Die Openbaring aan Johannes – Die tweede tot vyfde engel (16:3-11) – Francois Malan

16:3 Die tweede engel gooi sy bak uit oor die see, en soos die water in bloed verander het in Egipte (Eks 7:20-21), vrek elke lewende wese in die see. In die ou Ooste was die see die blyplek van die Bose en van chaos, ‘n bedreiging wat verwyder moet word om plek te maak vir die nuwe Jerusalem (waar die see nie meer bestaan nie, 21:1). ‘Elke lewende wese’ sluit alle bose wat die wêreld omkrap, in, ook die dier uit die see, wat finaal verwyder word in 19:20.

16:4 Die derde engel gooi sy bak ook uit oor die riviere en fonteine en dit het in bloed verander (soos met die eerste plaag in Egipte, Eks 7:20-21). In Esegiël 29:3 noem die Here die farao van Egipte ‘groot krokodil (draak) wat rustig in jou rivier lê en sê: Dit is my rivier, ek het hom gemaak.’ Die farao van Openbaring, simbool vir die maghebbers van die aarde, gaan verstik in die bloed van die heiliges en profete wat hy vergiet het deur hulle te vervolg en dood te maak (16:6).

16:5-7 is ‘n lofprysing oor die regverdigheid van Hom wat is en wat was (die derde deel: ‘en wat kom,’ soos in 1:4,8; 4:8 word weggelaat, want Hy is nou hier met sy regverdige oordeel), die Heilige (die gans andere wat Hom ook aan die mens toewy). Hy is regverdig ‘omdat Hy oor hierdie dinge geoordeel het,’ waaroor die gelowiges lankal bid. Die lofprysing lewer kommentaar op die eerste vier plae. Wat Johannes hoor, verklaar wat hy sien. Die engele is ook die spreekbuise van die hele omgewing. Hulle verkondig dat God se oordele regverdig is, want: (i) die aarde ontmasker die dwaasheid van afgodsdiens met die swere wat uitbreek (eerste engel); (ii) die bloedige see en varswaters ontmasker die bose se moordadige optrede teen mense en die besoedeling van die omgewing (tweede en derde engel); (iii) die skroeiende son openbaar die mense se harte wat die Naam van God laster (vierde engel).

16:8-9   Die vierde engel gooi sy bak met die Here se toorn uit op die son. Die opdrag word in twee stappe uitgevoer: (i) aan hom is gegee (die son word toegelaat) om die mense met vuur te skroei – die passiewe werkwoord ‘is gegee’ beteken dat die skepping nie op sy eie kan optree nie, maar dat die son reageer op die aanwysing van God. (ii) en die mense is deur die groot (versengende) hitte geskroei. Die mense wat die Lam volg, word beskerm teen die son se hitte en word deur die herder gelei na die verfrissende waters van die lewe (7:16-17; 22:1-2; vgl Eks 8:22; 9:26 waar die Gosenstreek van Israel nie getref is nie). Daarteenoor bring die versengende son die verborge lojaliteite van die dier se volgelinge in die openbaar: hulle sien nie die skepping se kommentaar op hulle korrupte lewens raak nie, maar weier om tot bekering te kom (metanoia verandering van denke en optrede) en aan hulle Skepper heerlikheid te bewys. Hierdie mense word soos diere en laster teen die Naam van God, soos die dier vir wie hulle aanbid (13:5-6). Die twee stappe van hulle optrede: nie tot bekering kom nie….nie aan God heerlikheid gee nie, staan teenoor die Lam se volgelinge: wat vreesbevange geword het…en aan die God van die hemel heerlikheid betoon (11:13).

16:10-11 Die vyfde engel gooi sy bak uit op die troon van die dier, en sy koninkryk is in duisternis gehul…sy troon is die simbool van sy wedywering teen God se troon, om die lojaliteit van die mense se harte te wen; die valse god probeer om die alleenheerskappy oor die skepping te verkry.

Die gevolg van die toorn van God in hierdie plaag is dat die dier se koninkryk in duister gehul is, soos in Egitpe se negende plaag (Eks 10:21-27). Die fisiese duister wat oor die dier se koninkryk uitgegooi word, stem ooreen met die godsdienstige, morele en politieke duister van die dier se regering. Die mense se reaksie op die duisternis is om hulleself te pyning deur op hulle tonge te byt as hulle ondek dat hulle lewenswyse duister is. Maar hoewel hulle pynlik bewus is van hulle verkeerde lewe, het hulle nie berou (metanoia – omkering van denke en dade) daaroor nie, maar gee vir God die skuld; hulle laster die God van die hemel as die oorsaak van die pyne en swere, wat hulle aan hulle self gedoen het. Die feit dat hulle Hom ‘die God van die hemel’ noem is ‘n erkenning dat Hy vanuit die hemel die alleenheerser is op aarde, maar steeds volhard hulle lojaal teenoor die skyn-godheid wat aanspraak maak op alleenheerskappy. Duisternis beskryf ook die plek van die finale oordeel (Mt 8:12 oor ongelowige Jode; Mt 22:13 die man sonder ‘n bruilofskleed; Mt 25:30 die nuttelose slaaf).

Skrywer:  Prof Francois Malan