Die oue weerklink in die nuwe: Moses (2) – Jan van der Watt
Maar in dieselfde gedeelte kritiseer Paulus ook die era van Moses en die wet, of laat ons liewer sê dat hy dit in die regte perspektief plaas. Hy sê dat as die Jode die wet lees, is dit asof ‘n doek of ‘n sluier oor hulle verstand getrek word, sodat hulle nie verstaan wat hulle regtig lees nie: ‘Hulle verstand was ook toe, en vandag nog bly hulle verstand met dieselfde sluier toegemaak as hulle die Ou Testament lees’ (2 Kor 3:14). Hoewel die Jode iets goeds gehad het, kon hulle dit nie begryp of verstaan nie. Die rede is omdat ‘n mens die Ou Testament alleen verstaan in die lig van Jesus: ‘maar die sluier word deur Christus weggeneem vir iemand wat in Hom glo’ (2 Kor 3:14). Die Heilige Gees wat mense vrymaak, help mense om die boodskap reg te verstaan. Natuurlik het die Christene die Heilige Gees wat beteken dat hulle die openbaring van God in die Ou Testament reg verstaan. Omdat die Heilige Gees die gelowiges help om die boodskap reg te verstaan, verander dit die gelowiges. Hulle word al meer soos Jesus en daarom straal hulle al meer van die heerlikheid van God uit – dit is nou heiligmaking in die hoogste rat! In die woorde van Paulus: ‘Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is’ (2 Kor 3:18).
In die Nuwe Testament is daar ook sprake van ‘n tipologie as dit oor Moses gaan. Tipologie beteken dat iemand ‘n tipe is van iets wat in ander na hom of haar ook gesien kan word – die een word in die lig van die ander gesien. Dit gaan gewoonlik oor tipiese of spesiale kenmerke. Moses en Jesus word in Hand 6-7 as tipes van mekaar gesien, al is Stefanus daarvan beskuldig dat hy teen Moses gelaster het (Hand 6:11). Ironies genoeg verwys Stefanus verskeie male na die lewe van Moses in sy toespraak in Hand 7 (bv. 7:20–24, 30–38, 44). Dit is egter veral die feit dat Moses deur sy eie mense verwerp is (7:25–29, 39–40, 52) wat ‘n tipe is van hoe Jesus deur Stefanus se opponent hanteer is (7:52). Soos Moses deur sy volk verwerp is (en die Jode besef dit was verkeerd) so is Jesus ook deur die mense verwerp (en dus was die volk ook in die geval verkeerd!).
Die Nuwe Testament wys hoe Jesus en Moses eintlik dieselfde dinge doen, maar dat Jesus net baie beter is – Moses, die leier van die volk, is ‘n tipe van Jesus, maar Jesus oortref hom net by verre. Jesus is byvoorbeeld ‘getrou aan God wat Hom aangestel het, soos ook Moses getrou was in die hele huis van God’ (Heb 3:2). Beide dien God getrou in sy ‘huis’, maar ‘Moses was as dienaar getrou in die hele huis van God en moes getuig van die dinge wat God nog sou sê. Christus daarenteen is as Seun getrou oor die huis van God’ (Heb 3:5-6). Moses speel wel ‘n belangrike rol in die volk (huis van God), maar is maar net ‘n slaaf – Jesus is die seun. As mens ‘n slaaf en ‘n seun vergelyk, is daar eintlik geen vergelyking nie; net so is daar ook nie ‘n vergelyking tussen Jesus en Moses nie (sien ook 3:3).
Daar is sommer nog baie ander verwysings na Moses in die Hebreërboek (3:16,18; 7:14; 8:5; 9:19; 10:28; 12:21); almal wil dieselfde sê: Jesus bied iets baie beters as wat Moses die Jode kon bied. Heb 11:23–24 beskryf Moses byvoorbeeld as ‘n geloofsheld wat gedoen het wat God vra. Daarmee was hy weereens net ‘n tipe van Jesus wat die werklike ‘Begin en Voleinder van die geloof’ was (Heb 12:2). Daarom maak dit sin om Christen te bly.