Die Openbaring aan Johannes – Die groot maaltyd van God (19:17-21) – Francois Malan
‘n Nuwe visioen begin met die roofvoëls en eindig met ‘n makabere toneel wat met ‘n kilheid omweef is (19:17, 21).
19:17 ‘n Engel wat in die son staan dat almal hom kan sien, het met ‘n kragtige stem uitgeroep dat almal hom kan hoor. Hy roep al die voëls in die lug op tot die groot feesmaal van God. Dit is ‘n grusame parodie waar die ‘gaste’ op die spyskaart is. Dit is die teenoorgestelde van die ander parodië in die boek: die draak wat God se mag en heerskappy namaak, die dier uit die see wat Christus na-aap, en die dier uit die aarde wat die Heilige Gees se werking in die kerk se profetiese getuienis met ‘n vals getuienis vervang. Die prostituut Babel is die teenpool van die bruid van die Lam, en Babilon van die Nuwe Jerusalem. So is hierdie groot feesmaal van God ‘n karikatuur van die bruilofsfees van die Lam. Soos die bose die goeie probeer nekomdraai, word die bose hier omgekeerd die slagoffer.
19:18 Die gastelys van hierdie banket sluit alle lae van die samelewing in, geringes en magtiges, vrymense en slawe (sosiale groepe), konings (maghebbers), soldate en hulle perde (militêre groepe), die vleis van hulle almal word ‘n feesmaal vir die voëls. Die woord ‘vleis’ word vyfmaal genoem in vers 18.
19:19 Die dier en sy volgelinge trek op vir ‘n oorlog teen die Ruiter op die witperd en sy volgelinge (vgl. Ps 2:2). Maar geen veldslag word beskryf nie, want die veldslag is reeds aan die kruis gelewer soos die bloed op die Ruiter en sy klere getuig – ‘Hy sal ook self die parskuip van die geweldige toorn van God die Almagtige trap’ (19:15; vgl. Jes 63:2-3). Sy teenwoordigheid as leier van die leërs van die hemel bewys sy opstanding uit die dood. Johannes gebruik beelde uit die Ou-Testamentiese oorlogstaal om die finale oorwinning van God en die Lam te beskryf (vgl. Jes 31:8 sy swaard is nie die swaard van ‘n mens nie; Eseg 38:21-22 Gog se manskappe sal mekaar met die swaard aanval. Ek sal hom tref met pes en dood, wolkbreuke, hael en brandende swael (vgl. Gog in Openb 20:8).
19:20 Die regverdige Regter sit alles weer op hulle regte plek deur die dier uit die see en die dier uit die aarde wat die mensdom mislei het, te vang en in die vuurpoel met brandende swawel te gooi, wat ook beskryf word as die tweede dood (20:14; 21:18). Die dier uit die see word net genoem. Die dier uit die aarde word beskryf met drie van sy kenmerke: (i) vals profeet (soos in 16:13); (ii) hy doen wondertekens voor die aangesig/op gesag van die dier uit die see; (iii) hy mislei dié wat die merk van die dier (gewilliglik) ontvang het – hulle is aktief aandadig; betower deur die wondertekens, wil hulle die merk ontvang (in 13:16 is hulle verplig om die merk te laat aanbring). Die wat die merk ontvang het, aanbid die dier se beeld.
19:21Die res van die mense verwys na die konings en hulle leërs (v19). Hulle word verslaan deur die woord van God, die swaard uit sy mond (13,21). Teenoor Jesus as die vernietigende Woord van God staan die getuienis oor Jesus se woorde en lewe en dood en opstanding, wat die Gees van die profesie is, wat deur die gelowiges gehuldig word (19:10). Vir hulle is Hy die Woord van God wat mens geword het om God aan ons te kom openbaar. Openb 1:16 en 2:12 sê daar kom ‘n swaard met twee snykante uit sy mond; Hebr 4:12-13 sê die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes…Dit is Hy voor wie ons ons moet verantwoord.
Al die voëls het hulle dik gevreet aan die vleis van die lyke van die konings en hulle leërs (vgl. Eseg 39:17-20). Deur die eeue het die lyke van die soldate op die slagvelde gelê, soos die volke van die aarde mekaar uitroei. Volgens 20:13-14 word al die dooies opgewek; elkeen word volgens sy dade beoordeel, en ongelowiges word, netsoos die duiwel, in die ewige vuurpoel, by die twee diere uit die see en die aarde, gegooi (20:10).
Skrywer: Prof Francois Malan