:5-8 sê Hy daar wag vir die goddeloses die ewige straf in die poel wat met vuur en swael brand en word ‘n lys van sondes opgenoem wat ‘n opsomming is van die aanklagstaat wat aandui waarom die goddeloses die tweede dood verdien.

Vuur is ‘n beeld van verskrikking, maar kan nie die werklikheid van die straf van God genoegsaam uitdruk nie. Hoe die ewige dood/straf/oordeel van God sal wees, weet ons nie, net so min as wat ons weet hoe die ewige lewe saam met God gaan wees. Maar met die beeld van ‘n ewige vuur of ewige duisternis waarsku Jesus en die Heilige Gees deur die skrywers van die Bybel dat dit erg en vir ewig sal wees vir hulle wat nie die verlossing deur Jesus wil aanvaar nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan