Die Openbaring aan Johannes – Opdrag aan Johannes (1:9-11) – Francois Malan

Johannes is die ooggetuie van wat in die boek beskryf word. Sy handtekening omsluit die hele boek:

1:9 ‘Ek, Johannes…was op die eiland Patmos deur die woord van God en die getuienis van Jesus.’

22:8 ‘En ek (is) Johannes, wat al hierdie dinge gehoor en gesien het.’

Daarmee onderstreep Johannes die egtheid van die openbaring wat Hy ontvang het. Waarskynlik was dit juis sy prediking van God se woord, nl. sy getuienis oor Jesus in Klein-Asië, dat hy verban was na die eiland Patmos, 104 km. van Efese af, en 60 km. see in van Milete af (dit was moontlik tydens die Christenvervolging onder die Romeinse keiser Domitianus 94-96 n.Chr.). Hy noem homself die broer, adelfos, ‘n mede-gelowige, van die lesers, wat saam met hulle, in gemeenskap met Jesus, deel het aan:

i die verdrukking – die geboortepyne van die laaste dae, vanaf Jesus se hemelvaart tot die geboorte van die nuwe wêreld met sy wederkoms (Mt 24:21,29; Rom 8:35). Die verdrukking is ‘n oproep om Babilon te verlaat en nie deel te neem aan haar sonde nie;

ii die koninkryk van God – waarin die gelowiges lewe en deel het, teenoor die lewe van die valse koninkryk van Babilon. Deur Christus se koningskap oor jou lewe te aanvaar, word jy deel van sy heerskappy op aarde.

iii geduldige uithou/volharding – die hoof Christelike deug is volgehoue verbondenheid aan Jesus met gehoorsaamheid aan sy liefdesgebod (Op 14:12; Joh 13:34); sewe maal word die hoorders opgeroep tot konstante weerstand teen die dier en Babilon se waardes en norms en teen geloof/vertroue op hulle en hulle misbruik van mag (1:9; 2:2,3,19; 3:10; 13:10; 14:12).

 

Johannes sien die gelowiges se antwoord op die afgodsdiens deur nie daaraan oor te gee of daarby aan te pas nie, maar ook nie as geweldadige teenstand daarteen nie. Dit is eerder ‘n aktiewe weerstand wat gemotifeer word deur Jesus se voorbeeld van nie-geweldadige weerstand – sy ‘Ja’ vir God en ‘nee’ vir menslike geweld. In Openbaring word dié weerstand gesimboliseer deur die beeld van die Lam as die gekruisigde Seun van God. Met sy liefdesoffer oorwin Jesus die sonde en die dood.

 

1:10 Die openbaring aan Johannes het ook ‘n tydsbepaling: ‘op die dag van die Here’ – dit is die vroegste gebruik in die geskrifte van die kerk van dié naam vir Sondag, die opstandingsdag (vgl. Didagé 14:1 – geskryf tussen 100-150 n.Chr.; 1 Kor 16:2 ‘die eerste dag van die week’) – dit is die dag van die begin van die nuwe lewe, van die viering van Christus se oorwinning oor die dood.

 

Op die betrokke Sondag was Johnnes ‘in die Gees/deur die Heilige Gees in besit geneem’ – onder die verligting en leiding van die Gees sien en hoor hy bonatuurlike dinge met sy sintuie en by sy volle bewussyn. Hy hoor ‘n stem so luid soos trompetgeskal (die sjofar/ramshoring was deel van die Sinaiverskyning, Eks. 19:16; 20:18; in die Griekse vertaling salpingos, trompet) – dit is tipies van die geluide en lawaai van hierdie raserige brief. Die harde geluide en rammelings skud Johannes en die hoorders wakker uit hulle selftevredenheid met die gewone. Daarom draai Johannes om, nie om te hoor wat gesê word nie, maar om te sien wie se stem(!) dit is (1:12).

 

1:11 Die volgorde van die sewe gemeentes volg die handelsroete van Efese aan die kus, met die kuspad noord na Smirna en Pergamum, dan suidoos, land in, na Tiatire, Sardis en Filadelfia, en terug op pad Efese toe deur die Likus-vallei tot by Laodisea. Johannes stop by die simboliese getal sewe as verteenwoordigers van die kerk oor die hele wêreld. Wat spesifiek van en aan elk van die sewe gemeentes gesê word, is waar van en vir elke gemeente op aarde deur die eeue.

 

Die opdrag aan Johannes is om wat hy sien in ‘n boekrol op te skryf en dit aan die gemeentes te stuur. Die opdrag om neer te skryf wat hy sien kom 12 keer in verskillende vorms in die boek voor (7 maal in hoofstukke 2-3). Johannes skryf nie sy eie verhaal nie, maar net wat hy sien en hoor, wat hy van Christus ontvang. Dit is die gesag van sy woord en ‘n waarskuwing aan ongehoorsames. In 1:19 word herhaal: ‘skryf neer wat jy gesien het…’ en 1:20 verwys weer na die sewe gemeentes. Tussen 1:11 en 1:19-20 word die gesig beskryf wat Johannes van ‘Een soos ‘n mens’ gesien het – ‘Een soos ‘n mens’ word beklemtoon deur die herhaalde skryf- en stuur-opdrag, wat die raam vorm waarin die gesig geplaas word.

Skrywer:  Prof Francois Malan