Die kanon in die Middeleeue
Occasions make not a man fail, but they show what the man is – Thomas â Kempis
Die kanon in die Middeleeue
Vir meer as ‘n millennium dien die Latynse Vulgaat as die amptelike Bybel van die kerk. Nou vind daar egter twee ontwikkelinge plaas:
- Die Rooms-Katolieke kerk besit absolute gesag – selfs groter as dié van die Skrif. Die Rooms-Katolieke kerk kon dus die kanon bepaal. Omdat die Rooms-Katolieke kerk die kanon gedefinieer het, moet alle Christene die kanon aanvaar. Hierdie kanon bestaan uit die Ou Testament met apokriewe en die Nuwe Testament.
- Die ontwikkeling van die humanisme. Ons moenie hierdie beweging verwar met die sekulêrevan die 20 en 21ste eeu nie – hierdie latere beweging was grootliks anti-Christen. Die humanisme van die 14, 15 en 16de eeu was primêr ‘n kulturele en opvoedkundige beweging wat veral welsprekendheid bevorder het. Dit is ‘n uitvloeisel van die Italiaanse Renaissance en het gou na die noorde van Europa versprei. Hierdie beweging was nie anti-Christen nie en is deur leiers van die kerk aanvaar. Hulle leuse was: ad fontes (= terug na die bronne). Vir die kerk beteken dit terug na die Hebreeuse Ou Testament, die Griekse Nuwe Testament en die werk van die vroeë kerk. Dit lei tot verskeie ontwikkelings en vrae:
- Die verskil tussen die Hebreeuse Bybel en die Latynse Vulgaat. Die vraag oor watter een as bron gebruik moet word, kom weer na vore.
- Hieronimus se ou onderskeiding tussen kanoniek en apokrief kom na vore. Hy het geglo dat die apokriewe gebruik kan word vir geestelike opbou, maar nie vir die ontwikkeling van die kerk se leer nie. Augustinus het hierdie onderskeid verwerp. Daarom het die kerk sekere dinge geglo en gepraktiseer op gesag van die apokriewe. Voorbeelde hiervan is die vaevuur en bid vir die afgestorwenes waarvoor die primêre bron 1 Makkabeërs 12:38 – 45 was. Die vraag is gevra of die kerk nog hierdie leerstellings kan gebruik of mag slegs die kanonieke Skrif gebruik word.
- Op sekere plekke blyk dit dat die Latynse Vulgaat ‘n swak vertaling van die oorspronklike Griekse Nuwe Testament was. Die probleem was dat sekere van die kerk se leerstellings op hierdie gedeeltes gebaseer was. Byvoorbeeld: die Vulgaat vertaal Matteus 4:17 met doen boete, want die koninkryk van die hemel het naby gekom. Dit is die Bybelse fondament vir die sakrament van boetedoening – ‘n manier om God se genade te ontvang nadat jy gesondig het deur te bid, vir die armes te gee, afstand te doen van sekere fisiese plesier, ens. Erasmus, ‘n leier onder die humaniste, sê egter dat die korrekte vertaling moet wees: Bekeer julle. Hierdie is ‘n oproep vir ‘n innerlike hartsverandering en nie ‘n uitwendige praktyk wat deur die kerk afgedwing word nie. Vraag: Moet die kerk sy leer op die swak vertaalde Vulgaat of op die Griekse Nuwe Testament baseer.
Volgende keer kyk ons wat het tydens die Hervorming en daarna gebeur.