Die Openbaring aan Johannes – Filadelfia (3:7-13) – Francois Malan
Die stad Filadelfa (‘broerliefde’; huidige Alasehir) lê 40 km suid-oos van Sardis, in die vrugbare Hermusvallei, in ‘n aardbewingsstreek. Dionisos (=Bakgus), die god van wyn en vrugbaarheidspartytjies, was destyds sy beskermgod.
3:7 Die boodskap kom van ‘Die Heilige, Die Ware, wat die sleutel van Dawid hou, wat oopmaak en niemand sal dit toesluit nie, wat toesluit en niemand sal dit oopmaak nie’ – in die Ou Testament is ‘die Heilige’ en die ‘Ware’ titels vir God, die gans andere, en dié Een wat vertrou kan word (Jes. 1:4; 37:23; Hab. 3:3; Jer. 42:5; in die Nuwe Testament is God die geloofwaardige getuie van Joh. 7:28, die enigste ware God van Joh. 17:3; en Jesus se getuienis is waar, Joh. 8:14). In Op. 1:18 hou Jesus die sleutels van die dood en die doderyk om vir die gelowiges die dood te verander in ‘n deurgang na die lewe; Jesus het die sleutel van Dawid wat die deur na die Messiaanse koninkryk oopmaak (Op. 3:7; vgl. Jes. 22:20-23). Jesus is die enigste sleutel tot die nuwe Jerusalem, al sluit die Jode die sinagoge in Filadelfia vir die Christene.
3:8 Soos die gemeente in Smirna, het die Here geen klagte teen die gemeente en leier in Filadelfia nie. Die Here ken hulle werke. ‘Kyk, Ek het voor jou ‘n oop deur gegee wat niemand kan sluit nie…’ – die deur kom in Openbaring vier maal voor as ‘n beeld: hier en tweemaal in 3:20 waar Jesus voor die deur staan en klop by Laodisea; in 4:1 word ‘n deur na die hemel vir Johannes geopen om van Bo af die geheimenisse van God se plan met die wêreld te sien. So kry die leier en gemeente van Filadelfia insig in die geheimenisse van die messiaanse koninkryk, om hulle lyding en probleme saam met Jesus uit God se oogpunt te sien. Wat op aarde as ‘n neerlaag beskou word, is van Bo af gesien ‘n oorwinning.
‘Al is jou krag min, was jy gehoorsaam aan my woord en het jy my Naam nie verloën nie’ – sy uiterlike voorkoms van swakheid het nie die leier en gemeente se besluit verydel om getrou te bly om die woord van die Here te gehoorsaam en nie sy Naam te verloën nie. Hulle het getrou bely dat Jesus die Seun van God, die Verlosser is – teenoor die Jode van Filadelfia wat geswig het voor die keiser-verering en Jesus nie as hulle Messias/Christus wou aanvaar nie.
3:9 ‘Kyk, Ek laat toe dat daar mense uit die sinagoge van die Satan kom wat beweer dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar lieg – kyk, Ek sal sorg dat hulle kom en voor jou voete neerbuig, en erken dat Ek jou liefhet.’ Dit is dieselfde beskrywing as van die Jode in Smirna (2:9). Jes. 60:2-4 se verwagting is dat die lig wat in Jerusalem skyn die nasies uit hulle duisternis sal trek na die magtige teenwoordigheid van die Here. Van Bo af word die Jode saam met die heidense volke gereken. Jesus het voorspel: As Ek van die aarde af verhoog is (aan die kruis), sal Ek almal na My toe trek (Joh. 12:32-33; vgl. Jes. 2:3; 45:14; 49:23; Eseg. 36:23).
