Die Ons Vader-gebed: Gebed en leefstyl

image_pdfimage_print

Things like worry, fear, sadness, and deep depression are smoke from the fires rising from the altars of our idolatry Augustinus.

 

Die Ons Vader-gebed:  Gebed en leefstyl 

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

 

Sommige manuskripte voeg nou by: Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid. Amen. Ons kry hierdie lofprysing nie in die oorspronklike manuskripte nie.

Ons kry dit wel in Die Didagé – ‘n dokument wat waarskynlik tussen 100 en 150 nC ontstaan het. Die vroeë Christene het klaarblyklik gevoel dat ‘n lofprysing na die skielike afsluiting van die Ons Vader gebed nodig was.

 

In die Ons Vader-gebed kry ons ‘n baie ekonomiese gebruik van woorde. Kom ons kyk na die struktuur van die gebed. Die laaste versoek –  verlos ons van die Bose – druk vrees vir die Bose uit terwyl die eerste versoek – laat u Naam geheilig word – ontsag vir die heilige Een, wat die Bose oorwin,  uitdruk. Die tweede versoek – laat u koninkryk kom – verwys na die nabyheid van die koninkryk, terwyl die sesde versoek – laat ons nie in die versoeking kom nie –  verwys na die dreigende nabyheid van versoeking. Die derde versoek – laat u wil ook op die aarde geskied – verwys na die wil van God wat op aarde soos in die hemel gedoen moet word. die vyfde versoek – vergeef ons ons oortredings –  verwys na God se wil wat nie op aarde gedoen word nie.

Die eerste drie versoek gaan oor God se groot bekommernisse – sy Naam, sy koninkryk en sy wil. Die laaste drie versoeke lê ons menslike bekommernisse voor God – ons wêreld van versoekings en oortredings en die Bose. Tussen die twee stelle het ons die versoek vir ons daaglikse brood. Dit is die oorgang van die een wêreld na die ander. Brood het ‘n dubbele betekenis – fisiese behoeftes wat dit aan die tweede stel versoeke koppel en  ons aanbidding van God soos gesimboliseer deur die brood wat ons tydens die Nagmaal gebruik. Daar is duidelike verskille tussen die twee stelle versoeke, maar hulle is ook aanmekaar verbind.

 

Agter al die versoeke lê die oortuiging: God het besluit om in te tree. Hy kondig nie net ‘n toekomstige gebeurtenis aan nie – Hy praat ook oor die huidige. Al wat ons kan doen,  is om ons leefstyl aan te pas sodat dit by hierdie nuwe situasie inpas. As gevolg van ons hoop en vertroue is die donkerte van die huidige wêreld nie mider donker nie, maar meer verklaarbaar. Die gevare is nie verwyder nie, maar ons vertroue is versterk.

 

Diegene wat die Ons Vader-gebed bid is steeds ‘n kwesbare en onseker gemeenskap. Maar hulle waag dit om hierdie gebed te bid, wetende dat hierdie gebed nie die las na God verskuif nie – nee, ons is bevoorreg en bemagtig om hierdie las saam met God te dra. Dit is die waagstuk om hierdie gebed te bid: nog meer word van ons verwag. Die rede hiervoor is duidelik: Soos ons bid word ons roeping en verantwoordelikheid al hoe duideliker vir ons. Ons gebed is dus nie ‘n instrument om God te verander sodat Hy ‘n dienaar van ons wense word nie. Ons bid die Ons Vader-gebed om ons te verander in dienaars van sy liefde.

 

image_pdfimage_print