Die merk van die dier – Hermie van Zyl

Vraag: Michele vra:

Ek het vandag ‘n video ontvang waarin Walter Veith vertel van die merk van die dier. Dit is glad nie soos ek dit voorheen verstaan het nie. Die video sê die merk is iets wat nog kom: daar gaan ‘n merk op die hand/arm of voorkop kom wanneer daar net een geldstelsel gaan wees oor die hele aarde en ‘n chip ingeplant gaan word. En vandag hoor ek van Walter dat dit blykbaar ‘n koninkryk is wat die Katolieke Kerk is. Verduidelik asseblief?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord

Die merk van die dier waaroor dit hier gaan, kry ons in Openbaring 13:16-18 (kyk ook Op 19:20; 20:4), wat soos volg lui (1983-Afrikaanse Vertaling):

16Hy (die dier uit die aarde = die vals profeet, HvZ) verplig al die mense, klein en groot, ryk en arm, vryes en slawe, om ‘n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te dra 17en laat niemand toe om te koop of te verkoop nie, behalwe die mense wat die merk het. Die merk is die naam van die dier (uit die see, HvZ) of die getal van sy naam. 18Hier is wysheid nodig. Wie verstand het, kan die getal van die dier ontsyfer, want dit is ‘n mens se getal. Sy getal is ses honderd ses en sestig.”

Die eerste taak van ‘n Bybeluitlegger is om te probeer vasstel wat die skrywer aan sy lesers van destyds probeer sê het. Want ons moet onthou dat Openbaring in die eerste plek geskryf is aan die Christelike gemeentes wat in Openbaring 2-3 vermeld word, gemeentes wat in die suidwestelike deel van die destydse Klein-Asië – vandag Turkye – geplaas kan word. Verder, geleerdes verskil oor die presiese ontstaanstyd van Openbaring, maar die standpunt wat vandag deur die meeste geleerdes gehuldig word, is dat dit in die regeertyd van keiser Domitianus was. Hy was van 81-96 nC keiser van die Romeinse Ryk, en ons weet dat hy van tyd tot tyd besonder wreed teenoor Christene opgetree het. Die Openbaringboek moet dus teen die agtergrond van die vervolging van Christene deur die destydse Romeinse Ryk verstaan word. Baie van die verskuilde verwysings in Openbaring (meesal in simbooltaal) is dus na die Romeinse Ryk se optredes en ondergang wat in die vooruitsig gestel word. En eers as ons ‘n goeie begrip het van wat die skrywer van Openbaring aan die destydse Christene wou kommunikeer, kan ons begin om hierdie boodskap vir vandag vrugbaar te maak. Maar ons moet oppas vir al te veel “kreatiewe” toepassings op vandag se omstandighede, want – weer eens – ons moet heeltyd in gedagte hou dat Openbaring nie primêr vir ons situasie vandag geskryf is nie. Ons moet eerder probeer om die kernboodskap van (‘n gedeelte in) Openbaring vas te stel en dan ons eie situasie in die lig daarvan beoordeel, sonder om in allerlei spekulatiewe randpaaie vas te val.

Met hierdie algemene opmerkings as agtergrond kan ons nou na die spesifieke vraag omtrent die merk van die dier in Op 13:16-18 beweeg. Eers net ‘n opmerking oor die “onheilige drie-heid”, teenpool van die heilige Drie-eenheid, wat in Openbaring werksaam is. Daar is die draak (simbool van Satan, 12:9), die dier uit die see (13:1; simbool van die anti-Christelike Romeinse Ryk), en die dier uit die aarde (13:11; simbool van die vals profeet, 19:20; 20:10). Soos wat die dier uit die see in diens staan van die draak (13:2), so staan die dier uit die aarde weer in diens van die dier uit die see (13:12). Hy (die dier uit die aarde) verlei en dwing mense om die dier uit die see, d w s die Romeinse regering wat homself in die plek van die ware God gestel en die onderdane van God geterroriseer het, te aanbid. En saam stel hierdie onheilige drie-heid hulle op teen die ware God en sy onderdane. In hierdie bedeling lyk dit of die onheilige drie-heid die oorhand het, want hulle vermoor die ware God se onderdane. Maar Openbaring open juis vir ons die hemelse toneel waar God uiteindelik die onheilige drie-heid vernietig en in die poel van vuur gooi, simbool van die ewige verderf (19:20; 20:10).

Met hierdie beeldspraak van die draak (Satan) en sy twee trawante (die dier uit die see en die dier uit die aarde) is die skrywer dus besig om aan sy lesers die boodskap oor te dra dat die Romeinse owerheid as die antichris van sy dag eintlik in diens staan van die Satan. En die Romeinse Ryk het weer baie bondgenote in die vorm van die priesters in die heidense tempels en ander vals stemme in die samelewing wat die Christene wil verlei om deel te neem aan die keiserverering en -aanbidding (vgl 13:12-15). Maar soos wat die drama in Openbaring ontvou, onthul die skrywer ook aan sy lesers dat hierdie oënskynlike mag van die Satan en sy twee trawante net tydelik is. Uiteindelik delf hulle die onderspit wanneer God die Satan en sy helpers vernietig.

