Die Openbaring aan Johannes – Die val van Babilon (18:1-24) – Francois Malan

In hoofstuk 17 het Johannes die groot prostituut gesien, wat met haar purperrooi en helderrooi klere en baie versierings, maar dronk van die bloed van die heiliges, sit op ‘n helder vuurrooi dier. In hoofstuk 18 hoor Johannes ‘n lang treurlied oor Babilon se val van groot hoogtes af – as verklaring van wat hy gesien het. Hierdie aardse erediens deur die magtiges en rykes, handelaars en matrose vir hulle kortstondige god, is ‘n parodie op die hemelse erediens van hoofstukke 4-5 deur die vier lewende wesens, ouderlinge en engele – die hele skepping – wat die Een op die troon en die Lam loof. Maar terwyl die hemelse vreugdefees die Lam se oorwinning vier, word Babilon se ondergang met ‘n klaagsang betreur deur almal wat gebaat het van haar grootheid en prag. Dit lofsang van hfs 4-5 is ‘n ewige loflied ‘sonder om te rus, dag en nag’ (4:8), want hulle loof Hom wat ewig is. Die klaaglied is egter kortstondig, slegs een uur (18:10,17,19), want die een wat bekla word is van korte duur.

 

18:1-3 Babilon se val

‘n Gesaghebbende engel, beklee met goddelike heerlikheid, daal uit die hemel op die aarde neer (teenoor die dier wat uit die see en die dier wat uit die aarde opkom). God se voortgaande bestuur op aarde word deur die koms van die ry engele uit die hemel beklemtoon. Die naamlose aankondiger van oordeel se voorkoms en stem weerspieël die belangrikheid van sy boodskap. Sy voorkoms verlig die duister wêreld met sy heerlikheid, en sy kragtige stem versterk sy oordeelsboodskap. Sy afgemete ritmiese uitroep: ‘Geval, Geval, het Babilon, die Grote!’ eggo die refryn van die tweede engel in 14:8 as weerklank van Jesaja 21:9 se profesie oor Babilon.

Sy het ‘n dorre woestyn geword wat slegs kan dien as boerplek (gevangenis) vir elke onrein gees (vgl. Mt 12:43), elke onrein voël, en elke gehate wilde dier (vgl. Jes 13:21-22). Die drie stuks onreines beklemtoon die finaliteit van Babilon se val in onreinheid en haar uiterste vernedering. Die groot stad wat eens die bedrywige sentrum van handel en lewe was, is nou die lêplek van die onreines, ‘n spookdorp van verlore glorie. Drie redes word in v3 gegee vir haar omgekeerde status:

al die nasies het dronk geword van haar hartstogtelike onsedelikheid (14:8)

die konings van die aarde het onsedelik met haar verkeer

die handelaars van die aarde het ryk geword uit haar oorrompelende wellus

 

Die seksuele beeldspraak beskryf afgodery met sy gepaardgaande ontug by die afgodsfeeste. Die volksleiers het slawe geword het van Babel se politiek. Handelaars het uit hebsug die ekonomiese grense oorskry. As Babilon die Grote het sy, trots en arrogant, hoogtes vir haar toegeëien wat vir God alleen gereserveer is (vgl. 18:7a sy het haarself verheerlik; 18:7b in haar hart sê sy: Ek sit as koningin). Die grense wat sy oorskry het verteenwoordig haar najaag van vergoddelikking en haar trotse ywer om onbeperkte mag te kry. Dit is ‘n aanslag op die Almagtige God om soos die toring van Babel, die Romeinse Ryk en elke eeu se onderdrukkers te wees. Dit is ‘n ydelheidskermis (Vanity Fair). Die stad van hierdie wêreld styg ten hemel in hulle strewe om soos God te wees (die provinsies van die Romeinse Ryk is leeggemelk om die adel van Rome te voed in hulle luukse leefstyl en weelde).

 

18:4-20 Die begrafnis

18:4 ‘n Ander stem uit die hemel gee die finale oproep: God se mense moet die aardse stad verlaat voordat dit te laat is (Jer 51:45). Vir ons is dit fisies onmoontlik om die stad van die ballingskap te verlaat. Dit is die plek waar die mense van die aarde bly, maar ook die plek waar God se mense in die tussentyd tussen Christus se eerste en tweede koms bly. God se mense kan slegs figuurlik uitgaan uit die stad deur aktief te weier om die stad se maatstawwe, waardes en gelowe te aanvaar. ‘Uitgaan’ is ‘n metafoor vir ‘n innerlike verandering. Om uit Babilon te gaan is nie ‘n geografiese verskuiwing nie, maar ‘n innerlike reoriëntering, ‘n verandering van denke en optrede. Die trek na die nuwe Jerusalem is ‘n voortgaande reis van losmaak, jou distansiëer van die stad van die wêreld se denke en manier van lewe; ‘n geestelike, ekonomiese en politieke opstand teen die stad se onregverdige en korrupte waardes. Daarom sê die hemelse stem: ‘gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie ook deelneem aan haar sonde nie (of jou daarmee assosieer nie), en julle haar plae nie oor julle bring nie. (Lot moes letterlik vlug uit die bose Sodom; Gen 19:15,17, die land wat hy self gekies het, Gen 13:10-13; 2 Kor 6:14-18 wys weer op ‘n ontrekking deur gelowiges om nie in die samelewing aan te raak wat onrein is nie).

Skrywer:  Prof Francois Malan