Die Ons Vader-gebed: Maar verlos ons van die Bose
Pleasure is the ray, God’s love is the sun. Pleasure is the shadow; God’s love is the substance. Pleasure is the stream, God’s love is the ocean (Jonathan Edwards)
Die Ons Vader-gebed: Maar verlos ons van die Bose
In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.
Die woord wat hier met verlos vertaal word, beteken letterlik red of weggryp. Die Bose word hier nie as ‘n idee gesien nie , maar as ‘n werklikheid – ‘n roofdier wat wag, gereed om ons aan te val.
God word hier as ‘t ware gevra om ons weg te ruk tot buite sy bereik. Bose verwys hier nie na boosheid in die algemeen nie, maar na die bose een – Satan. Mense is boos, maar die Satan is die Bose – die verleier, die vals aanklaer, die vyand. Sy koninkryk is ook hier op aarde, want nêrens lees ons dat hy sy troon in die hel opgestel het nie.
Hy doen hom voor as die heer van die heelal en versoek Jesus in die woestyn (Matteus 4:3 – 10). Wat opvallend is, is die manier waarop hy Jesus benader. Soos Satan van ouds sê hy: Het God werklik gesê … (Genesis 3:1). Satan se voorstel aan Jesus behels ‘n strategie vir sy sending wat wondertekens insluit om sy Goddelike uniekheid te bewys. Dit is verbasend dat Jesus en Satan hier amper soos twee rabbi’s praat – hulle stel argument en teenargument; hulle haal die Skrif aan.
Juis sy subtiele benadering, sy vroom verwysing na die Skrif en sy oënskynlike bekommernis oor Jesus wys vir ons hoe sleg hy is. Deur net woorde effens te draai, laat hy hulle sê wat hy wil hê hulle moet sê. Hierdie is die groot gevaar waarvoor ons staan. Die Bose val ons selde van voor af aan: Satan self doen hom voor as ‘n engel van die lig (2 Korintiërs 11:14). Hy het baie verskillende strategieë wat hy gebruik. Hy kanaliseer die verlange van ons harte in die rigting waarin hy graag wil hê dit moet gaan. Sonder dat ons dit eers bemerk het, word ons met trots, gierigheid, selfsugtigheid, magshonger en eer gevul. Satan het in ons denke ingekruip en maak ons harte onsensitief vir ons medemens se behoeftes. Hy dryf ons in ‘n hoek waaruit ons baie moeilik kan ontsnap. Hy gee selfs vir ons tegnieke om te rasionaliseer waarom ons is waar ons is. sy beleid is een van stille infiltrasie – ons sien nie eers dat hy die fondament van ons geloof en lewe ondergrawe nie.
Verlos ons van die Bose is nie ‘n uitroep van wanhoop nie, want ons weet al Satan se pogings om ons uit God se hande te ruk, sal misluk. Al sy pogings sal gedwarsboom word.