Die kerk vandag (1)

 

The only person who dares wake up a king at 3:00 AM for a glass of water is a child. We have that kind of access. —Tim Keller

 

Die kerk vandag (1)

Daar het onlangs ‘n goeie boek van Jared C. Wilson – The Prodigal Church –  verskyn. [Prodigal = verkwistend, luuks, uitspattig] In hierdie boek kyk hy na die manier waarop ons vandag kerk “doen.” Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Almal van ons het sekere voorkeure en vooroordele – ook oor die kerk. Ons moet dit gereeld uitdaag. Die kerk in die Weste gaan deur gereelde siklusse. Die huidige geslag is in opstand teen die waardes en instellings van die geslag voor hulle. Ons kan nie sê dat die tradisionele kerk altyd vervelig en wetties is nie. Ons kan ook nie sê dat die kontemporêre kerk altyd oppervlakkig en wêrelds is nie. Hoe ons kerk doen, is belangruik, want dit is hoe mense God en Jesus Christus sien. Daarom moet ons voordurend evalueer wat ons in die kerk doen.

 

Ons moet gedurig vrae vra. Hoe is dit vantevore gedoen? Was dit ‘n sukses? Watter veranderinge, indien enige, is nodig? Die slegste argument vir tradisie is dat dit is hoe dit nog altyd gedoen is. Baie goeie dinge word nooit gedoen nie, want invloedryke persone in die kerk het beswaar gemaak omdat dit nuut was. Ons word maklik vasgevang in ‘n manier van doen en luister nie meer na vrae en besware nie. Ons moet altyd onthou dat die nuwe manier metterrtyd die ou manier word. Laat ons toe dat mense sê watter manier van doen volgens hulle die beste is? Of is jy onmiddellik op die verdediging as iemand net iets vra.

 

In Markus 8 lees ons van Jesus wat sewe brode vermeerder het om 4 000 mense mee te voed.  Daarna klim Jesus saam met sy dissipels in die skuit en vaar weg. Intussen het die dissipels agtergekom dat hulle vergeet het om brood saam te neem. Hulle het pas gesien hoe Jesus sewe brode vermeerder, maar hulle is bekommerd omdat hulle net een brood by hulle in die skuit gehad het. Jesus waarsku hulle: Pas op, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes. Die dissipels verstaan dit nie.

 

Waarna verwys die suurdeeg van die Fariseërs? Jesus waarsku hulle hier teen selfgeregtigheid en wettisisme. Dit kan baie subtiel wees. Die suurdeeg van Herodes verwys na die wêreldse dinge. Die Fariseërs was baie godsdienstig; Herodes nie.  Die Fariseërs was baie wetties ; Herodes was sedeloos. Hier het ons twee uiterstes. Ons vind dat die geestelike pendulum gereeld tussen hierdie twee uiterstes swaai.

 

Jesus waarsku ons om vir beide van hierdie uiterstes op ons hoede te wees. Die een is nie ‘n teenmiddel van die ander nie; ons kan nie die een ontsnap deur na die ander te vlug nie. ‘n Bietjie suurdeeg deurtrek die hele deeg (Galasiërs 5:9). Jesus sê dat ons vir die brood van die Fariseërs en Herodes moet oppas. Ons moet ons brood by Hom kry, want Hy is die brood van die lewe.

 

Watter implikasies het dit vir die manier hoe ons kerk doen? Is dit moontlik dat die manier waarop ons die brood van die lewe kommunikeer deur hierdie suurdeeg gekontamineer is? Hulle hoort nie daar nie, maar goeie bedoelings beteken nie dat die moontlikheid nie daar is nie.

 

Ons moet baie vrae vra? Ons moet gereeld evalueer. Wat daarvan as dit wat ons doen nie dit is wat ons veronderstel is om te doen nie?