Die lydende dienaar van die Here (53:1-9) – Francois Malan
Die vierde ‘dienaar van die Here’ gedeelte in Jesaja word hier voortgesit uit 52:13-15, met die klem op sy plaasvervangende lyding.
53:1 Die vernedering wat ‘n verhoging word, openbaar God se mag (sy arm) wat die onverwagte nuwe lewe bewerk. Die twee retoriese vrae is ‘n oproep tot geloof en vertroue in God, die geloofspad wat nie die gewone verloop van sake in die wêreld volg nie (Ps 24:14 wag/vertrou op die Here!). Die antwoord op die twee vrae is: niemand sal dit glo of sien in die onaansienlike dienaar van die Here nie, wat in 52:13-15 geskilder is.
53:2-3 Die lewe van die dienaar van die Here word beskryf, van sy geboorte in vers 2 tot sy dood in vers 9. Sy geboorte was nie ‘n aanskoulike begin nie: uit droë grond, geen vorm, geen heerlikheid, niks om te bewonder of van waarde nie. ‘n Verworpene, nie waardeer nie, moontlik verstoot, miskien misvorm, iemand van wie niks verwag is nie. Iemand van geen belang nie. Daarby iemand wat in pyn en siekte lewe. Maar hy is soos ‘n loot wat voor die Here uitspruit (11:1) en ‘n wortel uit droë grond – soos die wonder van lewe in die natuur, van die koringkorrel wat sterf om ’n groot oes te lewer (Joh 12:24). Alle lewe in die hele skepping kom van die Here, ook die loot wat voor die Here uitspruit.
53:4-6 Ten spyte van sy verwerping deur die mense geskied ‘n wonder van God. Hierdie gestremde geïgnoreerde veragte dienaar neem op homself die gestremdhede en die siektes, die lyding as gevolg van sonde, die straf op sondes. Hy word gewond, gepynig, gestraf – en ‘ons’ word genees! Die gedig sê nie hoe dit gebeur of moontlik is dat een vir ander kan ly nie, maar dit is die kern van die verlossing deur die Here. In sy selfverloënende liefde neem die dienaar van die Here die straf en smet van die sonde van die wêreld op hom (Rom 5:8). Die Here het al ons sonde op sy dienaar laat afkom. Die digter-profeet bied sy belydenis en erkenning met verbystering daaroor aan.
Die wonder van die genesing is in ver 6 verbind aan die belydenis van sonde: ‘Ons’ (7x met klem en persoonlik; in Hebreeus 12x ‘ons’ in die drie verse) was eiesinning, weerspannig, soos dom onverskillige skape wat van die regte weiding af gewei het, sonder om na die herder te luister; so het ons afgedwaal in die gevaar in. En die dienaar het verantwoording gedoen vir ons dwaling en sonde. Die verse praat telkens van ons. Dit is nie koue objektiewe stellings nie, maar die stem van hulle wat genees is en wat nou eers insien dat ons gedwaal het, verbyster oor die verlossing en van harte dankbaar. Dit geld eintlik vir alle mense wat die vloei van heling en verlossing, wat deur lyding bewerk word, heelhartig aanvaar. Daarby is die lewe en lyding van die dienaar nie slegs vir enkelinge nie, maar vir die hele gemeenskap – vir ons, in ons plek. Hierdie is ‘n diepe Joodse erkenning van hoe God met lyding sy doel met ons bereik. Deur sy Seun se lyding is ons oorgeplaas in die misterie van die nuwe lewe in Christus, en as ons saam met Hom ly, sal ons ook saam met Hom verheerlik kan word (Rom 8:17). So is Israel in die lyding van die baliingskap dienaar van die Here; Jesus die vervulling van die rol van die dienaar, en elke gelowige word deel van die lyding van Christus, die dienaar van die Here, deurdat Hy in ons kom woon het en saam met ons ly (Rom 8:17; in ons ly, Mat 25:15-40).
53:7-9 Die lewe en dood van die dienaar is ‘n vertoonstuk van hoe egte reg verdraai word. Deur ‘n verdraaiing van die reg is hy onregverdig weggeneem – hy het geen geweldsmisdaad gepleeg nie en daar was geen bedrog op sy lippe nie (v9). Hy was onskuldig en moes geen straf gekry het nie, die een wat onregverdig ly, soos die Psalms telkens sing. Die uiterste vernedering is dat hy tussen goddeloses begrawe is, tussen die rykes – wat woeker deur ander te misbruik. Voor die wêreld word sulke rykes geëer, maar hulle is inderwaarheid goddeloos.
In die hof waar hy verkeerdelik beskuldig is, verkeerd gevonnis is, verkeerd tereggestel is, het hy geen protes aangeteken nie en geen verdediging aangebied nie – hy het sy mond nie oopgemaak nie, soos ‘n skaap wat geskeer word of na die slagplek gelei word (v7). Stil en onderwope ontvang hy wat aan hom toegeken word, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Jn 1:29), word onregverdig weggeneem. Hy gee sy lewe vir die lewe van ander – geen bevrediging van God se toorn nie, geen oorwinning oor die krag van die dood nie, maar slegs ‘n sagte plaasvervanger vir die straf op die sonde. So word die bose kringloop van pyn, geweld en dood deurbreek deur ‘n kwesbare lewe wat in die geweld en dood ingaan en hulle tirannie beëindig deur dit te ly.
Skrywer: Prof Francois Malan