Die mens se sondige natuur – Hermie van Zyl

Jacob vra

Boodskapteks: Die 1983-Afrikaanse Vertaling vertaal die oorspronklike vlees van die mens as die mens se sondige natuur. Die nuwe 2014-Direkte Vertaling maak nou ook so.

Die sondige natuur van die mens kom uit die kerk se belydenisskrifte.

Dit maak ook dat die bose geen funksie het nie, want die mens is in sigself boos, van nature so.

Kan dit korrek wees om so te vertaal?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die vraag gaan eintlik oor drie verskillende sake: (1) Is dit korrek om die onderliggende Griekse woord, sarks (“vlees”), met “sondige natuur” (1983-Arikaanse Vertaling [AV]) of “sondige aard” (2014-Afrikaanse Direkte Vertaling [ADV]) te vertaal? (2) Is die vertaling “sondige natuur” nie iets wat van buite (die kerk se belydenisskrifte) die Bybel ingedra word nie? (3) Wat is die verhouding tussen die mens se sondige natuur en die Bose; wie is met ander woorde verantwoordelik vir die sondige aard van die mens – net die mens self of het die Bose ook iets daarmee te doen? Ek handel agtereenvolgens oor dié drie kwessies.

  1. Die vertaling van sarks. Die 1933/53-Afrikaanse Vertaling, wat ‘n baie letterlike vertaling is, het die Griekse woord sarks bykans deurgaans met “vlees” vertaal. Die probleem is net dat sarks in die Nuwe Testament in ‘n verskeidenheid van betekenisse voorkom, byvoorbeeld “vleis”, “liggaam”, “persoon/mens”, “uiterlike lewe”, “fisiese beperkings”, “menslike natuur”, en “sondige geneigdheid”. Dis veral vir laasgenoemde twee betekenisse dat Paulus sarks gebruik, byvoorbeeld in Romeine 8:3-4, 5-9, 12-13; Galasiërs 5:16-17, 19, 24; 6:8; Efesiërs 2:3; Kolossense 2:11, 13. In al hierdie kontekste is dit uit die verband duidelik dat Paulus nie hiermee iets soos vlees (letterlik) bedoel nie, maar eerder die mens in opstand teen God. Om dus konsekwent met “vlees” te vertaal, mag dalk baie “teksgetrou” voorkom, maar eintlik word die ware betekenis so verduister. Daar moet dus ‘n ander vertalingsbegrip gesoek word om Paulus se bedoeling beter weer te gee. En dit is waarom die vertalers van die 1983-AV gekies het vir “sondige natuur” (so ook die Nuwe Lewende Vertaling) en die 2014-ADV vir amper dieselfde uitdrukking, naamlik “sondige aard”. So word die mens in sy sondige, natuurlike staat wat nie die dinge van God bedink nie, beter weergegee. Daarteenoor word die mens gestel wat deur God se Gees vernuwe is en beheer word – ‘n nuwe natuur ontvang het – en daarom nou die dinge kan bedink wat in ooreenstemming met God se wil is en tot voordeel van die mens strek (vgl Rom 8:5-6). Vertalings in die Engelse wêreld volg dieselfde weg. Waar die ou King James Version nog konsekwent met “flesh” vertaal het (soos die 1933-AV met “vlees”), volg meer resente vertalings ‘n ander weg en vertaal met terme soos “selfish nature” (Common English Bible), “old/unspiritual nature” (Revised English Bible), “human nature” (Good News Bible / Today’s English Version), en “sinful nature” (New Living Translation). Die Hollandse Willibrord Vertaling (1995) praat ook van “zondig leven”.

Daar is nóg ‘n rede waarom vertalings wegbeweeg van “vlees” as vertaling vir die Griekse sarks, en dit is dat die indruk nie geskep mag word asof die vlees of liggaamlike as sodanig teenoor die Gees gestel word nie, so asof daar iets inherent sondig aan die liggaamlike is. Die liggaam met sy natuurlike behoeftes en begeertes is nie as sodanig sondig nie; dit is immers hoe God die mens gemaak het en waarvan Hy gesê het dat dit goed is (Gen 1:31). Dit is eerder die mens in sy totaliteit (gees, siel en liggaam) wat in sonde geval het en nou die aangebore, natuurlike neiging het om nie die dinge van God te bedink nie maar slegs sy eie kop te volg. Dít is waar die sonde lê – in hierdie natuur van die mens wat in opstand is teen God – en nie in die bloot liggaamlike nie.