3:10 Die tweede belofte is dat, soos hulle vashou (gehoorsaam) aan Christus se woord en geduldig verdra onder moeilike omstandighede, Christus die gelowiges sal vashou (bewaar, ook 3:8) ‘in die uur van beproewing wat oor die hele bewoonde wêreld gaan aanbreek om die bewoners van die aarde op die proef te stel.’ In hulle swaarkry gee Hy aan hulle krag en volharding. Die swaarkrytyd strek van Jesus se eerste koms tot by sy wederkoms. Dit is ‘n tyd van sifting tussen mense wat vir God kies en ander wat valse gode verkies, tussen God se vyande en sy vriende, saam met die Lam op pad na die nuwe Jerusalem of gevestig in Babilon. Christus beskerm sy volgelinge in die oordeel, maar nie teen die wraak van die Satan nie. In die vervolging is gelowiges deel van Christus se kruisdood, opstanding en verheerliking (Mat. 16:24-25; Rom. 8:17).
3:11 Dit is die vierde maal wat Chrisus se spoedige koms met bekering verbind word: aan Efese: Bekeer julle anders sal Ek kom en julle lampstaander wegneem (2:5); aan Pergamum: Bekeer julle anders kom Ek gou en sal Ek daardie mense bestry met die swaard van my mond (2:16); aan Sardis: Bekeer julle…anders kom Ek soos ‘n dief in die nag (3:3); aan Filadelfia: Ek kom gou. Hou vas wat julle het sodat niemand julle kroon wegvat nie (3:11). Soos in 22:7,20 is hierdie refrein in 3:11 positief gestel. Vir die gelowiges in Filadelfia beteken Christus se koms beloning en regverdiging. Sy wederkoms is ‘n goue draad in Openbaring van 1:7 af tot 22:20. Wat die gemeente het is die geopende deur wat hulle burgerskap van die Christusryk verbeeld; die lourierkrans as simbool van hulle geestelike oorwinning, deur Christus aan hulle toegeken. Dit kan die Jode en Satan nie van hulle wegneem nie, maar as hulle met die ongelowige samelewing sou begin saamloop kan hulle soos gekroonde atlete gediskwalifiseer word.
3:12 Terwyl ‘n kandelaar maklik verwyder kan word, is ‘n pilaar ‘n steunpunt wat sorg dat die gebou nie inmekaar stort nie en kan nooit verwyder word nie – ‘wat nooit weer daar sal uitgaan nie.’ God en sy kinders word verenig in een ewige gebou – ‘die tempel van my God.’ In 21:22 word gesê dat daar nie ‘n tempel in die nuwe Jerusalem is nie, want die Here God, die Almagtige, en die Lam is haar tempel (vgl. Joh. 2:19-21; 1 Kor. 3:17; 6:19).
[Al wat tans van die Bizantynse kerk in Filadelfia oorgebly het is twee yslike pilare. Net oor die straat is die oorblyfsels van wat ‘n klein Joodse sinagoge was]
Drie name beskryf die nuwe identiteit van die gelowiges:
i die Naam van God word op hulle geskryf, soos ‘n brandmerk, as teken dat hulle aan God behoort;
ii die naam van die stad van God, die nuwe Jerusalem, wat uit God se hemel afdaal – waarvan hulle nou burgers is, en nie van die bose Babilon wat op sewe heuwels gebou is soos die aardse Rome (17:9) en strewe om God te wees wat opklim hemel toe soos met die toring van Babel nie. Hulle nuwe adres is die stad van God, die ander soort stad (vgl. Eseg. 48:35 vir die naam van die stad: ‘Die Here is daar’).
iii en ook my nuwe Naam (saam met die Naam van God) – volgens 7:3 en 22:4 word gelowiges op hulle voorkoppe gemerk as simbool vir hulle denke, en in 14:1 ook met die Naam van die Lam en van sy Vader (vgl. Eks. 28:36-38: op die goue blom op Aäron se tulband is gegraveer: ‘Aan die Here gewy,’ as teken dat die Here Israel goedgesind is). Wat Christus se nuwe naam sal wees sal ons by sy wederkoms hoor – vgl. 19:12. ‘n Naam wat niemand anders ken nie as net Hy self. Hy is die Heilige, die Ware, wat aan die gemeente ‘n oop deur gegee het wat niemand kan sluit nie (3:8).
3:13 Die dringende oproep aan alle gemeentes, om te luister na die Gees, vereis oop ore van bereidheid om die boodskap gehoorsaam uit te lewe.
Skrywer: Prof Francois Malan