Die Openbaring aan Johannes – Pergamum (2:12-17) – Francois Malan

image_pdfimage_print

a Dieselfde dringende opdrag aan Johannes om te skryf as aan Efese en Smirna, word ten opsigte van Pergamum herhaal.

 

Die sentrum van Pergamum (vandag lê die stad Bergama langs die ou stad se baie oorblyfsels) was die akropolis met die groot tempel vir Atene die godin van leiding, wysheid en oorwinning, ‘n hele aantal ander tempels, ‘n amfiteater met 10,000 sitplekke teen die steil kant van die 350meter hoë heuwel uitgekap, ‘n weelde-altaar vir die hoofgod Zeus aan die anderkant van die heuwel (tans in die Berlynse museum), die beroemde bibioteek met 200,000 perkament boekrolle (gemaak van jong diere se velle – perkament is na dié stad genoem), ‘n waterskema wat water 42 km aanbring en deur die laaste vallei met ‘n pyp vanaf ‘n opgaardam op ‘n hoogte van 376 meter vir 3km ondergronds hewel tot bo-op die akropolis; in die vlakte loop die heilige marmer straat verby die tempel vir die Egiptese Serapis, god van die onderwêreld en die dood, na die Asklepium, die mediese sentrum, met sy baddens, slange, kleinteater en tempel vir Asklepius, die god van genesing.

 

b Die boodskap kom van Hom ‘wat die skerp swaard met die twee snykante het’ – volgens 1:16 en 2:16 is dit die swaard van sy mond, die woord van God waarmee die Seun van die mens oorwin; sy swaard is nie in sy hand, soos van ‘n Romeinse soldaat nie, Hy oorwin nie met wapens van geweld nie (die groot swaard, romfaia, was die Romeinse simbool van hulle mag en reg). Christus se woorde spreek gelowiges vry, maar veroordeel die verkeerde en dié wat daarin volhard (Ps 146:7-9). En Hy is self die Woord van God (Joh 1:1).

 

c1 Hy weet waar hulle woon, ‘daar waar die troon van Satan is’ – in die sewe briewe word Satan (Aramense woord vir ‘teenstander’) vyfmaal genoem. Hy is die groot teenstander van God en sy koninkryk op aarde, wat alles inspan om die lojaliteit van die mense te wen. Die woord ‘troon’ kom 47 maal in Openbaring voor (van die 62 keer in die NT). Die stryd gaan oor wie op die troon sit: meestal word verwys na God in die hemel wat op die troon sit, maar die draak en die dier wedywer om trone op die aarde vir hulleself op te rig om God se heerskappy teen te staan (13:2; 16:10).

 

c2 Die Here weet dat die leier en die gemeente getrou sy Naam in ere gehou het; sy Naam is Christus se identiteit. Om daaraan vas te hou beteken om toegewy te lewe aan Hom as die Here van jou lewe, aan sy woord en sy soort lewe.

 

c3 Dit word negatief versterk: Die Here weet ook dat hulle nie die geloof in Hom verloën het nie, toe Antipas, sy getroue getuie (martus), voor hulle doodgemaak is, daar waar die Satan woon (ons weet niks verder van Antipas nie as dat hy ‘n betroubare getuie van Christus was, wat daarvoor die hoogste prys moes betaal in die stad waar boosheid hoogty gevier het).

 

c4 Sommige gemeentelede het egter die leer van Bileam begin aanhang, wat hulle verlei om afgodsoffervleis te eet en onsedelikheid te bedryf.

[Hoewel Bileam, op aandrang van koning Balak van die Moabiete en die ander Midianitiese konings, vyfmaal probeer het om Israel op hulle laaste trek na Kanaän te vervloek, kon hy niks anders as die seën van die Here oor die Israeliete uitspreek nie (Numeri 22-24). Maar volgens Numeri 31:16 was Bileam se raad die aanleiding dat Israelitiese mans by Sittim hulle God en sy gebod verlaat het, deur die vroue van Moab wat hulle genooi het na hulle seksuele orgies met wyngenot op elke hoogte en onder elke groen boom as hulle offers ter ere van hulle god Baäl-Peor, die god van reën en vrugbaarheid (Numeri 25:1; vgl 1 Kon. 14:23-24 – Peor is waarskynlik die naam van ‘n berg, en Sittim van ‘n woud met akasias daar naby). Die verwysing na die leer van Bileam verwys daarom na ‘n lewe in vrye ontug en afgodsdiens. In Pergamum was ook ‘n tempel vir Baggus, die Griekse god van wyn, wat met uitspattige feeste gevier is (deur die Romeine Dionusius genoem). So het Bileam die prototipe geword van alle korrupte leraars wat gelowiges verlei tot kompromië met wêreldse ideologieë (sinkretisme). Afgodsoffervleis was tydens feeste vir die afgode in hulle tempels geëet. Die onsedelikheid was deel van die feeste. Deur gemeenskap met die tempel-prostitute is vrugbaarheid van die afgod verkry. Die Nikolaïete is die groep Christene wat die weg van Bileam volg en hulle by die godsdienstige en maatskaplike gebruike van hulle heidense samelewing aangepas het. Die vervolging en verwerping deur die samelewing het vir party lidmate te veel geword, en die aanloklikhede van hulle ou godsdiens het te groot geword.

 

Die groot gevaar wat in Openbaring telkens uitgespel word, is om die grense te oorskry en by die wêreld aan te pas.

d Tot hulle roep die Here: Bekeer julle dan (metanoeson) – die hele instelling teenoor die lewe en God moet verander, terug na God en sy riglyne vir ons lewe.

 

e Die groter gevaar is dat die Here gou na hulle toe sal kom met die tweesnydende swaard van sy mond en teen die lidmate, wat by die wêreld aanpas, sal oorlog maak – hulle sal oordeel, met ingrypende gevolge. Daarom weer die oproep, ‘wie ore het, moet luister na wat die Gees aan die gemeentes sê,’ om die waarskuwing ernstig op te neem en hulle tot die Here te bekeer.

 

f Aan dié een, wat hom aan Christus en sy oorwinning verbind om homself en die versoekings van die wêreld te oorwin, sal Christus gee:

 

f1 van die verborge manna – nou nog verberg tot by die wederkoms van Christus, wanneer dié wat volhard sal deel word van die ewige lewe in die nuwe Jerusalem (Hfs. 21:7), wat nou reeds die deel van die getroues is deur die Gees van God wat in hulle woon, en verborge is vir dié wat ontrou geword het (21:8). Soos die Here vir Israel in die woestyn met manna gevoed het, word gelowiges gevoed deur Christus, die brood wat lewe gee deur sy liggaam vir ons te gee (Joh 6:47-51), in plaas van die afgodsoffervleis van hulle slaghuise, elkeen met ‘n altaar vir ‘n afgod. Openb 19:7-9 sê: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is;

 

f2 ‘n wit klippie van suiwerheid uit God se hand, met ‘n nuwe naam daarop gegraveer, wat slegs geken word deur die ontvanger daarvan. Dit is die toegangskaartjie na die ewige lewe aan dié persoon met die nuwe lewensrigting na God en sy gebod toe, en is nou reeds deel van die ewige lewe van getroue liefdestoewyding aan God en medemens. Die heidene het ‘n hangertjie gedra met ‘n geheime naam van die god wat hulle beskerm teen allerlei boosheid; ingewydes in die kultus van Aesklepius het na hulle inlywing ‘n steentjie met ‘n nuwe naam daarop ontvang. In Jesaja 62:2 belowe die Here aan Jerusalem ‘n nuwe naam wat die Here self vir hom uitgekies het.

Skrywer:  Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...