Die Openbaring aan Johannes – Die seëls word oopgebreek (6:1-17) – Francois Malan

Die verhaal van die sewe seëls is verdeel in 4+3=7; vier, die getal van die aarde, vertel die verhaal van die verwoesting op die aarde deur die vier perderuiters (6:1-8); drie, die getal van die hemel, vertel van gebeure in die hemel (6:9-11; 8:1) en geweldige ontwrigtings op aarde (6:12-17). Hoofstuk 8 bring ‘n verposing in die verhaal van die verwoesting met die oopbreek van die sewe seëls (sfragida) deur die teenpool daarvan, met die verseëling (sfragizoo) van die gelowiges met die seël (sfragis) van God, en ‘n beskrywing van die plek waar Johannes en die gelowiges staan, tussen die oopmaak van die sesde en die sewende seël, die tussentyd, met verwagting, maar nog nie die voltooiing van die reis nie. Dit is soos die Israeliete se trek deur die woestyn, na die bevryding uit Egipte, maar nog nie in die beloofde land nie, tussen die chaos en verwoesting van hierdie tyd, en die kalmte en orde van die nuwe tyd. Dit is die tyd en plek van die ballingskap in ‘Babilon’ (simbool van die onderdrukking en dekadensie van Rome) aan die eenkant, en die reis na die nuwe Jerusalem, aan die anderkant. Die oopbreek van die seëls beskryf ook gebeure van ons dag wat wag op vervulling aan die einde. Johannes beskryf die vinnige disintegrasie tot wanorde wat hy sien, en hy hoor die belofte van die herstel van die gebroke skepping deur die Messias wat aan die kom is (22:17,20).

 

Vier ruiters (6:1-8)

6:1 Die Griekse woord ercho kan soms beteken ‘gaan,’ soos in die 1983-vertaling, as opdrag aan die ruiters – hoewel die opdrag om te straf van God af kom, en nie van die lewende wesens af nie; maar ercho word eintlik gebruik vir ‘kom’ en dikwels juis ‘kom’ teenoor ‘gaan,’ soos korrek in die 1933/53-vertaling, wat egter foutief daarby gesê het ‘kom kyk.’ Die 2014-vertaling het slegs ‘kom,’ soos in die Griekse teks. Die ‘kom’ word verskillend verklaar as ‘n opdrag aan Johannes wat moet kyk, of, in die betekenis van Openb. 20:17,20, as ‘n roep tot die Here Jesus om te kom verlos (en te oordeel). Dan is dit wat Johannes sien en wat hy hoor twee teenpole: hy sien die seëls word oopgebreek en die orde van die skepping disintegreer onder die oordeel van die Lam; maar hy hoor telkens een van die lewende wesens wat tot die Lam roep om die gebroke skepping te kom heelmaak. So word die mens se boosheid ingeweef in God se genade plan. Die oordeel kom uit God se almag en heiligheid waardeur Hy sonde en onreg nie ongestraf laat bly nie, maar vir die gelowiges het Christus reeds die straf gedra. So word ‘kom’ ook ‘n oproep aan die goddeloses om tot Christus te kom.

6:2 Johannes sê hy het gesien, en hy roep dringend: ‘kyk’ – kyk goed na die wit perd en sy ruiter met sy boog en oorwinnaarskroon, wat oorwinnend optrek om te oorwin. Op die oog af lyk dit soos die Woord van God wat op ‘n wit perd as regter kom oordeel (Openb 19:11-16), maar as jy mooi kyk, sal jy die valse christusse en valse profete van Markus 13:5,6,22 in hierdie ruiter raaksien. Pyl en boog is simbole van Apollo, die Griekse god van profesié en propaganda. Met sy kroon lyk hy soos Christus, maar dit is ‘n stefanos, ‘n oorwinnaarskroon van ‘n atleetvegter, en nie Openb 19:12 se baie konigskrone nie (diademata); met sy boog oorwin hierdie ruiter met geweld, Openb 19:15 se ruiter oorwin met die vlymskerp swaard van sy mond en sy getuienis aan die kruis. Hierdie ruiter kom eintlik met sy valse propaganda die sending van die ander drie ruiters voorberei deur die mense te verlei, met die wit perd van propaganda, verleiding en opstokery.

