Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Jesus se gelykenisse (1)

The surest way to corrupt a youth is to instruct him to hold in higher esteem those who think alike than those who think differently. -Friedrich Nietzsche, filosoof (1844-1900)

Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Jesus se gelykenisse (1)

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012.

 

Jesus se gelykenisse hou dikwels verband met die koninkryk van God. Kom ons kyk kortliks na ‘n paar van hulle:

  • Die gelykenis van die saaier. Koninkryk is die middelpunt van hierdie gelykenis (13:1 – 9),  Jesus se gesprek met sy dissipels (13:10 – 17) en die verklaring (13:18 – 23). Jesus beskryf kennis van die koninkryk as ‘n gawe van God: Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie (13:11). God se inisiatief staan agter die mens se toe-eiening van die tyding van die koninkryk. Jesus beskryf sy verlossingsboodskap as die woord van die koninkryk (13:19). In hierdie gelykenis is dit wat van belang is die koninkryk en die mens se verhouding daarmee.
  • Die gelykenis van die onkruid tussen die koring. Hier word die koninkryk as die hele wêreld geskilder.  Die goeie saad is die mense van die koninkryk en die onkruid is die aanhangers van die Bose (13:38). Aan die einde volg die oes waartydens die goeie en slegte mense hulle beloning sal kry: Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree, en sal hulle in die brandende oond gooi (13:41 – 42). Die goeie koring is die gelowiges in die koninkryk van die Vader wat soos die son sal skitter(13:43). As Jesus hierdie gelykenis afsluit met:Wie ore het moet luister, het Hy sy koninkryksboodskap in gedagte.
  • Die gelykenis van die mosterdsaadjie. Hier tref Jesus ‘n vergelyking tussen ‘n klein saadjie en die koninkryk van die hemel. Ten spyte daarvan dat die saadjie klein begin, neem dit mettertyd groot afmetings aan (13:31 – 32).
  • Die gelykenis van die suurdeeg. ‘n Vrou werk suurdeeg in ‘n groot skottel meel in totdat dit heeltemal deursuur is (13:33). Die vooruitgang van die koninkryk is geleidelik – ‘n mens kom dit nie eers agter nie. Aan die einde het dit ‘n groot effek.
  • Die gelykenis van die versteekte skat (13:44). Die koninkryk word vergelyk met ‘n skat wat in ‘n saailand onder die grond lê. ‘n Man ontdek dit, maar maak dit weer toe. Hygaan verkoop alles wat hy het en hy koop daardie land. Die koninkryk is alles  wat ‘n mens het, werd – jy moet alles moontlik doen om dit in die hande te kry.
  • Die gelykenis van die goeie pêrel. Hier verkoop ‘n handelaar alles wat hy het om die gesogte pêrel te koop. Die koninkryk is soos die pêrel – niks is van groter waarde nie.
  • Die gelykenis van die treknet (13:47 – 50). Die koninkryk is soos ‘n treknet wat in die see gegooi word en waarin allerhande soorte vis gevang word. Nou word die vis gesorteer:die goeie vis word in mandjies bymekaar gemaak, maar die onbruikbares word weggegooi. Aan die voleinding van die wêreld sal die engele kom en die slegtes van die goeie skei. Die slegtes word in die brandende oond gegooi.

 

Aan die einde van hierdie reeks gelykenisse gaan Jesus eers ander onderwerpe hanteer. Hy vra egter vir sy dissipels: Verstaan julle al hierdie dinge? (13:51). Hy vergelyk hulle met ‘n skrifgeleerde  wat gereed is vir die werklikhede van die koninkryk: So is elke skrifgeleerde wat ‘n leerling word van die koninkryk van die hemel, soos ‘n huiseienaar wat uit sy voorraad nuwe en ou dinge te voorskyn bring (13:52). Die koninkryk gaan nie net oor ou of nuwe dinge nie – ons kan nie net op die verlede of op die toekoms fikseer nie. Betrokkenheid by die koninkryk vereis onderskeidingsvermoë, kreatiwiteit en waagmoed.