Die Joodse Raad

image_pdfimage_print

Die Joodse Raad – Coen Slabber

Die Joodse Raad 

[Hierdie Raad staan ook as die Sanhedrin bekend. Dit is afgelei van die Grieks sun = saam + hedra = sitplek.]

Die Joodse Raad was die Joodse geregshof in Jerusalem oor godsdienstige sake en het uit 71 lede bestaan. Veral in die lydensverhale lees ons baie van hierdie Raad, want dit was die liggaam wat Jesus verhoor het. In Handelinge was dit die hof wat die groeiende Christelike kerk ondersoek en vervolg het.

In die Ou Testament lees ons van vergaderings van die leiers van Israel (1 Konings 8:1). Hierdie was waarskynlik informele vergaderings. Die Raad het waarskynlik sy oorsprong in die tyd na die ballingskap. Daar was nie ‘n koning nie en die ou heersende families word toe die basis van gesag. In Esra 5:5 lees ons van die Judese leiers. Die Raad wat ontstaan het, het waarskynlik uit die adel en die priesterlike aristokrasie bestaan. Hulle invloed was betekenisvol omdat die Perse heelwat vryheid aan hulle toegestaan het. Daar was ‘n goewerneur wat verseker het dat die belange van die buitelandse heersers beskerm word, maar oor binnelandse sake was die hoëpriester die belangrikste gesag.

Met die koms van die Grieke (vierde eeu vC) het Hellenistiese stede gewoonlik ‘n demokratiese vergadering en ‘n raad gehad. Jerusalem het so ‘n raad gehad – die Gerousia. In die eerste eeu vC het die spanning tussen Fariseërs en Sadduseërs gedreig om die volk te skeur. Die raad ondergaan toe ‘n verandering. Fariseërs en skrifgeleerdes word nou ook nou deel van die raad. Die raad bestaan nou uit adellikes aan die een kant en Fariseërs aan die ander kant.

Die Romeine het die Raad behou, maar die perke van sy jurisdiksie duidelik afgebaken. Nadat die Jode hulle onafhanklikheid verloor het, het die Raad baie van sy wetgewende en politieke mag verloor. Rome was nou die werklike mag, want hy het die leiers aangestel. So het Herodes die Grote baie van die lede van die Raad tereggestel. Rome se verteenwoordigers het die hoëpriesters aangestel. Van 6 – 36 nC het hulle selfs die ampsgewaad van die hoëpriester in die Burg Antonia bewaar.

Na die oorlog van 70 nC verdwyn die laaste oorblyfsels van Joodse outonomie. Die Raad kom weer in Jamnia bymekaar, maar sy mag was bloot teoreties – hulle het godsdienstige sake hanteer. Die Romeine het hulle nie veel aan die Raad gesteur nie. Die byeenkoms by Jamnia was belangrik, want daar is besluit wat normatief en wat dwaalleer was.

Ons weet nie hoe lede tot die Raad verkies is nie. Die Raad was nie demokraties verkies nie.  Waarskynlik is aanstellings gemaak vanuit die geledere van die priesters, die skrifgeleerdes en die adel. Daar was 71 lede verdeel in drie kategorieë:

  1. Die hoëpriesters. Hulle was Sadduseërs en die magtigste persone in die Raad. Sommige navorsers glo daar was ‘n uitvoerende raad bestaande uit tien persone. Een was die bevelvoerder van die tempelwag (Handelinge 5:24 – 26). Daar was ook ‘n “tesourier” wat die inkomste van die priesters beheer het. Hy het ook die groot hoeveelhede geld wat ingekom het, beheer. Die inkomste van die tempel was offers en belasting. Kajafas was hoëpriester tydens Jesus se verhoor voor die Raad. Ananias was hoëpriester toe Paulus voor die Joodse Raad verskyn het (Handelinge 23:2).
  2. Die ouderlinge. Hierdie groep verteenwoordig die priesterlike en finansiële aristokrasie van Judea. Ons lees dat Josef van Arimatea ‘n vooraanstaande lid van die Joodse Raad was (Markus 15:43). Hierdie groep het baie van die idees van die Sadduseërs ondersteun.
  3. Die skrifgeleerdes. Hulle was meestal Fariseërs. Ons kan hulle as professionele advokate beskryf, want hulle is opgelei in teologie, filosofie en regskunde. Hulle was in gildes wat bekende leermeesters gevolg het, georganiseer. Een so ‘n persoon was die bekende Gamaliël (Handelinge 5:34). Hy was die man wat Paulus onderrig het.

Toe Jesus geleef het, was die Raad se jurisdiksie beperk tot Judea. Die invloed van die Raad is egter ook in Galilea en selfs Damaskus gevoel. So lees ons dat Saulus bekendstellingsbriewe van die hoëpriester aan die sinagoges in Damaskus gehad het toe hy daarheen gegaan het om aanhangers van die leer van die Here … gevange te neem (Handelinge 9:2). Die Raad het as arbiter opgetree as daar onenigheid was oor die interpretasie van die Joodse wet. Die Raad se besluit was finaal. Teen Jesus en Stefanus was die aanklag dat hulle dwaalleer verkondig het. Die Raad het sy eie “geregsdienaars” gehad wat mense kon arresteer.

Dit is onseker of die Raad die mag gehad het om die doodsvonnis uit te spreek en te voltrek. In die geval van Jesus moes sy saak na Pilatus verwys word, want slegs hy kon die doodsvonnis voltrek. In die geval van Stefanus is hy egter gestenig sonder dat ons lees dat sy saak na die Romeinse owerheid verwys is.

Die Raad se formele prosedures het voorsiening gemaak vir ‘n regverdige verhoor – ten spyte van al die onreëlmatighede tydens Jesus se verhoor. In die Misjna lees ons van sekere riglyne. Die lede het in halfmaanvormige rye gesit soda hulle mekaar kon sien. Twee klerke het op die punte van die rye gesit. Hulle het notas geneem en die stemme getel en neergeskryf. Daar was drie rye studente (dissipels van belangrike skrifgeleerdes) wat met hulle gesigte na die Raad gesit het. Die beskuldigde het voor die Raad gestaan. Hy het ‘n swart kleed gedra en sy hare was deurmekaar – tekens van nederigheid. Na sy ondervraging is hy verskoon en die besprekings was privaat.

Indien die persoon van ‘n halsmisdaad aangekla word, het die verdediging eerste sy saak gestel en eers daarna is die beskuldigings gemaak. Studente kon net vir, maar nooit teen die beskuldigde praat nie. Tydens die stemming moes lede opstaan om te stem. Daar is altyd by die jongste lid begin. Die beskuldigde kon met ‘n meerderheid van ‘n enkel stem vrygestel word. As hy egter skuldig bevind word, moed die meerderheid twee stemme gewees het.

In gevalle waar die doodstraf nie ter sprake was nie, was die verhoor tydens die dag en die vonnis kon enige tyd uitgereik word. In gevalle waar die doodstraf wel ter sprake was, moes die verhoor en die uitspraak gedurende die dag geskied. In hierdie gevalle is die vonnis vir ‘n dag uitgestel, maar nadat die vonnis uitgespreek is, het die teregstelling onmiddellik plaasgevind. Hierdie verhore mag dus nooit die dag voor die Sabbat of ‘n feesdag plaasgevind het nie.


Bibliografie 

David A. Silva (2004): An Introduction to the New Testament. Inter-Varsity Press

Philip W. Comfort en Walter A. Ewell (2001): Tyndale Bible Dictionary. Tyndale House Publishers

 

Skrywer: Dr Coen Slabber

image_pdfimage_print