Die Jode beskuldig Hom van godslastering (10:31-39)
Die Jode beskuldig Hom van godslastering (10:31-39) – Francois Malan
10:31-32 In 8:59 wou hulle Hom al stenig omdat Hy gesê het: voor Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is. Nou dra hulle weer klippe aan (in die pilaargang is daar nie klippe nie), maar Jesus gee nie weer pad nie. Hy daag hulle met ironie uit: baie goeie/mooi/edele (kala) dade vanuit die Vader het Ek vir julle gewys – die dade is deur die Seun gedoen in opdrag van en met die gesag van die Vader, as getuienis daarvan dat Hy en die Vader een is – vir watter een wil julle my (die goeie kalos Herder) stenig?
10:33 Dood deur steniging is die straf vir godslastering (Lev.24:16). Godslastering is nie ‘n sonde van die daad nie, maar van die woord. Daarom verklaar hulle dat hulle Jesus nie oor ‘n goeie daad wil stenig nie – indirek ‘n erkenning dat Hy ‘n goeie daad gedoen het, selfs op die Sabbat in hoofstukke 5 en 9 – ‘maar oor godslastering, omdat jy, wat ‘n gewone mens is, jou as God voordoen’ (vgl. 5:17,18 en Jesus se antwoord daarop in 5:19-30, ‘n eenheid nie in selfverhoging nie, maar wat van die Vader af kom). Hulle begryp dat Jesus, wat in die gestalte van ‘n gewone mens verskyn het, besig was om deur sy woorde en werke te openbaar dat Hy die Seun van God en ook God is (vgl. 1:1). Maar in plaas daarvan dat hulle die goddelike waarheid van Jesus se selfopenbaring in geloof aanvaar, verwerp hulle dit as godslastering, en daarmee vir Jesus as hulle verwagte Messias.
10:34-36 Jesus verwys na ’julle wet’ waaraan hulle toegewy is, wat die Psalms insluit, dus die hele Ou Testament, hier spesifiek na Ps 82:6. Die psalm begin met God wat in die Godsvergadering opstaan tussen die gode (hemelwesens, vgl. Job 2:1 se seuns van God, waaronder die Satan ook was). God bestraf die partydige regters omdat hulle nie reg laat geskied aan die die armes en mense in nood nie. Die optrede van die leiers van die volk op aarde word met die optrede van hemelwesens verbind. So weerspieël die optrede van die aardse leiers wie hulle geestelike leiers is. Daarom kon Jesus in 8:44 sê hulle is kinders van die duiwel, omdat hulle sy wil en werk doen deur Jesus dood te maak. Hier verwys Jesus na Ps 82:6 waar God die leiers van Israel saam met hulle geestelike leiers ‘gode’ (hemelwesens) noem. In Eksodus 4:21-23 noem God selfs die volk Israel, wat deur die Farao verdruk word, ‘my eersgeborene,’ en ‘my seun’. As Jesus dan verklaar dat Hy die Seun van God is, kan dit nie as godslastering beskou word nie, nie as selfs die onregverdige regters ‘gode’ genoem word in die Jode se eie ‘wet’ wat hulle nou nie op Jesus wil toepas nie.
Jesus is egter veel meer as die leiers van die volk wat gode genoem word, of die volk Israel wat as God se eersgeborene beskou was. Hy is deur die Vader ‘afgesonder’. In 17:17,19 word dieselfde woord (geheilig, afgesonder, toegewy) gebruik vir Jesus se toewyding tot die dood toe. Hier word dit gebruik op die fees van die tempelwyding, toe die tempel in 167 v.C. weer aan God toegewy is, soos met die inwyding van Salomo se tempel in 957 v.C. (1 Kon 8:29; 2 Kron 6:20, 40,41). Soos met die Loofhuttefees (7:37-38) en met die Paasfees (6:4; 19:31-37), is Jesus die vervulling van die toewyding van die tempel, en is Hy self, in sy liggaam, die nuwe en volkome ingang en toewyding aan God (Jn 2:19-21).
