Die Ons Vader gebed: Hoe om nie te bid nie

 “If you remove enjoyment of God from faith in God, it ceases to be faith.” – John Piper

Die Ons Vader gebed: Hoe om nie te bid nie

Een van die geestelike dissiplines wat vandag baie afgeskeep word, is gebed. Tog was dit vir Jesus se dissipels ‘n belangrike aspek van hulle lewe saam met Jesus. Een dag het Jesus se dissipels die geleentheid gehad om Jesus te vra om hulle iets te leer. Jesus het hulle reeds vir ‘n geruime tyd onderrig.

Dink net aan die voorreg om elke dag saam met Hom te loop; te hoor wat Hy sê; te sien wat Hy doen. Daar is so baie dinge wat hulle Hom wou en kon vra. Hulle kon vir Hom gevra het: “Here leer ons om water in wyn te verander;” of: “Jesus leer ons om op die water te loop.” Maar wat vra die dissipels? Here, leer ons bid (Lukas 11:1). Dit was die brandende vraag waarmee hulle Jesus genader het.

 

Hoekom het hulle nou juis hierdie vraag gevra? Moontlik het hulle die verband tussen Jesus se gebedslewe en sy mag, karakter en sy onderrig raakgesien. Hulle sou gesien het dat nadat hy by ‘n groot skare betrokke was Hy onttrek het. Maar Hy het nie onttrek net om te rus nie, maar om te bid. Ons weet uit sy gebed in die tuin van Getsemane dat Hy ernstig gebid het. Ons weet dat Hy sy dissipels gekies het nadat Hy die hele nag gebid het.

Geen wonder hulle vra Hom om hulle te leer bid nie. Maar hulle voeg nog ‘n stertjie by: soos Johannes ook sy volgelinge geleer het. Hulle het nie alleen gesien dat Jesus bid nie, maar ook Johannes en sy volgelinge het gebid. Baie van Johannes se dissipels het ook vir Jesus gevolg.

Gebed is belangrik. As ons in die geskiedenis teruggaan, sien ons dat gebed ‘n belangrike rol gespeel het wanneer die kerk gegroei het – tydens geleenthede van herlewing. Jesus kon vir sy dissipels gesê het om die Psalms – die gebedsboek van die kerk deur die eeue – te lees. Nee, Hy doen dit nie … Hy gee aan hulle die Ons Vader gebed. Dit was die gebed wat Hy vir sy volgelinge gegee het.

In Matteus 6 lees ons dat Jesus vooraf sekere opmerkings gemaak het (vers 5 – 8). Jesus leer heel eerste vir hulle hoe om nie te bid nie. Hier plaas Hy twee beperkings op gebed. Hierdie beperkings is belangrik, want Jesus word nie met hierdie soort gebede geëer nie.

  • Moenie skynheilig wees nie. Die woord het sy oorsprong in die teater – die akteur doen iets wat nie werklik is nie. Hierdie mense bid en maak ‘n groot vertoning van hulle vroomheid – maar hulle innerlike stem nie ooreen met hierdie uitwendige vertoning nie. Gebed vir hulle was iets wat van mense in hulle posisies verwag is. Is hierdie skynheiligheid iets van die verlede? Dink baie gelowiges nie steeds hulle is beter as ander mense nie? Jesus waarsku teen bid om gesien te word, maar Hy moedig private gebed – in jou kamer met ‘n toe deur – aan. Daar bid jy tot jou Vader. God stel nie belang in uiterlike vertoon nie.
  • Moenie heidense gebede bid nie: moenie ‘n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Hulle herhaal sekere woorde sonder dat hulle weet wat dit beteken. Ons kan baie maklik woorde herhaal en gebed word dan ‘n gewoonte – ons dink nie eers oor dit waarvoor ons bid nie. Selfs die Ons Vader gebed kan later ‘n resitasie word wat ons voordra sonder om te dink oor die betekenis van dit wat ons bid. Die beste voorbeeld van ‘n gewoontegebed is sekerlik ons tafelgebede.

Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra. God gaan nie sy siening verander omdat jy vir Hom nuwe inligting in jou gebed gee nie. Maar gebed verander dinge en die belangrikste daarvan is onsself. In gebed leer ons God meer intiem ken. Ons besef ook dat ons moet verander as ons meer en meer soos Jesus wil word.

Let op dat in hierdie gebed ‘n woord wat herhaaldelik voorkom is U: u Naam, u koninkryk, u wil. Ons moet eers ‘n ent weg in die gebed gaan voor enige aandag aan ons gegee word. Daarom is dit belangrik om altyd te onthou wie aangespreek word en wie doen die praatwerk. Moet nooit vergeet dat jy met die Skepper van en Heerser oor die heelal praat nie. Jy moet ook nooit vergeet wie jy is nie – ‘n skepsel. Gebed is nie ‘n gesprek tussen gelykes nie.

[In hierdie reeks maak ek onder andere van R.C. Sproul se boek The Payer of the Lord gebruik.]