Die kerk vandag (3)
Religious people find God useful. Christians find God beautiful. – Tim Keller
Die kerk vandag (3)
Daar het onlangs ‘n goeie boek van Jared C. Wilson – The Prodigal Church – verskyn. [Prodigal = verkwistend, luuks, uitspattig] In hierdie boek kyk hy na die manier waarop ons vandag kerk “doen.” Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.
As gelowiges God aanbid, kommunikeer dit aan die verlore wêreld wie God is en wat Hy gedoen het. Die probleem is dat aanbidding vandag dikwels meer op die gemeente se gevoel van opwinding en betrokkenheid gerig is as op die verheerliking van God. As die doel van ons aanbidding is om goed te voel, aanbid ons nie meer vir God nie.
Dit is nie net die fokus van aanbidding wat belangrrik is nie, maar ook die resultate. Navorsing wys vir ons dat hierdie kerke nie hulle teikenmark – kerklos mense – bereik nie. Dit is duidelik dat die onvermoë om kerklos mense te bereik nie met aanbiddingstegnieke of –styl te doen het nie. Die ironie is dat die aantal megakerke toeneem en hulle bywoning vermeerder, maar die mense wat elke Sondag oor die land eredienste bywoon, neem af.
Wie vul hierdie kerke? Christene. Soms is dit Christene wat in ander gemeentes ontnugter is of wat ontevrede is. Meestal is dit Christene wat verveeld is met die dienste en goedere in die een gemeente wat na ‘n ander een trek – ‘n gemeente met aantrekliker aanbidding, meer dinamiese prediking, mooier en beter fasiliteite, beter koffie, beter kinderbediening … Na ses jaar is hulle weer ontevrede en skuif weer. Die retensiesyfer is laag. Dat hierdie gemeentes kerklos mense trek, is ‘n mite. Die hele paradigma is een van onsekerheid.
Om getalle te tel, is nie genoeg nie. As die getalle hoog is, beteken dit nie dat ons doen wat die Bybel van die gemeente verwag nie. Meeste mense wat na hierdie kerke kom, is reeds gelowiges, bly net vir ‘n kort rukkie en word nie doeltreffend op die pad van geestelike groei gelei nie. Getalle is nie die primêre instrument wat die Bybel gebruik om die getrouheid van die gemeente te meet nie.
Groot gemeentes sit baie geld, energie en tyd in hulle strukture. Vraag: Is dit nie dalk ‘n vermorsing van hulpbronne nie? ‘n Gemeente kan die voorkoms van sukses hê en tog nie suksesvol wees nie; hy kan die voorkoms van lewe hê en tog dood wees. Ons sê altyd dat gesonde dinge groei, maar kanker groei ook. ‘n Gemeente kan groot en suksesvol lyk, sonder om groot en suksesvol te wees in daardie sake wat regtig saakmaak. Gemeentes kan toeneem in getalle en agteruitgaan in gesondheid. Dit gaan nie oor die grootte van gemeentes nie, maar oor die ongesonde obsessie met getalle.
In baie van hierdie groot gemeentes is daar baie vrywilligers betrokke by die eredienste oor die naweke. Vrywilligers voel asof hulle maar net nog ‘n rat in die wiel is. As dit hulle totale betrokkenheid by die gemeente is, kry hulle beslis nie die voeding wat hulle nodig het om geestelik te groei nie. Vra hulle vir versorging, word daar gesê dat hulle onvolwasse is. Die neiging is om lidmate nie as skape wat voeding nodig het te hanteer nie, maar eerder as osse wat ‘n vrag het wat hulle moet trek. Natuurlik moet lidmate tot die bediening in die gemeente bydra.
Is dit wat ons in en deur ons gemeente doen dit wat God gedoen wil hê? Is dit wat die Skrif ons leer? ‘n Gemeente kan groot en opwindend wees en tog nie doen wat God van hulle verwag nie. Ons kan die voorkoms van sukses met getrouheid en vrugbaarheid verwar.