Die Openbaring aan Johannes – Die vierde seënspreuk (19:9-10) – Francois Malan

19:9 Hierdie loflied word afgesluit met die vierde van die sewe seënspreuke in die boek. Die gaste by die Lam se bruilofsfees is geseën. Dit lyk na ‘n verwarring dat die gemeente beskryf word as die bruid en die genooide gaste, maar dit is twee eienskappe van die kerk se lewe wat met die twee metafore beskryf word. Die hele kerk, al Jesus se volgelinge, is saam sy bruid. 19:7 sê God se mense maak hulleself gereed vir die fees deur vas te hou aan die getuienis oor/van Jesus, deur in Hom te bly glo en sy nuwe gebod uit te leef. 19:9 sê hulle is God se genooides of ‘geroepenes’ (keklemenoi passiewe voltooide tyd van kaleoo: om iemand te vra om die gasvryheid wat aangebied is te aanvaar, daarom uitnooi; of, iemand dringend uitnooi om verantwoordelikheid te aanvaar vir ‘n spesifieke taak met ‘n nuwe verhouding met die een wat roep, daarom geroepernes). Die twee metafore druk die paradoks uit van die bruid se verantwoordelikheid om haar met regverdige dade voor te berei vir die huwelik waartoe sy as bruid uitgekies is, Dit sluit in dat God deur die gelowiges se lewe en woorde ander mense uitnooi; die gaste ontvang die uitnodiging van die bruidegom na sy bruilof deur die getuienis van die volgelinge van die Lam. (vgl. 19:10).

Johannes kry die opdrag om die waar woorde van God se seën neer te skryf as God se blywende versekering vir al die gelowige lesers en ‘n uitnodiging aan ongelowiges om tot geloof te kom. Die woord makarios ‘geseënd’ verwys na iemand wat gelukkig en bly voel oor gunstige omstandighede, hier oor die bruidegom se uitnodiging na sy huweliksfees, en dit met dank aanneem.

 

19:10 Hoewel Johannes die opdrag kry om te skryf, val hy ‘voor die engel se voete neer om hom te aanbid (soos ook in 22:8). Sy optrede illustreer ‘n prominente tema in die boek, nl. misplaasde aanbidding van die skepping/skepsel en nie die Skepper nie: die aarde se mense val voor die dier in aanbidding (13:12,14,15). Skynbaar is dit ‘n algemeen menslike neiging (vgl. Rom 1:21-23). Die engel se berisping: ‘Moet dit nie doen nie!’ en sy opdrag: ‘Aanbid God’ is ‘n op-die-man-af herinnering aan Eks. 20:3,5 ‘Jy mag naas My geen ander gode hê nie…jy mag jou nie voor hulle neerbuig en hulle dien nie…’

Die engel is ‘n mede-dienskneg (letterlik: mede-slaaf) van Johannes en sy mede-gelowiges, ‘wat die getuienis oor en van Jesus huldig.’ In Openbaring buig die engele telkens in aanbidding voor Hom wat op die troon sit en die Lam (5:11; 7:11); Die woord angelos beteken boodskapper, en in Openbaring dra die engele telkens boodskappe van God oor. Die engel sê hulle is ook getuies oor wie Jesus is en wat Hy gedoen het en doen. Hulle getuienis word verder verduidelik, ‘want die getuienis oor Jesus is die Gees van die profesie.’ Soos die Gees die profete geïnspireer het (vgl. 2 Tim 3:16) en inspireer (bv. Openbaring as profesie, 1:3; 22:7,10,18-19), praat die Gees met die gemeentes deur die profete, en praat die Gees deur die gemeentes met die wêreld. Die inhoud van dié profesie is die getuienis oor Jesus (vgl. by 19:9).

Skrywer:  Prof Francois Malan