Die Openbaring aan Johannes – Smirna (2:8-11) – Francois Malan

a Die opdrag om aan die gemeente te skryf word weer onderstreep, soos in 2:1. Die leraar en gemeente in Smirna (huidige Ishmir waar daar nie veel oorblyfsels van die ou stad is nie) ook aan die Egeïese see, 56 km noord van Efese, het nie ‘n tragiese tekortkoming nie, maar genoeg probleme.

 

b Vir hulle kom die woord van Jesus, ‘die Eerste en die Laaste’ – wat die alleenheerskappy voer oor die geskiedenis en alles weet, ook van die gemeente se bedreigings en nood; van Hom ‘wat dood was en lewend geword het’ – ‘n nuwe en unieke manier om te oorwin deur toe te laat dat Hy doodgemaak word, oorwinning deur te verloor, so anders as die wêreld se militêre oorwinnings met mag. Christene behaal die oorwinning deur hulle getroue getuienis, selfs tot die dood toe, volgens die patroon van die oorwinnende gekruisgde, met sy selfverloënende liefdesmag.

(In Februarie 155/156 n.C. is Polikarpus, die biskop van Smirna, op ‘n brandstapel op die stadsplein verbrand omdat hy geweier het om die keiser te aanbid en Jesus prys te gee.)

 

c1 Die Here ken die verdrukking waaronder hulle ly (dieselfde woord vir verdukking thlipsis word in 1:9 gebruik vir die verdukking vir die koninkryk, en in 7:14 vir die groot verdrukking van die huidige eindtyd),

 

c2 ook dat hulle arm is – waarskynlik omdat hulle as Christene gemerk is deur die samelewing in Smirna, uitgeskuif uit alle poste en besigheid, en van hulle eiendom beroof is in strooptogte teen hulle.

 

c3 maar julle is ryk – geestelik ryk (Laodisea is ekonomies ryk, maar geestelik arm).

 

c4 ook dat hulle belaster word deur dié wat self sê dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar ‘n sinagoge van die Satan – die gewone verklaring is dat dit die groot Joodse gemeenskap in Sardis is wat die Christene aankla by die owerheid.

Dit is egter moontlik om dié lasteraars te beskou as Christene uit die Jodendom en uit die heidendom, wat aangepas het by die samelewing se norme en lewenswyse – Johannes beskou die kerk as die ware Israel, wat bestaan uit Jode en heidene wat in Christus glo (7:4-8), en die tempel van God as metafoor vir die hele kerk (11:1-2); die samelopers met die Satan word die dier en die prostituut genoem, en dit is juis hulle wat vir God en sy troue volgelinge belaster (in 13:1,5,6; 17:3 word die woord ‘laster’ blasfemeoo ook gebruik). Hierdie Christene wat by die wêreld aangepas het, sê dat hulle nog Jode is, maar nie meer in die sin van die nuwe Jode, nl. Christen-gelowiges uit Jode en heidene nie. Hulle is nou ‘n sinagoge van die Satan (die ‘teenstander’) wat die getroue gelowiges in die samelewing belaster as ketters, dat hulle ‘n verkeerde leer sou verkondig en vyande van die mensdom sou wees en van die keiser, sodat niemand meer met hulle geassosieer wil word nie.

 

d Bemoediging om te volhard: ‘Moenie vir enigiets wat jy nog gaan ly, bang wees nie…wees net getrou tot die dood toe’ – hier word nie uitkoms voorspel nie, maar lyding tot die dood toe. ‘Kyk, die duiwel (‘lasteraar’) gaan sommige van julle in die tronk laat gooi om julle te toets’ – so sal julle geloof beproef word. Die Romeine het mense in die tronk gesit oor opstand teen die staat, aanhouding vir verhoor en aanhouding in afwagting op teregstelling. Die gelowiges sal ‘vir tien dae lank’ – die volle getal – ‘verdruk word; – in die tronk en daarbuite. Die uitkoms is onseker, maar hulle moet tot die dood toe getrou bly. Hulle moenie in vrees vir mense lewe nie (vgl. Mat 10:28; Hebr. 10:29-30), maar volhard in die geloof in Christus wat die geskiedenis beheer as die Eerste en die Laaste, maar wat oorwin het deur te sterf (Op 13:10).

 

f1 ‘en Ek sal aan jou die oorwinnarskrans van die lewe gee’ – die woord oorwinnaarskrans (stefanos) word gebruik vir die lourierkrans wat ‘n wenner by die spele ontvang. Die oorwinnarskrans van die lewe is ‘n simbool vir die ewige lewe wat Christus sal gee aan dié wat volhard in die geloof, selfs onder die kwaaiste verdrukking en die dood.

 

e Die erns van die opdrag word weereens herhaal vir al die gemeentes (vgl. 2:7).

 

f2 Die belofte word herhaal dat wie oorwin deur tot die eerste dood toe te volhard in die geloof in Jesus, nie deur die tweede dood getref sal word nie. Die tweede dood is die ewige straf (Op 20:6,14; 21:8).

Skrywer:  Prof Francois Malan