Die Openbaring aan Johannes – Die eerste vier trompette (8:6-13) – Francois Malan

image_pdfimage_print

8:6-7 Die eerste trompet – hael en vuur met bloed gemeng: Met die oopbreek van die vierde seël (6:8) is ‘n kwart van die aarde doodgemaak deur vier plae. Met die blaas van die eerste trompet is ‘n derde van die aarde en ‘n derde van die bome verskroei maar al die groen gras verbrand – drie dele van die skepping word genoem. ‘n Derde is groter as die kwart met die vierde seël. Die intensiteit van die oordeel word groter. Die getal drie loop deur hoofstuk 8 en 9. Die verwagting word gewek dat die tyd aan die uitloop is.

Die eerste trompet bring ‘n eienaardige mengsel van koud en warm: vuur en hael, wat die onnatuurlikheid van die plaag onderstreep met ‘n eggo van die sewende plaag in Egipte se donderslae, bliksems en die haelstorm (Eks 9:23-24 sê letterlik: en die Here het donder en hael gestuur, en die vuur het afgehardloop na die grond toe…en daar was hael, en vuur het opgevlam tussen die hael). Die vuur en hael wys heen na die ineenstorting van die skepping, en ‘n omkeer van die derde dag van die skepping se groenigheid, groen plante en vrugtebbome (Gen 1:11-12). Die vernietiging van die plante is soos die wêreld tans lyk, nie soos God dit bestem het met die skepping nie. Die bloed en vuur herinner aan Joël 2:30-31se bloed, vuur en rookwolke wat die groot, vreeslike dag van die Here inlei as simbole van God se oordeel.

8:8-9 Met die tweede trompet word iets soos ‘n baie groot berg wat met vuur brand in die see gegooi, wat ‘n derde van die see in bloed verander soos die eerste plaag wat die water in bloed verander en die visse laat vrek het, as God se straf op die Egiptenaars (Eks.7:20-21). Hierdie plaag voorsien die val van Babilon in hoofstuk 18, soos Jeremia 51:25 se ‘verwoestersberg wat ‘n uitgebrande berg sal word.’ Die tweede trompet se plaag beskryf boosheid se selfvernietigende mag: Die brandende berg Babilon vernietig ‘n derde van die seediere en skepe wat Babilon se ekonomie dra (vgl. Op. 18:9 brand; 18:11 handelaars; 18:17 matrose, 18:19 skepe). Alles word nie verwoes nie, maar hierdie derde is ‘n waarskuwing van wat kom vir die aanbidders van afgode van goud, silwer, koper, klip en hout (9:20), alles materiale wat die skepe van die handelaars vervoer (18:12). Soos die Egiptiese plae vir Israel die voorlopers van hulle verlossing was, is hierdie plae gemik op die gelowiges se verlossing.

8:10-11 Die plae van die eerste twee trompette het die land en die see getref. Die oordeel van die derde en die vierde trompette tref die varswater en die ligte in die hemelruim. Die groot brandende ster wat op ‘n derde van die riviere en fonteine val se naam is Bitterals, wat hulle varswaters bitter en ondrinkbaar gemaak het (vgl. die gifwater van Deutr.29:18; Jer 23:15 as beeld vir die giftige uitwerking van afgodsdiens – so vernetig die afgodsdiensaars hulleself met hulle dors na die onsedelikheid van die afgodsdiens).

8:12 Met die blaas van die vierde trompet verdof die drie hemelliggame, son, maan, sterre, en op aarde is ‘n derde van die daglig daarmee heen. In Egipte was daar drie dae duisternis (Eks 10:21-23; vgl. die treurlied oor die farao in Eseg 32:7-8). Met die vyfde bak word die koninkryk van die dier in duisternis gehul (Op 16:10). Die skepping op die vierde dag word gedeeltelik omgekeer (Gen 1:14-19). Die terugkeer na chaos simboliseer die chaos en duisternis van die rebelse menslike hart wat die oorsaak is van die chaos in die skepping (vgl. Hosea 4:1-3). Die goddelose se stiksienigheid is die oorsaak van die duisternis waarin hulle leef. Die gedeeltelike verduistering skep egter die moontlikheid van bekering waartoe die trompette oproep.

8:13 Die eerste wee! Aan die einde van die vierde trompetgeskal skreeu ‘n vlieënde arend/aasvoël drie weeklagte uit, ouai, ouai, ouai (vgl. Eseg 15:23; ellende, ellende, ellende, vgl. 9:12 – die Afrikaanse woord ellende kom van die Nederlands: uit den lande, ‘n staatlose swerwer; in Grieks is daar net een woord vir arend en aasvoël; die baard aasvoël lyk ook baie soos ‘n arend). Uit die lug waarsku die aasvoël die bewoners van die aarde oor die ellende wat die volgende drie trompette gaan aankondig. In Openb 19:17,21 neem die aasvoëls deel aan God se fees vir al die voëls op die lyke van die goddeloses (vgl. Mat 24:28), terwyl die gelowiges aansit aan die feesmaal van die Lam (Openb 19:9). Die arend het die simbool van die Romeinse Ryk geword. In Openbaring 4:7 verteenwoordig die arend as vierde lewende wese, die hele skepping se gevleuelde diere in diens van God; Die vrou van 12:14 kry twee arendsvlerke om mee te vlug; hier in 8:13 bring die aasvoël God se oordeel. Die ‘ellende’aankondiging word in 12:12 oor die land en see uitgeroep en in hoofstuk 18:10,16,19 is daar drie dubbele ‘ellende, ellende’ aankondigings aan die groot stad Babilon, simbool van die verderflike en oorheersende mag en invloed van die hoofstad en sy leiers. In die tyd van die boek Openbaring was dit Rome, wat hier deur sy arend-simbool gewaarsku word.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...