  1. “Sondige natuur” uit die kerk se belydenisskrifte? Ek vermoed die vraagsteller bedoel hiermee dat die gedagte van die sondige natuur van die mens oor tyd heen as algemene Christelike opvatting (op sterkte van die verstaan van die Skrif) ontwikkel het en toe sy weg gevind het in die kerk se belydenisskrifte, wat op sy beurt weer Bybelvertalings beïnvloed het. Vandaar die gedagte by die vraagsteller dat die konsep van “sondige natuur” van buite – uit die kerk se belydenisskrifte – die Skrif ingevoer is.

Dit is inderdaad so dat die taal van die kerklike belydenisse die algemene Christelike ervaring verteenwoordig (op grond van die breë verstaan van die Skrif) wat beskikbaar was ten tyde van die opstel van die belydenisskrifte. So byvoorbeeld sê die Heidelbergse Kategismus (HK), Sondag 2, Vraag en Antwoord 5, dat die mens “van nature geneig is om God en sy naaste te haat”. Die Afrikaanse vertaling van die HK volg op sy beurt die oorspronklike Duits wat eweneens van hierdie natuurlike geneigdheid van die mens praat (“denn ich bin von Natur aus geneigt, Gott und meinen Nächsten zu hassen”). Binne die Protestantse tradisie was daar dus ‘n opvatting, gegrond op die interpretasie van sekere Skrifgegewens, dat die mens ‘n verdorwe natuur het en nie anders kan as om God en sy naaste te haat nie. Die volgende Bybelgedeeltes word byvoorbeeld by hierdie Sondagafdeling van die HK (Vraag en Antwoord 5) aangegee as “bewysplase” vir die sondige geneigdheid van die mens: Rom 7:23; 8:7; Ef 2:3; Tit 3:3; Gen 6:5; 8:21. Vir die verdorwe natuur van die mens word in Vraag en Antwoord 7 van die HK weer die volgende tekste aangebied: Gen 3; Rom 5:12, 18-19; Ps 51:7; Gen 5:3. Die gangbare opvatting oor die menslike kondisie, op voetspoor van die verstaan van hierdie tekste, was dus ten tyde van die opstel van die HK dat die mens ‘n sondige natuur het.

Nou kan mens redeneer dat hierdie “sondige natuur” van die mens nie so letterlik in die Skrif voorkom nie en dat dit dus van “buite-af” die Skrif ingedra is (en later as handige vertaling van die Griekse woord sarks gedien het). Dis egter moeilik – eintlik onmoontlik – om te besluit watter van die twee gedagtes eerste was: (a) die gedagte van die sondige aard van die mens as ‘n “algemeen Christelike opvatting”, of (b) die verstaan van sekere Bybeltekste dat die mens ‘n sondige aard het. (Die gedagte van [a] sou dan ekstern tot die Bybel wees en [b] weer inherent tot die teks van die Bybel.) Feit van die saak is dat in die praktyk van sake “eksterne kennis” en Bybelinterpretasie altyd hand aan hand gaan. Ons interpreteer die Bybel vanuit ons kontekstuele kennis (“ekstern”) en dan interpreteer ons weer ons konteks vanuit ons Skrifverstaan. Dít is wat ons in die Bybelwetenskap die interpretasie- of hermeneutiese sirkel noem. Eksterne en interne kennis vorm ‘n verweefde eenheid, hulle is voortdurend in wisselwerking met mekaar en beïnvloed mekaar oor en weer, sonder dat mens bewustelik nadink oor watter van die eksterne of interne kennis eerste was of belangriker is.

Wat mens wel kan sê, is dat Skrifuitleggers vandag bewus is van hierdie “sirkelgang” van interpretasie en dat hulle voortdurend probeer om die twee prosesse te identifiseer (wát beïnvloed wát), en ook toelaat dat hulle ‘n kontrole vir mekaar vorm. Die eksterne werklikheid en lewensgevoel beïnvloed naamlik ons Skrifuitleg sodat laasgenoemde nie werklikheidsvreemd is nie. Omgekeerd is dit egter ook so dat die Skrif op sy beurt weer die eksterne werklikheid belig sodat dimensies daarvan ontdek kan word wat nie sonder meer direk uit die werklikheid afgelees kan word nie. Byvoorbeeld, die wysheid van Christus staan partymaal téénoor die wysheid van die wêreld. Dink aan die kwessie van diensbaarheid, wat so radikaal verskil tussen wat Christus hieroor sê en hoe dit in die wêreld daaraan toegaan.

Hoe dit ook al sy, wat die vertaling van sarks met “sondige natuur” betref – of dit nou oorspronklik uit die algemene Christelike lewensgevoel kom (ekstern) of as eerlike Skrifverstaan beskou moet word (intern) –  kan ons vandag sê dat die semantiek (betekenisleer) van die Nuwe Testament ons ten minste een ding geleer het, en dit is dat daar ‘n verskeidenheid van betekenisvelde is waarbinne sarks voorkom. Een van hierdie velde is die aard van die menslike natuur, naamlik dat die mens van nature neigings openbaar wat nie in ooreenstemming met God se wil is nie, ‘n siening wat ons veral by Paulus kry. En vertalers kies die uitdrukking “sondige natuur” om hierdie neiging van die mens mee te beskryf en as vertaling van sarks aan te bied. Ons beweeg dus op veilige grond met hierdie vertaling.

  1. Die verhouding tussen die mens se sondige natuur en die Bose. Dit wil voorkom uit die vraagsteller se vraag asof hy dit teen die term “sondige natuur” het omdat daarmee die werking van die Bose uitgeskakel word in die sondige toestand van die mens. Dit is mos die slang (= duiwel, die Bose) wat die vrou in die paradys verlei het en veroorsaak het dat sonde die wêreld binnegedring het, nie waar nie? Die Bose moet dus ten minste mede-aanspreeklik gehou word vir die geneigdheid tot sonde by die mens.

 Dit is egter interessant dat Paulus, wanneer hy verduidelik hoe sonde die wêreld ingekom het, nie die Bose die skuld gee nie, maar slegs die mens daarvoor verantwoordelik hou. In Romeine 5:12-21 word naamlik Adam en Christus as twee verbondshoofde teenoor mekaar gestel. Deur die ongehoorsaamheid van Adam het die sonde die wêreld ingekom en na almal uitgebrei. Adam verteenwoordig dus die mens in sy sondige toestand; “in Adam” is ons almal sondaars. Maar deur Christus se gehoorsaamheid is God se genade en vryspraak in oorvloed beskikbaar gestel aan die wêreld. Christus verteenwoordig dus die nuwe mensheid; “in Christus” is ons vrygespreek deur God. Die punt is: in hierdie argument figureer die Bose nêrens as oorsaak van die mens se toestand van sondige verdorwenheid nie; net die mens self is hiervoor verantwoordelik.

Natuurlik hoef ons nie hiermee die Bose se teenwoordigheid en sy vernietigende werking in die wêreld te ontken nie. Paulus doen dit ook nie; hy is maar te bewus van die duiwel se destruktiewe werking in die lewe van gelowiges (bv 1 Kor 7:5; 2 Kor 11:14; 1 Tess 2:18). Dis maar net dat die duiwel nie die oorsaak is van die mens se sondige aard nie; daarvoor het die mens net homself te blameer. Ons moet dus baie versigtig wees om ‘n duiwel “agter elke bos uit te skop” en dié verantwoordelik te hou vir al die ellendes op aarde. Ja, die Bose loop rond soos ‘n brullende leeu om te kyk wie hy kan verslind (1 Pet 5:8), maar uiteindelik is die mens self verantwoordelik vir die keuses wat hy maak; ons kan nie die duiwel verantwoordelik hou vir ons dade en onsself so verontskuldig nie. En allermins kan ons hom verantwoordelik hou vir ons sondige natuur.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl