Die Ons Vader-gebed: En vergeef ons ons oortredings (2)
It is impossible for a man to be freed from the habit of sin before he hates it – Ignatius
If people really see that Christ’s righteousness has been given to them entirely as a gift, they’ll do whatever Hy wants – John Bunyan
Die Ons Vader-gebed: En vergeef ons ons oortredings (2)
In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.
Soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree
Hier word iets van die mens verwag – die enigste verwysing na menslike aktiwiteit in hierdie gebed.
Die beginsel van wedersydse vergifnis as kernelement in hierdie gebed word beklemtoon deur wat net na die gebed volg: As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie (Matteus 6:14 – 15). Hier is ‘n paar belangrike punte in hierdie frase:
- God se vergifnis van ons is nie afhanklik van ons vergifnis van ander nie. Ons vergifnis van ander verdien nie die reg dat God ons moet vergewe nie. Ons onderhandel nie hier met God nie. Maar wat beteken dit dan? Die gelykenis van die ongenadige amptenaar (Matteus 18:23 – 35) help ons. Nadat hy deur die koning vergewe is,weier hy om ‘n ander te vergewe. Ons kan nie twee gesindhede handhaaf nie – een teenoor God en een teenoor mense nie.
- Ons kan nie ons vergifnis met dié van God vergelyk nie. Ons skuldenaars is nie so afhanklik van ons vergifnis soos ons van God se vergifnis is nie. Ons vergifnis bepaal nie hulle lewens soos God se vergifnis van ons ons lewens bepaal nie. Ons vergifnis is maar ‘n dowwe skaduwee van God se vergifnis.
- Die woord oortredings in sy oorspronklike beteken skuld. Letterlik beteken dit dat ons ons skuldenaars moet vergewe – ons kanselleer die skuld van diegene wat ons geld skuld. Ons kan hierdie gedeelte van die gebed nie net as godsdienstig sien nie, maar ook sosiaal en ekonomies.
- Hier is nog ‘n werklikheid te sprake: die moontlikheid van ‘n oortreding waarvan die oortreder totaal onbewus was. Die Fariseër in Lukas 18:9 – 14 was oortuig dat hy onskuldig was – hy was ‘n sondaar sonder dat hy dit besef het. Hierdie gesindheid is moontlik in ons verhouding met God, maar ook met ander mense. Die mense in Matteus 25:31 – 46 wat nie vir die mense kos en water en klere gegee het nie omdat hulle hulle nooit bewustelik raakgesien het nie, word nie deur Jesus vrygespreek nie, maar veroordeel. Hierdie mense sê dat hulle onskuldig is, want hulle het nie geweet nie. Hulle is skuldig, want hulle behoort te geweet het. Ons moet altyd bid dat God ons bewus sal maak van ons skuld waarvan ons onbewus is.
- Vergifnis lê die fondament vir verhoudings in ons samelewing. Dit geld vir beide ons vertikale en horisontale verhoudings. Vergifnis lei tot dieper verhoudings – dit bind ons dieper aan mekaar. Vergifnis kry nooit klaar nie
Volgelinge van Jesus wat vir vergifnis bid word aanmekaar en aan die Vader gebind. Hulle is die kern van die nuwe gemeenskap wat wag op die voltooiing van God se koninkryk.