6:3-4 Die Lam breek die seëls waardeur die oordeel van God die mense aan hulle eie begeertes oorgee en hulle mekaar vernietig (Rom 1:18,24,26). Die vuurrooi perd bring bloed en vernietiging van lewens deur oorlog. Hy verteenwoordig Markus 13:7-9 se oorloë en gerugte van oorloë, nasie sal teen nasie in opstand kom, en koninkryk teen koninkryk. Hy neem die vrede weg met die swaard (die groot swaard van Rome se simbool van hulle militêre mag); dit spel oorlog en geweld – letterlik staan daar: die mense sal mekaar slag (sfrazoo, genadeloos met geweld), soos die pax Romana (Rome se ‘soort’ vrede), wat 95% van die bevolking onderdruk met slawerny, kruisigings, veldslae, swaardgevegte en gevegte met diere in die arena. Rome se vrede vir sy 5% elite sal plek maak vir die ware vrede wat God en sy Christus uit gernade bring (Openb.1:4).

6:5-6 Toe die Lam die derde seël oopbreek het Johannes die derde engel hoor roep: ‘kom!’ En hy het gesien: ‘kyk! (gee aandag!): ‘n swart perd! (in 6:12 word die son so swart soos ‘n harige sak). Sy ruiter hou ‘n skaal vas om kos af te weeg in ‘n skaars tyd. Hy verteenwoordig hongersnood ná verowering en doodslag. Johannes hoor ‘n stem wat tussen die vier lewende wesens opklink wat die gevolge van die hongersnood aandui: vir ‘n arbeider se dagloon (‘n Romeinse denarius) kan hy slegs ‘n kwartmaat koring en ‘n driekwartmaat gars bekostig – koring en gars, die stapelkos in die Romeinse provinsies – genoeg vir een dag, maar baie duurder as gewoonlik vanweë die inflasie wat die pryse van produkte geweldig opstoot. Olyfolie is noodsaaklik vir lampe, offers, om kos mee te kook, en wyn die veilige alternatief vir besmette water en vir feesviering, dit moet nie beskadig word nie. Vir die hongersnood word ‘n grens gestel deur die stem vanuit die lewende wesens, sodat mense in die noodsituasie kan bly lewe met harde werk. In 8:7 en 16:3 word dit egter veel erger – in 8:7 verbrand ‘n derde van die aarde, in 16:3 gaan alles in die see dood. (Toe Domitianus in 92 n.C. beveel het dat die helfte van Palestina se wingerde uitgekap moes word om plek te maak vir graanlande was die reaksie so heftig dat hy sy bevel moes terugtrek).

6:7-8Toe die Lam die vierde seël oopbreek, roep die vierde lewende wese: ‘Kom!’ Sy ruiter, met die naam ‘Dood,’ ry op ‘n grys-groen perd, die kleur van ‘n lyk. Kort op sy hakke volg ‘Dood’ se metgesel Hades (doderyk) wat die dooies opslurp (in die Bybelse tyd het mense gedink die doderyk is ‘n plek onder die aarde waarheen mense afdaal as hulle sterf). Hulle twee word beperk tot ‘n kwart van die aarde, wat hulle op vier maniere uitwis: met die swaard, hongersnood, ‘n dodelike siekte, aardse wilde diere.

Die viertal word in 6:7-8 viermaal herhaal: die vierde seël, vierde lewende wese, vierde van die aarde, vier plae – om die aard en omvang van die plae op aarde te beklemtoon (vgl Eseg 14:21).

Skrywer: Prof Francois Malan