Die Openbaring aan Johannes – Die nuwe hemel en die nuwe aarde (21:1-4) – Francois Malan
Die ontknoping van die verhaal van Openbaring (21:1-22:5) is die veilige aankoms van die pelgrims in die nuwe beloofde land, ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde. Die skepping is herstel, orde is uit die chaos geskep en elke ding is op sy regte plek. Die karakters van vernietiging is in hulle regte plek, die poel van vuur, en dié wie se name in die boek van die lewe geskryf is, is in hulle regte plek, die Nuwe Jerusalem.
21:1-4 Johannes sien die nuwe hemel en die nuwe aarde wat die ou hemel en die ou aarde vervang, en die see wat skei bestaan nie meer nie. Die see is gesien as die oorsprong van die bose (12:18-13:1) – die oorsprong en blyplek van die bose het geen plek in die nuwe hemel en nuwe aarde nie. Die huidige aarde wat verkrag is, en beroof, en verskeur is, gevul met woede en vergelding, met seerkry en pyn, kan nie bly nie, en hoort ook nie voort te bestaan nie. Die aarde was die woonplek van die dier en sy makkers uit die see en uit die aarde (hoofstuk 13). Die ou aarde was die troon van Babilon, die groot prostituut (hoofstuk 18). Daarom moet die ou aarde weg.
Die nuwe skepping is anders as die eerste skepping. Johannes gebruik telkens die woord kainos ‘nuut,’ iets wat nog nie tevore bekend was nie, en die kwaliteit van die nuwe aandui (2:17 ‘n nuwe naam; 3:12 ‘n nuwe Jerusalem en ‘n nuwe naam; 5:9 en 14:3 ‘n nuwe lied; 21:1’n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde; 21:2 die nuwe Jerusalem; 21:5 Ek maak alles nuut).
Die andersheid van die nuwe word in negatiewe terme beskryf deur te noem wat nie meer deel is van die nuwe aarde nie: die see (21:1), die opgaarplek van boosheid en chaos (13:1; vgl. 11:7); dood bestaan nie meer nie, ook nie rou of gehuil of pyn nie (21:4; vgl. Jes 25:8; 65:19); niks wat vervloek is nie (22:3); nag, lamplig, die son bestaan nie meer nie (22:5,23); die beperkings van die ou skepping is verwyder want die eerste dinge het verbygegaan (21:4).
Die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde begin reeds in Jesaja 65:17-19 (vgl. Jes 2:1-5; 18:7; 59:20), met sy profesie oor die terugkeer van die ballinge uit Babel na ‘n nuwe Jerusalem, wat hier in Openbaring sy finale vervulling kry in die kerk van Jesus Christus as die nuwe Jerusalem, wat gereedgemaak is soos ‘n bruid vir die Lam, en waar God self by sy volke sal woon. Die nuwe hemel en die nuwe aarde word een in die nuwe Jerusalem waar God en sy dienaars woon. Die nuwe Jerusalem is ‘n simbool vir God en sy mense se ewige woning, maar die stad van God is ook ‘n simbool vir die gelowiges as volk van God, burgers van God se koninkryk waarin die God van liefde alleen regeer soos ‘n goeie herder.
Johannes sien die oorsprong van die nuwe skepping: dit daal neer ‘van God af uit die hemel’ (vgl. 3:12). Dit is ‘n gawe wat van God kom. Johannes beklemtoon dit deur dit tweemaal van die nuwe Jerusalem te skryf (21:2,10). Dit is in kontras met Babilon wat hemelwaarts reik op ‘sewe berge’ (17:9). Die nuwe Jersalem daal neer op ‘n groot en hoë berg (21:10; Jes 2:2-3 die berg van die Here; Eseg 40:1-2 in ‘n visioen word Esegiël op ‘n baie hoë berg neergesit waar die nuwe tempelkompleks staan in die glorie van die onverdiende genade van die magtige teenwoordigheid van die Here (Eseg 43:7,12) om Israel skaam te maak oor hulle oortredings (Eseg 43:10); Miga 4:1-2 gebruik die simbool van die hoë berg van die Here wat seën bring vir al die nasies. Die nuwe hemel en nuwe aarde wat God geskep het en uit die hemel neerdaal as die woonplek van God beteken dat die skeiding tussen hemel en aarde en God en mens verdwyn, om plek te maak vir een wêreld waar God saam met sy dienaars lewe, en hulle almal as volgelinge van die Lam saam lewe in die selfopofferende liefde van die Lam.
Johannes hoor toe ‘n harde stem van die troon (van God en die Lam) af, wat die neerdaling van die nuwe hemel en die nuwe aarde wat hy gesien het verklaar, soos dit wat hy sien telkens verklaar word met wat hy hoor. Driemaal word gesê: by die mense, by hulle, by hulle (21:3):
Kyk, God se woonplek (letterlik: sy skene, tent, tabernakel) is by die mense – soos met die uittog
Hy sal by hulle woon (letterlik: skenoosei Hy sal tentopslaan) – dieselfde woord as in Jn 1:14 ‘die Woord het mens geword en onder ons kom woon (tentopslaan).’
hulle sal sy volke wees en God sal self by hulle wees as hulle God.
Die verbond wat God by Sinai gesluit het, word nou vervul: Ek sal by julle bly en julle God wees, en julle sal my volk wees (Lev 26:11-12; Jer 31:33; Eseg 37:27). Met die koms van Jesus as Immanuel, God by ons, is dit reeds vervul, en met die Heilige Gees wat in ons kom woon, word dit uitgewerk. Maar die verhouding tussen God en sy volgelinge, wat nou reeds bestaan en geglo word, en iets daarvan beleef word, sal in die ewigheid gesien en ten volle uitgeleef word soos God wil (vgl. 1 Kor 15:28 God sal alles in almal wees).
Daar sal geen trane meer wees nie (7:17; Jes 25:8) – geen leed, smart of pyn meer nie
Die dood sal nie meer daar wees nie – dood, die oorsaak van al die leed, het met die sonde van die mens begin (Gn 2:17).
Want, die eerste dinge het verbygegaan – alles wat herinner aan die ou hemel en die ou aarde.
Skrywer: Prof Francois Mlan