Die Laaste Avondmaal
(Midrash Rabbah 2:8)
Die Laaste Avondmaal
In 1977 kry Pinin Barcilon die opdrag van ‘n lewe – sy moes die restourasie van Leonardo da Vinci se Laaste Avondmaal lei. Hierdie taak sou haar 23 jaar lank besig hou. Da Vinci het hierdie skildery in 1498 op die muur van ‘n klooster in Milaan geskilder.
Hy was altyd besig om te eksperimenteer en hier gebruik hy ‘n nuwe formule vir sy verf. Hierdie verf het reeds voor sy dood begin afskilfer.
Al het die mense dit as ‘n meesterstuk beskou, is geen poging aangewend om dit teen besoedeling en humiditeit te beskerm nie. Toe Barcilon haar werk begin, het vyf eeue se stof, skimmel en roet die werk amper onherkenbaar verdonker. Die grootste uitdaging was egter om die vorige rampspoedige pogings om die werk te restoureer, ongedaan te maak. Lae vernis, gom en was is gebruik en elke poging maak die skildery net donkerder. Nog erger: amateurs het oor da Vinci se werk geverf. Die beelde was verwronge, detail is uitgeverf, want die amateurs het dit nie verstaan nie en hulle het hulle verbeelding gebruik om sogenaamde “gapings” in te vul.
Die kern van die toneel het nie verander nie. Da Vinci se skildery wys steeds die toneel nadat Jesus gesê het dat een van sy dissipels Hom binnekort sou verraai. Die restourasie het wel die oorspronklike skoonheid van die kunstenaar se meesterstuk uitgebring – die gesigsuitdrukkingS en liggaamstaal van Jesus en sy dissipels.
Net soos Barcillon da Vinci se oorspronklike meesterstuk blootgelê het, het ons nuwe instrumente ontwikkel om die beeld van Jesus wat die evangelieskrywers eerste vir ons gegee het, bloot te lê. Ons dink aan argeologie, die ontdekking van antieke tekste, ens. Is dit nie tyd om al die aanpaksel van die evangelie te verwyder en weer nuut en met bewondering na die evangelie te kyk nie.