Die ontwikkeling van die kanon

image_pdfimage_print

Every word of the God-breathed character of Scripture is meaningless if Holy Scripture is not understoord as the witness concerning Christ – G. C. Berkouwer

 

 

Die ontwikkeling van die kanon

Daar is heelwat op die webblad geskryf oor hoe die kanon tot stand gekom het. Maar nou sien ons dat die kanon van die Rooms-Katolieke Kerk en die Protestantse Kerk verskil. Hoe het dit gebeur?

Ons glo dat die lidmate van die vroeë kerk, soos ons, elkeen ‘n geskrewe Bybel gehad het. Dit was nie die geval nie. Daar was geen drukpers nie en boeke moes met die hand gekopieer word. Die gevolg was dat die kerk staatgemaak het op mondelinge oordrag van een geslag na die volgende.

Hierdie geskrewe rekords (die Ou Testament) en die ongeskrewe tradisie (die Nuwe Testament) is deur die vroeë kerk as twee dele van ‘n verenigde geheel gesien. Die ontvangers en oordraers van hierdie tradisie was veral die biskoppe – die opvolgers van die apostels. Hulle was die leiers in die kerk en die waarborg dat wat in die kerke geglo en gepraktiseer is in ooreenstemming  met die apostels se leringe was. Hierdie biskoppe was nie ‘n bron van nuwe openbarings van die waarheid nie – hulle het alleenlik oorgedra wat die apostels gesê het. Mettertyd is van hierdie apostoliese tradisie neergeskryf.

Die kanon van die Nuwe Testament is onveranderd sedert die laaste deel van die 4de eeu, maar dit was nie die geval met die Ou Testament nie. In die 3de eeu vC is begin met die Griekse vertaling van die Hebreeuse Bybel – die Ou Testament.  Hierdie Griekse vertaling staan as die Septuagint (sewentig) bekend. (Ook bekend as die LXX.) Hierdie Bybel word wyd versprei onder Griekssprekende Jode en ook onder nie-Jode soos die kerk in die heidense gebiede versprei het. Die Septuagint bevat ook die apokriewe. Die skrywers van die Nuwe Testament het die Septuagint geken en van hulle aanhalings kom hieruit.

Aan die begin van die 2de eeu (na Christus) is daar met ‘n Latynse vertaling van die Bybel begin. Dit is omdat Latyn die taal van die Romeinse Ryk was. Omdat die Septuagint aanvanklik as basis vir hierdie vertaling gebruik is, het die Latynse weergawe die apokriewe ingesluit. In 382 nC vra die biskop van Rome vir Hieronimus om ‘n nuwe Latynse vertaling te doen. Hieronimus besef gou dat ‘n goeie vertaling  die oorspronklike Hebreeuse Bybel as bron moet gebruik.

Hieronimus vertaal eerste vir Samuel en Konings. In sy voorwoord vir hierdie boeke gee hy ‘n lys van kanonieke boeke – die apokriewe verskyn nie op sy lys nie. Hulle het nou sekondêre status. Hy sê dat die apokriewe vir geestelike opbou gebruik kan word, maar  die kerk kan dit nie as gesag vir sy leer gebruik nie. Hierdie vertaling staan later as die Latynse Vulgaat bekend.

Augustinus glo dat dieselfde Gees wat deur die skrywers van die Hebreeuse Bybel gewerk het ook deur die vertalers van die Septuagint gewerk het – die Gees se inspirasie was in beide aktief. Die Ou Testament met die apokriewe en die Nuwe Testament word nou die Skrif van die kerk. Hierdie siening word nie ernstig uitgedaag voor die Hervorming nie.

Volgende keer gaan ons verder met die geskiedenis van die kanon.

image_pdfimage_print

You may also like...