Die Openbaring aan Johannes – Francois Malan

1:1-8 Die voorwoord antisipeer die naskrif (22:6-21) om die hele boek te omsluit. Tussenin is dit deurmekaar; die chaos deur die vervolging van die kerk in die wêreld. Maar die boek vertel eintlik hoe God alles en elkeen aan die einde in sy regte plek plaas. Die balans en simboliese parallelle van die begin en einde van die boek wek by lesers en hoorders die verwagting en uitsien na die orde en harmonie wat God uit die chaos skep. Dit bied ‘n gesig op dit wat in die wêreld agter die skerms gebeur, van Bo af gesien.

‘Ek is die Alfa en die Omega’ is die anker van die inleiding (1:8) en die slot (22:13). ‘Die bestemde tyd is naby’ in 1:3 en 22:10, kondig aan dat alles op die regte tyd in die regte orde geplaas sal wees. Die klimaks van die proloog en van die epiloog is die welkome nuus van Jesus se koms om die gebroke skepping te herstel (1:7; 22:20). Die antwoord van die gemeente op die nuus is die dubbele bevestiging: (i) in Grieks ‘nai’ – ja,/vir seker; en (ii) in Hebreeus: ‘amen’ – in der daad/waarlik (1:7; 22:20).

Die getalle en beelde is simbole uit die Ou Testament wat deur die eeue gebruik word om gebeure met gelowiges in ‘n ongelowige wêreld te tipeer, en is vir elke geslag van toepasssing.

Johannes se woordkuns blyk uit die inleiding se patroon van telkens ‘drie’ woorde en frases, met ‘n begin en einde wat die inhoud omsluit. Die woord vooraf het twee dele:

1:1-3 (i) titel, (ii) hoofkarakters in die verhaal, (iii) eerste van sewe saligsprekings in die boek.

1:4-8 (i) brief-opskrif, (ii) seën (iii) twee profetiese woorde.

 

Voorwoord (1:1-3)

Die voorwoord suggereer wat die leser in die werk gaan ontmoet – die woord ‘openbaring’ wys na ‘n nuwe gesigspunt om dinge van Bo af te sien. Die Griekse woord apokalupsis praat van iets wat bedek was en oopgemaak word, ‘n onthulling. Die leser kan dinge verwag wat slegs verstaan kan word as dit van Bo af oopgemaak word – anders as die gewone beperkte aardse gesigpunt van mense, is dit die gesigspunt van Bo af wat sin maak van die dinge en gebeure op aarde.

‘deur/van Jesus Christus’ wys na Hom as die bron van die openbaring van God, maar dit is ook die openbaring oor Jesus, wat vir ons Jesus Christus se verhaal en boodskap met lewendige prente skets, goeie hoopvolle nuus, in ‘n wêreld vol slegte nuus en nood. Dit openbaar die betekenis en belangrikheid van Jesus se lewe, dood, opstanding en finale verskyning vir die geskiedenis van die wêreld. Sy volle titel, Jesus Christus, word slegs driemaal in Openbaring gebruik (1:1,2,5): ‘Jesus’ beteken ‘Jahweh/die Here, is Verlosser’ (Mat 1:21); ‘Christus’ is die Grieks vir die Hebreeuse titel ‘Messias,’ ‘Gesalfde,’ gesalf/aangestel en toegerus as koning, priester, profeet. Dit is Hy wat God aan ons kom bekendmaak. Die ketting van openbaring is: God-Christus-engel-Johannes-slawe/diensknegte van Jesus.

