Die Openbaring aan Johannes – Die vrou op die vuurrooi dier (17:7-18) – Francois Malan
17:7 Soos die dier uit die see (13:1-10) het hierdie dier waarop die vrou sit, sewe koppe en tien horings. Openbaring se skildering van mense en instellings as afskuwelike diere beklemtoon die monsteragtige aard van die boosheid. Terwyl die vrou die misleidende gesig van die boosheid is, is die dier wat haar dra die boosheid se aaklige werklikheid. Die dier het al die merktekens van iemand wat hom as god voordoen: die sewe koppe met al die menigte godslasterlike name op, verkondig sy eis van totale heerskappy, en die tien horings verbeeld totale krag.
17:8 Dit wat Johannes gesien het, word van Bo af verklaar om die gelowiges te help om te verstaan wat om hulle aangaan. Die dier was (verlede), is nie (tans) en hy is op die punt om uit die bodemlose diepte (plek waar die bose geeste gevange gehou word) op te kom op pad na sy ondergang (toekoms). Dit word nog twee maal gestel, telkens met klein wysigings: 17:8b en 17:11. Die middelste stelling ‘is nie’ is eienaardig. Die ongelowige mense, wie se name van ewigheid af nie geskryf is in die boek van die lewe nie, is verwonderd, betower deur die dier, omdat ‘dit was, nie is nie, en sal opkom en gaan…’ Die drie beskrywings is ‘n nabootsing van God (4:8) as die teenstander en teenpool van God:
Waar God van ewigheid af was as die Skepper en Onderhouer van Lewe en Lig, was die bose al lankal besig in die skepping, die afbreker wat dood en duisternis bring met sy leuens (Gn 3:4-5 ‘julle sal beslis nie sterf nie, maar julle oë sal oopgaan en julle sal soos God wees deur goed en kwaad te ken;’ Jn 8:44: Hy was van die begin af ‘n mensemoordenaar, die vader van die leuen).
Die Satan (‘teenstander’) se is nie staan teenoor God se Ek is, die ewige teenwoordige Skepper van
Lewe. Die bose is nie, as die negatiewe teenpool van God se Ek is wat lewe is en gee – Rm 8:20-21: die skepping is onderwerp aan futiliteit, ‘n sinlose bestaan, aan nietigheid, verganklikheid (verrotting), morele verval.
Die dier is op die punt om uit die bodemlose diepte op te kom en na sy ondergang toe te gaan. Sy oorsprong is die bodemlose diepte en sy bestemming vernietiging. Daarteenoor is die Here, die Almagtige, die een wat aan die kom is (4:8), maar volgens 16:5 se weglating van sy koms het die Heilige reeds gekom met sy regverdige oordeel.
Die ongelowiges se name is van die begin van die skepping af nie opgeskrywe in die boekrol van die lewe nie (3:5 waaruit die Here nie die name van hulle wat oorwin sal uitwis nie). Hulle staan verbaas oor die bose wat van die skepping af al daar was, en nie is nie, en sal wees/sal kom in nabootsing van Christus se lewe, sterwe en opstanding. Ten spyte van die duiwel (‘aanklaer’) se neerlaag met Christus se sterwe aan die kruis, wat alle aanklagte teen die gelowiges op Hom geneem het, herleef die bose telkens weer, vier die bose hoogty in die wêreld en verlei die mensdom om hulle rug op God te draai, vir hulleself te veg en te lewe, en nie vir God en die medemens nie.
17:9-11 Die wysheid en insig wat nodig is om die aardse gebeure in die lig van die hemelse te verstaan, kom van God af. Die engel lê die simboliese figure uit: Die sewe koppe is sewe heuwels waarop die vrou sit as simbool van haar beheer oor die regeerders, die sewe koning (Die verklarings loop telkens vas, wat die konings probeer identifiseer met die keisers van Rome, die stad op 7 heuwels gebou – Aventinus, Caelius, Capitolonium, Esquilinus, Palatinus, Quirinalis, Viminalis, oos van die Tiberrivier, en in die 4e eeu v.C. met ‘n muur omring is).
Simbolies is die getal 7 in Openbaring telkens ‘n aanduiding van voltooidheid, en verteenwoordig hier die volle menslike heerskappy wat besig is met ‘n self-heerskappy wat homself vergoddellik, en met sy optrede die gesag en plek van God probeer oorneem. Die Romeinse ryk is daarvan die voorbeeld in Johannes se tyd, maar die beeld pas ook op elke tiranniese regering, van Egipte, Assirië, Babilon, Medië, Persië, Griekeland, Rome, tot in ons dag. Die 5 konings + 1 + 1 is ook sewe, en kan al die keisers van Rome aandui, of ook alle heersers van alle tye.
Die dier is die antichris, die agste kop/heerser, wat aan die ander sewe verbind is, of wat uit hulle kom op pad na die verderf. Hy doen hom voor as die Christus. Jesus het op die sesde dag van die week gesterf, die 7e was Hy in die graf, op die 8e dag het Hy opgestaan, die nuwe dag van ‘n nuwe begin. So is die dier deur Christus se offer verslaan, en nou maak hy of hy ook uit die dood opgestaan het vir ‘n laaste kragvertoning teen alles wat goed is.
Skrywer: Prof Francois Malan