Die oorspronklike (eerste) lesers van 1 Petrus – Wie hulle was en in watter omstandighede hulle hulself bevind het

Die oorspronklike (eerste) lesers van 1 Petrus – Wie hulle was en in watter omstandighede hulle hulself bevind het

Die eerste lesers van 1 Petrus was gelowiges van sowel Joodse as heidense afkoms. Waarskynlik was die meerderheid van hulle van die laer sosiale status- groepe, armes, slawe, vrouens. Daar is op verskillende maniere teen hulle gediskrimineer in hulle plaaslike gemeenskappe, veral deur dit wat vir hulle en oor hulle gesê is. Gevolglik was hulle soos “vreemdelinge en bywoners” in die wêreld (2:11) waar hulle tydelik moes swaarkry, terwyl hulle hoop gerig was op ‘n ewige woning by God (1:4-6)

Die omsendbrief 1 Petrus word gerig (1:1) aan die “uitverkorenes”, “vreemdelinge van die diaspora”.  Hoewel die woord “diaspora” letterlik verwys na die verspreiding van die Jode oor die Antieke wêreld, beteken dit nie dat die brief primêr of uitsluitlik aan gelowiges uit ‘n Joodse agtergrond gerig is nie.  Ooreenstemmend met wat ons weet van die vroegste christelike gemeentes in die algemeen, is dit die beste om te aanvaar dat daar persone van sowel Joodse as heidense agtergronde in die gemeentes was.  Die verwysing na “vreemdelinge van die diaspora” is dus metafories van toepassing op die gelowiges as die nuwe Israel – die nuwe uitverkore eiendomsvolk van God wat verspreid deur die Antieke wêreld gewoon het.

Hierdie gelowiges was nie self ooggetuies van die lewe van Jesus nie (1:9), en het waarskynlik nié deur die evangelisasie-werk van Petrus gelowig geword nie, maar onder ander persone (1:12, 25).  Dit is moontlik dat die eerste “evangeliste” wat in hierdie streke gewerk het, gelowiges was wat op Pinksterdag in Jerusalem teenwoordig was (Hand. 2).  Dit is ook moontlik dat sommige van die eerste lesers deur Paulus se bediening in hierdie streke gelowig geword het.

Op grond van die meer omvattende opdragte aan vroue as aan mans (3:1-7), is dit moontlik dat daar meer vroue as mans in die gemeentes was.  So vind ons ook opdragte aan slawe (2:18-20), maar nie aan meesters of slawe-eienaars nie, wat daarop kan dui dat daar nie baie van hulle in die gemeentes was nie.  Netso ontbreek opdragte aan die rykes, wat weereens daarop kan dui dat daar nie baie van húlle in die gemeentes was nie.  Hierdie afleidings bly egter baie onseker.  Uit Paulus se briewe weet ons dat daar wel ook mans, slawe-eienaars, rykes en vooraanstaande burgers in die vroeë gemeentes was.  Die geadresseerde gemeentes sou dus waarskynlik van gemengde sosiale stand wees, maar met ‘n meerderheid persone uit laer sosiale status-groepe.

Die lesers van 1 Petrus word beskryf as vreemdelinge (1:1, 17, 2:11) en bywoners (2:11).  Hulle is mense op wie die ewige heerlikheid, die onverganklike hemelse erfenis wag (bv. 1:4), maar wat intussen moet ly (bv. 1:6).  Gevolglik is hulle tydelik in hierdie wêreld – hulle eintlike woning is by God Self, en dus is hulle “vreemdelinge en bywoners” tot op die dag van Goddelike regspraak (1:17, 2:12).  Hierdie metafoor is bedoel om hulle te bemoedig en te motiveer tot volharding in nie-ideale omstandighede, aangesien hulle die hoop het op ‘n beter toekoms.  Dit is ook baie insiggewend ten opsigte van die optrede van die plaaslike bevolking jeens hulle.  Daar is op verskeie wyses teen “vreemdelinge” (nie-plaaslike inwoners en nie-burgers) gediskrimineer.  Hoewel hulle dieselfde verantwoordelikhede as burgers gehad het, byvoorbeeld ten opsigte van belasting, het hulle beslis nie dieselfde voorregte geniet nie.  Hierbenewens is hulle met agterdog en vyandigheid bejeen, dikwels onregverdig beskuldig en selfs daarvan aangekla dat hulle die oorsaak was van die gode se woede vir plaaslike gemeenskappe.

Watter soort lyding het hulle verduur?  Die meeste navorsers is dit eens dat die gelowiges se swaarkry in 1 Petrus verwys na die plaaslike (meestal nie-amptelike en nie-georganiseerde) diskriminasie wat Christene moes verduur.  Hierdie diskriminasie sou veral voortspruit uit Christene se onwilligheid om aan die stedelike sosiale lewe deel te neem, aangesien dit tot ‘n groot mate deurlopend met afgodsdiens, en die meelopende losbandigheid (4:3), gepaard gegaan het. Die plaaslike Joodse bevolking het hulle netso van die stedelike lewe onttrek, en daarom is beide groepe mettertyd beskuldig van “haat teen die mensdom”.  Daar was groot onkunde onder mense ten opsigte van die christene se gebruike in die erediens, en dit het tot agterdog en selfs die allerverskriklikste beskuldigings gelei, soos bv. kanibalisme (verwysings na bv. die “eet van die liggaam van Christus” met die nagmaal, is verkeerd verstaan!).  Teen 64 n.C., die jaar waarin Nero die Christene in Rome vervolg het vir die groot brand, was die Christene al reeds genoegsaam geïdentifiseer as voorwerp van agterdog dat hulle gerieflik byderhand was vir Nero om die skuld vir die brand op hulle te laai.

Hoewel daar ten tye van die sirkulasie van die brief per geleentheid wel fisiese vervolging van die Christene plaasgevind het, was die aard van die optrede teen hulle meestal verbaal.  Interne getuienis in 1 Petrus ondersteun hierdie afleiding.  Daar is nooit sprake van fisieke aanrandings, amptelike verhore, tronkstraf, teregstellings ensovoorts in die brief nie, maar wel van kwaadpratery (2:12, 3:16), laster (3:16), beswaddering (4:4), belediging (4:14), ens.

Hierdie lyding / diskriminasie is deur die eerste lesers verduur ten spyte van hul onskuld en hul korrekte gedrag (3:13-14, 16), en is dus as ongeregverdig beleef.  Dit was egter iets wat in daardie tyd deur al die gemeentes “dwarsdeur die wêreld” (5:9) beleef is.

 

Skrywer: Ds Dirk Venter