Die invoeg van ‘n sinsnede vanuit die geheue.

image_pdfimage_print

Die invoeg van ‘n sinsnede vanuit die geheue. – Herman Grobler

Wanneer ons iets kopieer wat in ‘n sekere mate ooreenstem met iets wat ons kort vantevore mee te doen gehad het, kan ons maklik uit die geheue iets byvoeg wat nie daar was nie. Dit gebeur ook wanneer iets baie bekend aan ons is. Dit is die verklaring vir sekere variasies wat ons in die Bybel aantref.

 

Kom ons kyk na so ‘n geval in Markus 10:21. Daar is “neem jou kruis op” ingevoeg.

Wou Jesus ‘n probleem in die ryk jongman aanspreek, of vir hom die eise vir volgelingskap uitspel? Het Jesus aan hom een vereiste gestel, of twee? Moes hy net van sy vertroue op sy aardse besittings en rykdom afsien, of het Jesus ook die eis gestel om die kruis op te neem?

1933/53 Ou Afrikaanse Vertaling: “En Jesus het hom aangekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: Een ding kom jy kort—gaan verkoop alles wat jy het, en gee dit aan die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê; kom dan hier, neem die kruis op en volg My.”

1983 Nuwe Afrikaanse Vertaling: “… en Jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.

Ons het drie kriteria wat ons kan help om objektief die variasies te evalueer sodat ons kan vasstel of die moderne vertalings iets uitlaat wat God laat neerskryf het.

Eksterne kriteria.

Die eerste kriterium waarna ons kyk, is die bewyse wat deur die manuskripte self na vore kom. Ons vergelyk manuskripte uit dieselfde ontstaanstydperk met mekaar. Dit is te verstane dat ouer manuskripte, wat nader aan die oorspronklike outografieë gekopieer is, vry sal wees van variasies wat met verloop van tyd ontstaan het, en so van kopie na kopie oorgedra is.

Ons besit ses Griekse manuskripte tot die jaar 500 n.C. wat hierdie hoofstuk bevat.  Vyf van hulle is sonder hierdie toevoeging. Net die Washington manuskrip het wel hierdie sinsnede in. Hierdie manuskrip met die evangelies het ‘n vreemde samestelling. Dit kom met geen ander manuskrip ooreen nie, en het selfs ‘n uitgebreide paragraaf wat in geen geskrif hoegenaamd gevind word nie. Dele van hierdie manuskrip stem met verskillende bekende manuskripte ooreen.  Die eerste deel van Markus tot by hoofstuk 5:30 stem meer met die Westerse tekste ooreen, terwyl die res van Markus weer meer met papirus 45 (± 220 n.C.) ooreenstem. Ongelukkig is Markus tien een van die dele wat nie in papirus 45 oorleef het nie. H.A. Sanders gaan van die standpunt uit dat die Washington kodeks moontlik gekopieer is van ‘n bronteks wat saamgestel is uit fragmente van verskillende manuskripte wat aanmekaar gelas is na die poging van Diocletianus (245-313 nC.) om die Christendom te vernietig deur hul heilige boeke te verbrand. Hoeveel waarde kan ons heg aan ‘n bepaalde variasie wat in so ‘n saamgestelde teks voorkom?

Eers ná die jaar 700 n.C. kom hierdie byvoeging meer algemeen in manuskripte voor. Van die elf verdere manuskripte tussen 501 en 900 n.C. tot ons beskikking, is vyf sonder hierdie sinsnede. Buiten vir kodeks Washington, lyk dit of die variasie met hierdie sinsnede in, eers baie laat ontstaan het. Die manuskripbewyse gee ‘n duidelike aanduiding dat hierdie betrokke variasie nie deel van die oorspronklike outografie was nie.

Interne kriteria.

Die tweede kriterium wat ons aanwend is om te probeer bepaal hoe so ‘n variasie kon ontstaan het, is deur te kyk na die tipiese werkswyse van kopieerders self. Een moontlikheid is dat hierdie sinsnede van elders af hier ingedra kon gewees het. Vroeër in Markus 8:34 lees ons: “En toe Hy die skare saam met sy dissipels na Hom geroep het, sê Hy vir hulle: Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” Dit kan maklik gebeur dat ‘n kopieerder kon onthou wat hy vantevore neergeskryf het, en uit sy geheue hierdie woorde kon byvoeg.

Matteus en Lukas het albei van Markus gebruik gemaak toe hulle hul evangelies saamgestel het. In hulle weergawe van wat Markus in hoofstuk agt hanteer, haal beide hierdie woorde aan. Maar in hul weergawe van wat Markus in hoofstuk tien skrywe, haal nie een van die twee hierdie spesifieke sinsnede aan nie.  Waarom sou albei dan hierdie sinsnede uitlaat, terwyl hulle in die res van hierdie gebeure Markus feitlik woordeliks aanhaal? Daar is geen logiese grond waarom hulle juis hierdie sinsnede sou uitlaat nie. Dat beide Matteus én Lukas hierdie sinsnede nie bevat nie, is ‘n sterk aanduiding dat dit nie deel van Markus tien was toe hierdie evangeliste Markus benut het nie.

Intrinsieke kriteria.

Hier kyk ons na sake wat uit die teks en konteks self na vore kom.

Jesus sê dat die jongman een ding kortkom – waarom sou Hy dan ‘n tweede byvoeg?

Jesus het duidelik aan hierdie jongman openbaar waar sy persoonlike swakpunt lê, naamlik sy vertroue op sy aardse besittings en rykdom. Dít is wat hy moes opoffer. Om die kruis op te neem, draai die klem weg van die eintlike probleem wat Jesus in hierdie man aanspreek. Dit pas nie in hierdie konteks nie.

In Markus agt vanwaar hierdie sinsnede oorgeneem is, is dit van kardinale belang. Nadat Petrus bely het dat Jesus die gesalfde is, maak Jesus dit duidelik dat sy volgelinge, net soos Jesus self, ook vervolg sal word. Dáár pas die oproep om elke dag die kruis op te neem!

Al drie die kriteria, die eksterne, interne én die intrinsieke kriteria dui baie sterk daarop dat hierdie woorde nie aanvanklik deel van die oorspronklike outografie was nie.

Die effek van hierdie byvoeging.

Jesus wou die vertroue op besittings en rykdom in hierdie jongman se lewe aanspreek, nie voorwaardes gee om Hom te volg nie. Hierdie byvoeging kan mens die punt laat mis en Jesus se appèl sy krag laat verloor.

‘n Byvoeging vanuit ‘n ander deel en ander konteks van die Bybel kan die eintlike oproep of appèl verswak of selfs verberg.

 

Skrywer: Herman Grobler

 

image_pdfimage_print

You may also like...