Wat verder belangrik is, is dat die onderdane van Satan en die lojale ondersteuners van die Romeinse keiser uitgeken kan word aan ‘n merk wat hulle op die regterhand of voorkop dra (13:16). (“Regterhand” en “voorkop” wil sê dat hulle in hulle aksies en denke volledig in diens staan van die dier uit die see.) Hierdie merk is niks anders nie as ‘n uiterlike kenteken dat hulle ondersteuners is van die dier uit die see (13:17). Hierdie uitkenningsteken vorm ‘n parodie (spotlied) op God wat as die ware Alleenheerser ook sy onderdane verseël. In Openbaring 7:3 lees ons dat God sy seël op sy dienaars se voorkoppe plaas om hulle so as sy eiendom te merk en te beskerm teen die aanslae van die bose. So beskerm die Romeinse owerheid ook sy onderdane deur aan hulle sy merk te gee sodat hulle in die daaglikse handel en wandel bevoordeel kan word. Die Romeinse owerheid probeer dus die alleenheerskappy van God na die kroon steek deur as totalitêre heerser absolute gesag oor almal en alles uit te oefen. Teen dié wat nie sy merkteken dra nie, word daar dan gediskrimineer sodat hulle dit baie moeilik vind om ‘n normale lewe te lei.

Dis moeilik om te sê of hierdie merk destyds fisies sigbaar was. Kenners wys op die gebruik van sommige religieuse ordes en aanbidders van sekere gode in daardie tyd om tatoeëermerke te dra wat hulle kenbaar gemaak het. Of die amptelike dokumente van die Romeinse distrikte met die keiser se seël daarop wat aan onderdane dan die reg gegee het om handel te dryf. Maar wat duidelik is, is dat hierdie merk veral simbolies verstaan moet word. Want Op 13:17-18 sê dat die merk ‘n getal is wat die naam van die dier uit die see, dit wil sê die Romeinse owerheid, uitbeeld. Hoe moet ons hierdie getal verstaan?

Die letters van die Griekse, Latynse en Hebreeuse alfabet het destyds elkeen ‘n unieke getalswaarde gehad, byvoorbeeld a = 1, b = 2, c = 3, ensovoorts. Op dié manier was dit teoreties moontlik om van ‘n getal na die letters te beweeg en so by ‘n persoon se naam uit te kom. Maar in die praktyk was dit nie so maklik nie, want ‘n mens het nie altyd geweet hoe die getal saamgestel was nie – gewoon uit die letters van ‘n enkele naam, of dalk meer as een woord, of net die beginletters van woorde in ‘n sin wat saam na iemand verwys (akroniem)? En so kan mens die moontlikhede vermenigvuldig. Punt is, reeds in die middel van die tweede eeu na Christus (d w s ongeveer 50-60 jaar na die ontstaan van Openbaring) het die kerkvader Ireneüs nie meer geweet na wie 666 verwys het nie. Wat ons wel kan sê, is dat volgens die Hebreeuse alfabet die letters van die woorde “keiser Nero” wel optel na 666. Maar Openbaring is in Grieks geskryf, ‘n mens sou dus verwag dat dit eerder Griekse letters moes wees wat ons by die getal 666 uitbring. En verder het ons reeds genoem dat Openbaring om ander redes eerder in die tyd van keiser Domitianus geplaas moet word. Ander verklaarders wys weer daarop dat die getal 666 die getal van die mens is, die mens synde op die sesde dag geskape, terwyl God se getal weer die volmaakte 7 is. Dus, hoewel magtig (3 keer 6), is die beste wat die antichris kan doen om by 666 uit te kom; hy kan nooit by God wat volmaak is (3 keer 7) uitkom nie. Ons is gevolglik steeds in die duister wie presies die getal 666 destyds op die oog gehad het. Maar dat dit na ‘n persoon verwys het, moontlik een van die Romeinse keisers, is redelik seker. In elk geval sou die eerste lesers van Openbaring die kode kon ontsyfer, en hulle sou die simboliek daarvan begryp het.

As ons nou moet vra wat dit alles vir vandag beteken, behoort dit uit bostaande uiteensetting duidelik te wees dat mens uiters versigtig met die eietydse toepassing van hierdie merkteken te werk moet gaan. Te maklik sit ons op loop met een of ander vermeende bose verskynsel in die samelewing wat ons dan met die merk van die dier wil demoniseer en as die antichris wil uitwys. ‘n Mens moet eerder sê dat enigiets – mens of instansie – wat totalitêre beheer wil toepas in die samelewing en mense se absolute lojaliteit opeis in die plek van die lewende God, antichristelike trekke begin aanneem en dat mens daarvoor in jou pasoppens moet wees. Maar om allerlei moderne verskynsels (soos ‘n “chip” wat moontlik êrens ingeplant kan word) summier as uit die bose aan te merk, is onverantwoordelik en saai onnodig paniek. Blote tegnologiese ontwikkeling is nie boos nie; dis die mens wat tegnologie misbruik om ander te beheer en van God te vervreem, wat boos is. En dít was nog altyd met ons gewees, in allerlei vorme. Net omdat daar boeke met bose of vals leringe is, beteken nie dat alle boeke boos is en vermy moet word nie. Net omdat daar pornografiese webwerwe is, beteken nie dat die internet as sodanig uit die bose is nie. Net omdat daar priesters in die Rooms-Katolieke Kerk is wat seuns misbruik het, beteken nie dat die ganse Roomse Kerk ‘n instrument van Satan is nie. Ons moet die Here dus eerder voortdurend vra om ons ‘n gees van onderskeiding te gee sodat ons in elke tydsgewrig kan onderskei tussen goed en kwaad, en sodat ons die antichris, of antichristelike tendense, kan herken, in watter vorm of gedaante dit ook al voorkom – soms as ‘n persoon, soms as ‘n ideologiese stelsel, soms as strukture of instellings van die samelewing. Want dat die bose alles in sy vermoë doen om God na die kroon te steek en mense te verkneg en van God te vervreem, is duidelik. En dit kom in elke tyd voor, soms subtiel, ander kere brutaal. Christene moet dus altyd wakker wees om die bose te herken en hom te weerstaan en te beveg (Ef 6:10-20).

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl