Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Matteus (1)
God’s heart, not mine, is the measure of his giving; not my capacity to receive, but his capacity to give. —C.H. Spurgeon
Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Matteus (1)
Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012.
In Matteus word van die Ou Testamentiese beloftes oor die koninkryk vervul. Kom ons kyk na enkele waarnemings:
1.Koninklike verwysings dien as raamwerk vir die hele evangelie
Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham – so begin die evangelie. Hier is twee koninklike weerklanke:
- Die seun van Dawid. Die huis en troon van Dawid vorm die raamwerk vir die vervulling van die profetiese beloftes.
- Jesus Christus. Christus beteken Messias of koning. Die woord christos (Christus) hou verband met die seremonie om ‘n koning te salf vir sy amp. Dit verwys ook na God se goedkeuring. Na die geslagsregister lees ons: Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus (1:18) – weer ‘n verwysing na Jesus as koning.
Goddelike ingryping en teenwoordigheid is onmiddellik duidelik. Maria word swanger … wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees (1:20). Jesus word dus reeds in die eerste hoofstuk van Matteus as draer van God se koninkryk geïdentifiseer. Gepas dat Jesus se laaste woorde aan sy dissipels in hierdie evangelie is: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op aarde (28:18). Natuurlik is dit so: Jesus is die koning gestuur deur God om sy heerskappy oor en in hierdie wêreld uit te brei. Jesus is ‘n koninklike figuur in Matteus – van begin tot die einde.
‘n Tweede waarneming is hierdie evangelie is dat koninkryk die sentrale motief in die prediking van Johannes die Doper en Jesus is. Daarna kyk ons volgende keer.