Die Kruis-en-die-Kroon(1)

Die Kruis-en-die-Kroon Deel 1

VROEGSTE BETEKENISSE

Die kruis is seker vandag die bekendste van die simbole wat Christene gebruik.  Anders as wat ons dalk mag dink, was die kruis nie van vroeg af as simbool benut nie.

Die vroeë Christene wou nie die kruis gebruik om hulle identiteit aan te dui nie omdat dit vir die antieke mense ‘n groot skande was om aan ‘n kruis te sterf, byna soos ons vandag oor die galgdood dink.  En Christene het besef dat die kruis as simbool van hulle geloof maklik verkeerd verstaan kon word.  Die vroegste Christene is ook swaar vervolg vir hulle geloof, en wou seker nie herinner word aan hulle Saligmaker se gewelddadige vervolging en kruisdood nie.  Daarom vind ‘n mens die eerste tekens van die kruis as simbool in kerke en by begraafplase eers vanaf die vierde eeu.  Nou het die Romeinse staat die Kerk amptelik erken as wettige godsdiens en die vervolging van Christene is gestaak.   En Christene kon die kruis gebruik om hulleself te herinner aan wat hulle Heiland vir hulle gedoen het.

Die Griekse en Latynse woorde vir ‘kroon’ kan ook met ‘krans’ vertaal word.  Die krans het by die antieke mens ‘n belangrike rol gespeel.  Hulle het geglo dat as jy ‘n krans van ‘n jong boom se takke vleg, die lewenskrag van die plantsap op jou oorgaan.  En as jy so ‘n kransie in jou huis of by waterbronne ophang, weer dit die bose geeste af.  Hulle het ook kranse op hulle plaasdiere se koppe geplaas om vrugbaarheid te verbeter, en selfs op grafte om te verseker dat die dooies rus en vrede kon hê.  Ook bruidspare het sulke kranse gedra om die bose af te weer en vrugbaarheid te verseker.  Vandag nog dra bruide kranse, en hang mense kranse tydens Kersfees aan hulle deure op!  Dié gebruike het kerkleiers van die vroeë Kerk genoop om lidmate te ontmoedig om aan sulke gebruike deel te neem.

Ook wanneer vegtende soldate van die front terugkom, is daar lourierkranse om hulle nekke gehang.  Aanvanklik was die bedoeling dat die krans hulle van hulle bloedskuld sou reinig, maar later het dit die betekenis gekry dat hulle oorwin het.  Mettertyd het die gebruik ontstaan om aan die oorwinnaar in sport ook ‘n lourierkrans om te hang.  Dink hier aan 1 Korintiërs 9:24 en 2 Timoteus 4:8 wat na so ‘n krans verwys.

Die vroeë Christene het geglo dat martelare ook ‘n kroon sou ontvang omdat hulle in die aardse stryd hulle lewe verloor het.  Die vroeë Kerk het ook begin praat van die kroon wat die bruid dra, en dat die Kerk die bruid van Jesus Christus is.  Mettertyd het die kerkleiers begin preek dat aardse bruide ook ‘n kroon mag opsit, maar slegs as hulle maagde is, omdat die kroon aandui dat hulle die stryd teen immoraliteit gewen het.

Krone is ook met konings geassosieer.  Dink aan koning Dawid se kroon wat nie minder nie as 34 kilogram geweeg het (1 Kronieke 20:2)!  Die kroon as simbool het ook vir vroeë Christene herinner aan die Koningskap van Jesus.

En dan die bekendste kroon wat die een was wat die soldate uit dorings gevleg en op Jesus se kop geplaas het.  Die doringkrans is deur die eeue gebruik as simbool van Jesus se lyding, terwyl die kroon gedien het as uitbeelding van sy koningskap.

Teen die einde van die vierde eeu tref ‘n mens vir die eerste keer ‘n kombinasie van die simbole van kruis en kroon aan, en dan in verband met die wederkoms.  Die beeld kom in verskillende variasies voor.  ‘n Leë troon kom voor saam met ‘n kruis en ‘n kroon, en soms ook ‘n boekrol, lam, duif of Christusmonogram.  Die bedoeling van die gekombineerde simbool is tweevoudig: die stoel is leeg omdat Christus tussen die kruis en kroon is maar gou weer gaan kom, en die leë troon dui aan dat Hy hier en nou tussen ons teenwoordig is, al is dit op onsigbare wyse.

 

MEER MODERNE TYE

‘n Herlewing breek in die agtiende eeu in Amerika en Europa uit, deels as gevolg van die werk van die Wesley-broers, George Whitefield en Jonathan Edwards.  Dit word die Eerste Evangeliese Ontwaking genoem.  ‘n Eeu later lei Charles Finney, Dwight L Moodie en R A Torrey se werk tot die Tweede Evangeliese Ontwaking.  Teen die tweede helfte van die negentiende eeu beklemtoon leiers in hierdie herlewingsbeweging al meer die belangrikheid van heiligheid, en verwys na die ervaring dat ‘n mens onmiddellik of geleidelik geheilig word, as die doping met die Gees.  Die sterk klem lei tot wat vandag die heiligheidsbeweging genoem word, en wat tot die ontstaan van talle kerke en ander groepe lei.  Die heiligheidsbeweging beklemtoon bekering as ‘n krisiservaring wat die begin van die Christelike lewe aandui; heiliging as ‘n tweede genadewerk wat lewensveranderend van aard is; goddelike genesing; en premillenialisme.

 

Skrywer: Dr Marius Nel