Die inhoud van die openbaring is ‘wat gou/binnekort moet gebeur’ – dit word herhaal in 1:3 met ‘want die bestemde tyd is naby’ wat alles tussenin omsluit. Soos wat daar ‘n ruimtelike gesigspunt is (‘van Bo’ teenoor ‘van onder’) is daar ook in Openbaring ‘n tyd-gesigspunt: ‘gou,’ om die dringendheid van die boodskap te beklemtoon, teenoor ‘nog nie,’ om die noodsaaklikheid van volharding te ondertsreep. Jesus kom ‘gou’ weer, die bose word vernietig, en die nuwe hemel en die nuwe aarde word geskep. Die ‘nog-nie’ loop deur die hele boek. Die einde word vertraag. Die martelaars se vraag ‘hoe lank nog’ word beantwoord met ‘rus nog ‘n bietjie langer (6:10-11). Met die oopmaak van die sewende seël lyk dit of die einde om die draai is (8:1-5), maar dan ontvou die verhaal nog oor die volgende 18 hoofstukke. Met die sewende trompet lyk dit of die einde daar is (11:15), en dan gaan die tyd nog voort. Dié spanning is deel van God se naam (1:4) ‘die Een wat is, en wat was, en wat besig is om te kom’ – Hy is nou besig om in te breek in die lewe van sy hoorders om hulle wakker te skud vir nuwe en vars maniere van lewe. Die eindgebeure het alreeds begin met die oorwinning van die Lam, en sy wederkoms sal dit afsluit. Dit kom vir seker en die gelowiges moet elke dag gereed wees, deur nou al nuut te lewe in die verwarde wêreld. Die Satan weet hy het min tyd oor (12:12) en kom dus met ‘n felle aanslag. God is egter verhewe bo menslike en aardse tyd , en bly in beheer van die tyd. Hy wag tot die gelowiges voltallig is (Op 6:11; 2 Petr.3:8).

Die woord marturia ‘getuienis’ en marturein ‘getuig,’ wat drie maal in die opening voorkom, is ‘n belangrike tema van die boek. In 1:2 kom dit tweemaal voor: Johannes het vir die woord van God getuig; tot getuienis deur/van Jesus Christus. In 1:5 word Jesus Christus ‘die getroue getuie’ genoem. Dit word gebruik soos in die hof, waar getuies geroep word om oor die waarheid te getuig, soms selfs met hulle lewens. In hierdie boek getuig Jesus eerste en Johannes getuig verder oor die woord van God. Ander sal geroep word om te getuig, selfs met hulle lewe, soos Jesus, bv. Antipas 2:13 (vgl. 6:9; 12:11; 17:6; 19:10). Die twee getuies van Openb. 11, wat kwaai teenstand kry van die dier en die bewoners van die aarde, verteenwoordig die getroue getuienis van die kerk in die wêreld.

Die twee-stap stelling ‘die woord van God’ en ‘die getuienis van Jesus’ ontwikkel die inhoud van Johannes se getuienis. Die tweede deel verduidelik die eerste: die woord van God is die getuienis oor Jesus se woorde en dade, sy sterwe en opstanding. As ‘die getroue getuie’ is Jesus die voorbeeld vir die gelowiges (14:5) – die verdraaiing van die waarheid is die kenmerk van die dier wat vir Jesus na-aap (13:14).

Die voorwoord sluit met die eerste van die sewe saligsprekings (makarios – geseënd of gelukkig: 1:3; 14:13; 16:15; 19:9; 20:6; 22:7,14). Sewe is die volle verbondsgetal van God met sy skepsels – drie vir die goddelike, plus vier vir die skepping. Dit bevestig die volheid van die seën vir dié wat die woord hoor en daarby bly. Die dubbele seën, aan leser en hoorders, veronderstel dat iemand die woorde van die profesie hardop voorlees. Openbarings kom ook telkens met harde geluide om seker te maak dat almal hoor en dat die gemeentes dit onderhou. Dit veronderstel aandagtig luister, die woorde ter harte neem en daarvolgens lewe. Die tema van ‘ore wat luister’ word by elkeen van die sewe briewe herhaal (2:7,11,17,29; 3:6,13,22; vgl. 13:9; 14:12; 22:7). Die klem val op gehoorsaamheid aan God se opdragte as die vervulling van die gelowiges se volharding. ‘n Hele lewe volgens God se opdragte is wesenlik deel van hulle oorwinning..

SkrywerProf Francois Malan