Die Nuwe Testamentiese Kanon (2)
Blog41a
William Wilberforce
Die Nuwe Testamentiese Kanon (2)
Michael Kruger skryf ‘n reeks oor die Nuwe Testamentiese kanon. In die eerste artikel het ons gesien dat die Nuwe Testamentiese boeke die vroegste Christelike tekste is wat ons het. Die feit dat hulle vroeg geskryf is, maak hulle nie noodwendig deel van die kanon nie. Dit wys wel dat hulle geskryf is in ‘n tydperk toe ooggetuies van Jesus nog geleef het.
Wat nou van die NT apokriewe? Hulle is nie ingesluit in die NT nie. Hulle genre stem ooreen met dié van die NT boeke – evangelies, handelinge, briewe, openbaring, ens. Hulle word dikwels toegeskryf aan bekende individue – Die Evangelie van Petrus, die Evangelie van Tomas, Die Handelinge van Johannes, ens.
Ons kan nou nie elke boek individueel bespreek nie. Daar is egter een basiese feit: al hierdie apokriewe geskrifte word in die tweede eeu na Christus of later gedateer. Baie van hulle kom selfs uit die derde en vierde eeu. Selfs kritiese teoloë stem hiermee saam. Daar is dispute oor die datering van sekere NT boeke soos 2 Petrus en Paulus se pastorale briewe, maar feitlik almal stem saam dat die apokriewe later (tweede eeu of later) geskryf is.
Natuurlik is daar pogings om van die apokriewe in die eerste eeu te dateer. Crossan beweer dat die “kruis evangelie” wat ons in die Evangelie van Petrus kry uit die eerste eeu dateer. Hierdie voorstel word deur min mense aanvaar as korrek. Onmiddellik moet ons dus ‘n vraagteken plaas oor van die sensasionele aansprake dat hierdie “verlore” boeke eintlik die “ware” siening van die Christelike geloof verteenwoordig.
Natuurlik mag ons argumenteer dat hierdie latere geskrifte steeds die ware Christelike geloof van die eerste eeu weerspieël. ‘n Teks hoef tog nie in die eerste eeu geskryf word om materiaal uit die eerste eeu te bevat nie. Ons moet egter ‘n baie goeie rede hê om hierdie latere geskrifte eerder as die vroeëre geskrifte te aanvaar. Kyk ons na die apokriewe boeke is daar nie sulke oortuigende redes nie.
- Ons weet dat baie van die apokriewe boeke vervalsings is – hulle gee voor dat hulle deur iemand geskryf is wat beslis nie die skrywer was nie. Dit laat ernstige vrae oor die betroubaarheid van die geskrifte ontstaan.
- Baie van hulle bevat duidelike “versierings” of legendes wat bygevoeg is. In die Evangelie van Petrus kom Jesus uit die graf as ‘n reus – sy kop raak die wolke en Hy word dan deur die kruis uit die graf gevolg. Die kruis praat selfs.
- Baie van hierdie apokriewe geskrifte bevat ‘n gnostiese tipe teologie wat eers in die tweede eeu na vore gekom het. Dit kan dus nie uit die eerste eeu kom nie. ‘n Voorbeeld hiervan is die Evangelie van Filippus.
Dit beteken nie ‘n apokriewe boek kan nie uit die eerste eeu kom nie – so ‘n geskrif is nog net nie gevind nie. Dit beteken ook nie dat apokriewe boeke nie betroubare Jesus tradisie kan bevat nie. Ons weet dat van die vroeë Christene soms na die apokriewe boeke verwys het. Die belangrike punt is egter dat hierdie stukkies betroubare inligting in die apokriewe geskrifte kry ons ook in die NT boeke. Daar is niks wat dit wat ons in die NT boeke kry, kan vervang nie.
Die apokriewe geskrifte is ‘n interessante bron vir die studie van die vroeë Christendom. Ons kry egter in hulle nie ‘n meer oortuigende siening van die Christelike geloof as in die NT boeke nie.