Die moderne wêreldsiening – ‘n groot misverstand.
. —Jerry Bridges
Die moderne wêreldsiening – ‘n groot misverstand.
Die groot verskil tussen die wêreldsiening van die vroeë Christene en ons vandag is dat die een antiek en die ander een modern is. Omdat ons in ‘n moderne wêreld leef, moet ons die antieke siening verwerp. Dit is immers ontwikkel voor die moderne wetenskap en is gebaseer op onkunde en bygelowe. Ons aanvaar die moderne wêreldsiening, want dit is op die fondament van die wetenskap, tegnologie en wysheid van die moderne “vry” samelewing gebou.
N. T. Wright (The Case for the Psalms) sê dit berus op ‘n groot misverstand. Die groot verskil het niks met antiek en modern te doen nie; dit het feitlik niks met die ontwikkeling van die moderne wetenskap te doen nie.
Die groot verskil was dat die vroeë Christene eerste eeuse Jode was wat geglo het dat Israel se God sy ou beloftes in Jesus Christus vervul het. Hulle glo aan een God, Skepper van alles, wat die wêreld gemaak het en steeds ‘n aktiewe en dinamiese verhouding met die hele skepping het. Hulle het geglo dat God belowe het om na sy mense terug te keer en om sy soewereine heerskappy op die aarde soos in die hemel te vestig. Hulle het in Jesus van Nasaret en die krag van die Heilige Gees wat in hulle lewens aan die werk was, geglo. Dit is hoe God sy beloftes vervul het.
Dit glo die vroeë Christene in ‘n wêreld met baie verskillende wêreldsienings en filosofieë. Een van hierdie filosofieë was dié van Epikurus. Hy glo dat die wêreld nie deur God of die gode geskep is nie. As daar wel sulke wesens bestaan, is hulle ver van die wêreld en sy mense verwyder. Volgens hom leef ons in ‘n wêreld wat deel van ‘n selfontwikkelende heelal is – ‘n wêreld wat onder eie stoom ontwikkel, vooruitgaan en agteruitgaan. Hierdie filosofie was aantreklik, want dit verwyder die mens se vrees vir die gode – hulle is immers ver weg. Die gevolg is die mens kan maar net sy skouers optrek en die lewe na die beste van sy vermoë geniet.
Is dit nie die filosofie wat ons moderne wêreld grootliks aanvaar het nie? Die probleem is nie dat as ons byvoorbeeld die psalms lees hulle oud is en ons moderne siening nuut is nie. Daar was ‘n hele aantal antieke wêreldsienings. Party se fondament was die Bybel; ander was op ander sienings en filosofieë gebou. Ons huidige moderne wêreldsiening is niks meer modern as die wêreldsiening van die vroeë Christene nie. Wetenskaplikes interpreteer hulle waarnemings binne die raamwerk van Epikurus – God staan los van die wêreld. Dit is nie ‘n moderne siening nie, alhoewel ons dit as iets nuuts beskou.
Die Bybelse wêreldsiening is meer antiek en terselfdertyd meer modern as die siening van Epikurus wat vandag beskou word as ons “moderne” wêreldsiening – ‘n groot misverstand en misleiding.