Die menslike natuur en God se stadige versoening
The absence of accurate definitions is the very life of religious controversy – J. C. Ryle
Die menslike natuur en God se stadige versoening
C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.
Daar is twee eienskappe van die menslike natuur wat ook tot die stadige pas van God se versoening bydra.
- Menslike opstandigheid en ongehoorsaamheid loop dwarsdeur die storie van die Bybel. Ons glo dat ons idees oor hoe dinge gedoen moet word beter as God se idees is. As gevolg van selfsugtigheid reageer ons op ons begeerte vir gemak en beheer en selfbehoud. Ons volg nie God se leiding nie. Hoekom gebeur dit? Wantroue en vrees. Ons wonder, soos Adam en Eva, of God werklik in beheer is – mislei Hy nie net vir ons nie. Maar geleidelik leer ons om nie uit vrees en twyfel te praat nie, maar uit ons vertroue op God. God kan die slegste gevolge van ons opstand in genade vryspreek.
- Die stryd van die mens om goed van kwaad te onderskei. Al wil ons gehoorsaam wees, is die mens nie altyd seker wat die regte pad is nie. Ons onderskat ons vermoë om onsself te mislei. Ons onderskeidingsvermoë verbeter as ons ander by die proses betrek en as ons saam God se weg soek. Die betroubaarheid van ons kennis sal nooit volledig wees voordat God sy versoeningstaak afgehandel het nie.
In die Westerse wêreld is individualisme aan die orde van die dag. Ons roeping om as geloofsgemeenskap saam te leef, is onbekend. Ons sukkel om die idee van ‘n gemeenskap te aanvaar en uit te leef. Ons is gebroke mense met vrese, vooroordele en gewoontes wat vir onsself en ander skadelik is. Daarom verkies ons om as individue te leef. Maar ons roeping in Christus is ‘n roeping in ‘n gemeenskap – dit is ‘n lewe gedeel met ander in ‘n plaaslike samekoms. Dit is die uitdrukking van Christus se liggaam.
Hierdie geloofsgemeenskap is noodsaaklik vir die sending van versoening. Alle mense is beelddraers van God en God het almal lief. Maar om die gevalle mensdom te verlos het God sy sending van versoening op ‘n enkele plek begin – Israel. God se taak is om mense vir Hom bymekaar te maak. Dit het met Abraham begin.
Die primêre werk van die Stadige Kerk is nie om mense na ons kerkgeboue aan te trek nie, maar om saam die opstandingslewe van Christus te kweek. Hoe doen ons dit? Deur ons naaste opreg lief te hê – selfs ons vyande. Soos ons holisties Christus se liefde beliggaam, ondervind ons vreugde wat ander mense na Christus sal aantrek.
Al die mense is spelers in die drama – of hulle dit nou weet of nie. Hierdie geselskap het klein begin, maar brei geleidelik uit. Geleidelik word die vertroue van mense gewen totdat almal sy rol vervul. Die hart van Stadige Kerk is die besef dat God se mense belangrik is vir sy sending in die wêreld. Dit gaan ook oor die blydskap wat kom as ons groei in die plekke waartoe ons geroep is.
In die volgende blog gaan ons begin kyk na etiek.