Die narsisme van geïsoleerde godsdiens

 

Everyone says forgiveness is a lovely idea, until they have something to forgive –  C. S. Lewis

 

Die narsisme van geïsoleerde godsdiens

[Narsisme = sieklike liefde vir die self – HAT]

Vandag is alles selfgesentreerd. Daarom is selfgesentreerde godsdiens ook nie verbasend nie. Mense in plaas van God is nou die middelpunt van die heelal. Daarom hoor ons slagspreuke soos: “Ek is geestelik, maar nie godsdienstig nie”; “Ek woon nie eredienste by nie – ek is geestelik as ek my afsonder.”

 

Ben Witherington sê dat die Christelike lewe begin met persoonlike geloof wat dan uitgeleef word in gemeenskap met ander gelowiges. Geloof is iets wat niemand anders vir jou kan doen nie. Dit moet jou eie geloof wees anders is dit nie geloof nie. Jy kan nie geloof met volmag hê nie; jy kan nie aan geloof in absentia deelneem nie. Die geloof is jou eie, maar dit maak jou onmiddellik deel van ‘n familie.

 

Augustinus vertel die storie van Victorinus, professor in retoriek in Rome. Hy het baie simpatie met die Christendom gehad; hy het die Bybel en Christelike boeke gelees. Hy sê vir Simplicianus: ‘Jy weet, ek is alreeds ‘n Christen.” Simplicianus antwoord: “Ek sal dit nie glo en jou nie as ‘n Christen erken, voordat ek jou nie in die kerk van Christus sien nie.” Victorinus antwoord: “Maak mure Christene?” Uiteindelik het die professor deel van die kerk van Rome geword.

 

‘n Man sê vir John Wesley: “Sir, you wish to serve God and go to heaven? Remember that you cannot serve Him alone. You therefore must find companions or make them. The Bible knows nothing of solitary religion.” Dit was die begin van die Metodiste Kerk.

 

Die Bybel weet niks van hierdie afgesonderde godsdiens nie. Paulus sê: Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop (1 Korintiërs 12:13). Dus: Ons kan nie ‘n Christen in isolasie wees nie. Toe ek verlos is, word ek onlosmaaklik deel van die liggaam van Christus. Daarom moet ek my toewy aan volle deelname aan hierdie liggaam.