10:37-38 Jesus dring opnuut by hulle aan om Hom te beoordeel op grond van die werke wat Hy verrig het. Sy werke getuig tog wie Hy is, en bewys dat Hy die werke van God doen. As hulle oortuig is dit is nie goddelike werke nie, is dit te verstane dat hulle nie glo nie (vgl. egter hulle erkenning in 9:24). Omdat hulle weier om te erken dat dit wel werke van God is, moet hulle nog ‘n maal ernstige oorweging skenk aan sy werke. Dan sal hulle verplig wees om te erken dat die Vader op ‘n heel besondere manier deur Jesus werk, en in Hom begin glo. Dan eers sal hulle ‘insien’ – tot kennis van die werklike toedrag van sake kom, die regte kennis oor sy persoon – en ‘weet’ – voortaan die blywende geloofskennis besit ‘dat die Vader in My is en Ek in die Vader. Die wedersydse inwoning wys op hulle volledige wederkerige verbondenheid, dat die werk van die Vader dié is van die Seun, en die werke van die Seun dié van die Vader, en wie die Seun sien en ken, sien en ken die Vader (14:9). Daarom kan Jesus verklaar: ‘Ek en die Vader is een’ sonder om Hom aan godslastering skuldig te maak. Dié uitsonderlike eenheid vorm ook die basis vir die verhouding tussen God en die gelowige (14:12-14; 17:20-23).
Jesus het nou reeds drie uitsprake gemaak oor sy verhouding tot God: Hy is één met die Vader (v30), Hy is die Seun van God (v36), onlosmaaklik aan die Vader verbonde (v38). Vir die Jode wat dink God is vér en verhewe, was dit moeilik om te aanvaar dat die hoë God met die lae wêreld gemeenskap sou hê, die gemeenskap wat daar is in die persoon van Jesus.
10:39 Die Jode weet nou wie Jesus is (vgl. hulle vraag in v24), maar verhard hulle harte weer in ongeloof en wil Hom gevange neem . Die toneel eindig soos in 8:59: die Herder, soos sy skape, is in die hand van die Almagtige Vader totdat die uur aanbreek deur die Vader bepaal (7:30; 8:20). Jesus ontglip uit ‘hulle hande’ wat reg staan vir moord, want, soos sy skape, word Hy veilig beskerm deur die hand van sy Vader (v29).
Jesus trek terug na die Oos-Jordaanse gebied (10:40-42)
10:40 Jesus trek Hom terug na Perea, Oos van die Jordaan (in die gebied van Herodes Antipas, wat Johannes die Doper se kop laat afkap het, Mk 6:27-28), waar Johannes vroeër gedoop het en die openbare bediening van Jesus begin het (1:28 in Betanië). Met hierdie verwysing wil die skrywer die beginpunt en die afsluiting van Jesus se selfopenbaring aan die Jode aandui. Daar het Johannes Hom al aangewys as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem, dat Hy reeds voor Johannes bestaan het, met die Heilige Gees doop, as die Seun van God (1:29-34). Die goeie Herder is daar reeds aangewys as die Lam. Jesus die Gesalfde priester is ook die offerlam. Hy vertoef minstens ‘n paar maande in daardie omgewing.
10:41-42 Die Jode van Galilea het verkies om deur Perea na Jerusalem te reis, om so die gebied van die Samaritane te vermy. Van hulle kon so van Hom geweet het. Daar was ook nog volgelinge van Johannes die Doper, wat sy getuienis oor Jesus gehoor het. Hulle erken dat Jesus meer is as Johannes (vgl. 3:30), aangesien Johannes geen wondertekens gedoen het nie, terwyl Jesus wel baie wonders verrig het. Alles wat Johannes oor Hom gesê het is waar. Daarmee bevestig die mense die egtheid van Johannes as profeet (die vriend van die bruidegom), en die groter gesag van Jesus, die bruidegom (3:27-30).
Baie mense kom daar tot geloof, soos Johannes voorspel het (1:7). Dit is so anders as in Jerusalem waarheen mense stroom om God te gaan dien, en ‘n mens geloof sou verwag. In Kapernaum in Galilea (6:59,66) en in Jerusalem in Judea word Jesus verwerp, maar in Samaria en Perea en onder die Grieke vind Hy ‘n oop deur (4:42, 10:42; 12:20-21). Deur geloof kom die band tussen die Herder en die skape tot stand.
Skrywer: Prof Francois Malan