Die oorspronklike (eerste) lesers van 1 Petrus – Waar het hulle gewoon?
Die oorspronklike (eerste) lesers van 1 Petrus – Waar het hulle gewoon?
Die oorspronklike (eerste) lesers van die brief 1 Petrus, het in Klein-Asië gewoon, verspreid “in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië” (1 Pet. 1:1), wat in hierdie volgorde genoem word omdat dit die roete is wat die draer van die omsendbrief sou volg.
In die briefaanhef word dit uiteengesit dat die eerste lesers, vir wie hierdie omsendbrief oorspronklik geskryf is, “verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië” (1:1). Hierdie vyf name verteenwoordig, in die tyd wat die brief geskryf is, in werklikheid net vier amptelike Romeinse provinsies aangesien “Bitinië-en-Pontus” toe deur ‘n enkele provinsiale administrasie hanteer is. Die twee was egter vantevore onderskeie streke en daar is nog dikwels, soos hier, afsonderlik na hulle verwys. Gevolglik kan daar veralgemeen word deur te sê dat die geadresseerdes in Klein-Asië gewoon het (min of meer die moderne Turkye), en wel noord en wes van die Taurus-bergreeks wat deur die Suide van Klein-Asië loop. Klein-Asië het voorheen uit ‘n aantal onafhanklike koninkryke (van Anatolië) bestaan, maar het tussen 133 v.C. en 17 n.C. stelselmatig onder Romeinse beheer gekom. Die vier bogenoemde provinsies was reeds teen 17 n.C. gekonstitueerd en het ongeveer 8,500,000 inwoners van uiteenlopende kulture gehad. Die area hier tersprake beslaan ongeveer 330 000 vierkante kilometer.
Paulus het baie tyd in hierdie selfde streke gespandeer en die evangelie hier verkondig. Gevolglik is daar oorvleueling tussen die geadresseerdes van 1 Petrus en sommige van die briewe van Paulus, byvoorbeeld aan die Galasiërs, Efesiërs en Kolossense (lg. twee beide in die provinsie “Asië”). Die sewe gemeentes aan wie die boodskappe in Openbaring 2 en 3 gerig is, is ook almal in die provinsie Asië.
Skrywer: Ds Dirk Venter