Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Matteus (4)

“In the secular view, suffering is never seen as a meaningful part of life but only as an interruption.”  – Tim Keller

Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Matteus (4)

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012.

 Vandag kyk ons na die vyfde waarneming oor die koninkryk in die Matteus-evangelie.

 5.Die koninkryk staan sentraal in Jesus se bergrede.

Jesus se oriëntasie teenoor die koninkryk verminder nie na die seënuitsprake nie.

 

  • Jesus waarsku: Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie (5:17). Enigeen wat die openbaring van God aan Israel verskraal, word deur Jesus tereggewys. Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel (5:19). Later gaan Jesus verder. Hy beskuldig die skrifgeleerdes en Fariseërs dat hulle die gebod van God verontagsaam ter wille van hulle oorgelewerde gebruike (15:1 – 9). Jesus waarsku sy dissipels dat as julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie (5:20).
  • Jesus se oriëntasie ten opsigte van die koninkryk word voortgesit in die gebed wat Hy vir sy dissipels leer: Laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel (6:10). Implisiet in Jesus se gebed, en al die gebede van gelowiges, is erkenning van God se heerskappy – die hunkering om dit te sien. Ons moet verstaan dat sy heerskappy beteken dat sy wil gedoen word op aarde net soos ons weet dit in die hemel gedoen word. Bewustheid van die koninkryk is deel van die doeltreffendheid van ons gebede.
  • Lewe vir ons op aarde is vol ellende en onsekerheid. Dit is maklik om bevrees te word. In die bergrede vra Jesus vir perspektief. Jesus verwys na die wilde voëls en veldlelies om te wys dat God dinge onderhou (6;26 – 28). En dan die vraag: Is julle nie baie meer werd as hulle nie? In plaas van vrees en angs moet ons tevrede wees: Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het (6:32). Maar hy gee ook raad: Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle al hierdie dinge gee (6:33).
  • Die koninkryk staan sentraal in die hoogtepunt van die bergrede. In die eindgedeelte van die bergrede beskryf Matteus die ontwykendheid van die koninkryk. In 7:13 – 14 verwys Hy na ingaan deur die nou poort (koninkryk word nie spesifiek hier genoem nie) en dan weer in 7:21: Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sê dat hulle burgers van God se koninkryk is, maar net diegene wat aan die voorwaardes voldoen, sal ingaan.

 Die klem op die koninkryk dwarsdeur die bergrede  verklaar die mense se verbasing aan die einde van sy onderrig … want Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie (7:28 – 29).

 Volgende keer kyk ons na verdere waarnemings oor die koninkryk van God in die Matteus-evangelie.