Die Ons Vader-gebed: ‘n Paradigma vir ‘n Christelike Lewenstyl (2)
It is a testament to our naïveté about culture that we think that we can change it by simply declaring new values. Such declarations usually produce only cynicism. ~ Peter Senge
Die Ons Vader-gebed: ‘n Paradigma vir ‘n Christelike Lewenstyl (2)
In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.
Die gebed is nie ‘n nuwe wet wat in presies dieselfde woorde herhaal moet word nie. Dit is ‘n hulpmiddel, ‘n riglyn wat gevolg moet word sonder dat ons aan ‘n spesifieke bewoording gebind moet word.
Daar is in ieder geval twee verskillende vorme: Matteus 6 en Lukas 11. Hierdie gebed gebruik min woorde en daarom is dit noodsaaklik dat elke woord versigtig geweeg en bestudeer moet word. Elke woord, elke uitdrukking, is vol betekenis. Elke frase in die gebed is ‘n noodsaaklike deel van die totale mosaïek en moet daarom ons aandag geniet.
Ons Vader wat in die hemel is.
In die hele Ou Testament word net 14 maal na God as Vader verwys. In al hierdie gevalle is dit ‘n verwysing na die verhouding tussen God en Israel. In ‘n paar gevalle is God nie alleen vader nie, maar selfs ook moeder (Jesaja 49:15; 66:13).
Jesus spreek God direk as Vader aan. Hy gebruik die Aramese woord abba. Dit was die manier waarop ‘n klein kindjie sy vader aangespreek het – eintlik ‘n soort troetelnaam. Dit was iets totaal nuut. Jesus gebruik hierdie uitdrukking 170 keer in die vier evangelies. Dit beklemtoon dat Hy deur die Vader gestuur is.
Maar in Matteus gaan Jesus selfs verder – Hy spreek God as ons Vader aan. In Lukas lees ons net Vader. Wat is die betekenis hiervan? Jesus se Vader is ook die Vader van die dissipels – Jesus is die oudste broer en het dieselfde Vader as die dissipels. Daarom het hulle ook die voorreg om God as Vader aan te spreek. God is hier ‘n Vader wat vir sy kinders sorg – Hy is sensitief vir hulle probleme; Hy sien hulle lyding; Hy hoor as hulle roep. Hier is sprake van ‘n persoonlike verhouding met God as Vader: Julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!”. Dit beteken Vader (Romeine 8:15).
Die oproep ons Vader bind ook diegene wat bid, saam. Niemand kan op sy eie Jesus se broer of suster word nie – ons is saam in die geloofsgemeenskap betrokke. Die bidders is nie net van die Vader en die Seun afhanklik nie, maar ook van mekaar. Hierdie interafhanklikheid van bidders is ‘n basiese element in hierdie gebed.
Daar volg nou ‘n verdere kwalifikasie: Ons Vader wat in die hemel is. Hierdie kwalifikasie kry ons nie in Lukas se weergawe van die gebed nie. Met hierdie byvoeging word ons gewaarsku dat ons nie sommer ons Vader as sulks kan aanvaar nie – ons kan nie met Hom familiêr raak nie. Ons mag nooit vergeet dat Hy heilig is nie – dat Hy in die hemel en ons op die aarde is nie. Ons moet hier dink aan die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar. Die Fariseër was so hooghartig en oortuig van sy geregtigheid dat hy op ander neergekyk het: O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie (Lukas 18:11).
As ons onthou dat ons liefdevolle Vader, wat ons liefhet en naby aan ons is, terselfdertyd die heilige God in die hemel is, sal dit ons terughou van familiariteit en skaamteloosheid in ons verhouding met God.
Volgende keer begin ons na die versoeke in hierdie gebed kyk.