Die kerk bid
There is no shame in not knowing, the shame lies in not finding out” – Russiese spreekwoord
Die kerk bid
Lukas en Handelinge is beide deur Lukas geskryf. J. D. Greear sê die twee boeke is soos ‘n hand en ‘n handskoen. In Lukas sien ons die vorm van God se hand in die persoon van Jesus. In Handelinge sien ons die onsigbare hand – die Heilige Gees – wat die kerk vul. Die onderrig van Jesus in die evangelie word ondervind en toegepas in Handelinge.
‘n Goeie voorbeeld is die kerk wat bid. Wat Jesus in die evangelie oor volgehoue gebed leer, sien ons in Handelinge in aksie wanneer Petrus gevange geneem word. In Handelinge 12 sien ons die kerk in gebed. Daar is veral drie belangrike aspekte wat ons moet raaksien.
- Waaroor hulle bang was, het hulle met God oor gepraat
Toe Petrus gevange geneem is, dra die gemeente sy bekommernisse aan God oor. Herodes het pas vir Jakobus, die leier van die vroeë kerk, met die swaard laat doodmaak. Dit lyk asof Petrus volgende aan die beurt sou kom. Die situasie is ernstig; Petrus se vriende is met reg bekommerd, want dit is sy toekoms, maar ook die toekoms van die gemeente wat op die spel is. Daarom praat hulle met God.
Wat doen ons as ons bekommerd, bang of ontsteld is? Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon (Psalm 4:9). As ons die praktyk van bid ontwikkel, sal dit vir ons ongelooflike rus gee, want ons weet ons gebede word gehoor deur Hom wat die heelal beheer. Bid; gaan lê; slaap.
- Gebruik bid soos kommunikasie tydens ‘n oorlog
Dwarsdeur Handelinge kry ons dat die kerk nie net vir vrede bid nie, maar ook oor hulle sending. John Piper sê: “Prayer is primarily a wartime walkie-talkie for the mission of the church as it advances against the powers of darkness and unbelief. It is not surprising that prayer malfunctions when we try to make it a domestic intercom to call upstairs for more comforts in the den…Until you know that life is war, you cannot know what prayer is for: Prayer is for the accomplishment of a wartime mission.” Hierdie soort gebed weet daar is dinge in die wêreld wat verkeerd is; hierdie soort gebed kom in opstand teen die status quo. Hulle weet dat God se plan is dat die kerk die evangelie tot aan die eindes van die wêreld moet versprei – ten spyte van al Herodes se planne. Hulle het nie geweet of Petrus gaan leef of sterf nie, maar hulle het geweet dat God nie sy plan sal laat vaar nie. Daarom bid hulle, want hulle weet dat gebed situasies verander – dat gebed die arm van Hom wat die wêreld beweeg, beweeg.
- Hulle het aangehou soos die weduwee in Lukas 18
Hierdie weduwee het die regter herhaaldelik kom vra dat reg aan haar moet geskied. Die regter geen nie om vir haar nie, maar om van haar ontslae te raak, hoor hy haar saak aan. Jesus sê dat dit is hoe ons moet bid – aanhoudend sonder om moedeloos te word. Die vroeë kerk het hierdie boodskap gehoor. Hulle bid aanhoudend. Toe God uiteindelik hulle gebede verhoor en Petrus uit die tronk kom, gaan hy na Maria se huis – waar baie gelowiges saam was om te bid. Hulle klop aan God se deur.
Soms antwoord God nie ons spesifieke versoeke nie. Paulus bid drie maal dat God tog die doring uit sy vlees sal verwyder – en God sê vir hom dat hy moet ophou vra. Dit kan gebeur, maar gewoonlik hou ons te gou op met ons gebede. Maar Jesus het vir ons gesê dat ons moet aanhou vra. As die kerk so bid, gebeur daar dinge. Tronkdeure gaan oop; duisende mense kom tot geloof. Dit gebeur nie as gevolg van die inwoners se vaardighede of beplanning nie. Dit gebeur as gevolg van gebed.
“The one concern of the devil is to keep the saints from prayer. He fears nothing from prayerless studies, prayerless work, prayerless religion. He laughs at our toil, mocks at our wisdom, but trembles when we pray… Prayer turns ordinary mortals into men of power…It brings fire. It brings rain. It brings life. It brings God. There is no power like that of prevailing prayer.” ~Samuel Chadwick