Die Probleem van Morele Waardes – Sedes

image_pdfimage_print

 

My whole life I have been complaining that my work was constantly interrupted, until I discovered that the interruptions were my work – Henri Nouwen

 

Die Probleem van Morele Waardes – Sedes

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

Die moderne kultuur het ‘n probleem met die vestiging van ‘n morele kompas. Fyodor Dostoyevsky skryf: Without God and the future life … everything is permitted, one can do anything. Dit beteken nie dat ateïste minder sedelik as gelowiges is nie. Paulus sê dat alle mense deur God gemaak is, gemaak is met ‘n morele kompas (Romeine 2:14 – 15). Hy sê ook dat alle mense, insluitend gelowiges, afgedwaal het (Romeine 3:9 – 12). Wat wel verskil is die bron van morele waardes. In die geval van ongelowiges is dit gevoelens. Daar is morele gevoelens en oortuigings sonder God, maar nie morele verpligtings nie. Sedelikheid kan nooit gebruik word om ander uit te sluit nie. Kom ons kyk eers na die probleem van sedes vir sekulêre mense.

 

In vergelyking met die verlede word elke menselewe vandag waardeer. Groot klem word daarop gelê dat mense gelyk is. As daar egter gevra word: “Hoekom moet daar so geleef word?” kan ons moderne kultuurinstellings geen antwoord gee nie. Die moderne mens glo dat hy as individu of die gemeenskap gesamentlik alle morele waardes moet kies. Die probleem is dat as elke persoon individueel sy sedelike waardes kies, watter reg het hy om te verwag dat ander mense ook sy waardes moet aanvaar?

 

Die sosiale wetenskappe kon nie daarin slaag om ‘n teorie vir ‘n etiese leefwyse te ontwikkel nie. Daarom is mense voortdurend besig om te oordeel en te evalueer. Sosiale wetenskaplikes het veral twee teorieë om ‘n sedelike lewe te verduidelik.

  • Ons sedelike oortuigings is die gevolg van evolusie. Diegene wat geglo het dat selfopoffering reg was, het in groter getalle oorleef. Min mense aanvaar vandag nog hierdie teorie.
  • Alle morele wette is arbitrêr. Hulle is die produk van mag en nie rede nie.

Beide teorieë ontken dat daar iets soos ‘n absolute morele waarde of verpligting is. Daar is geen rede om nie te doen waarvoor ons lus is nie.

 

Die werklikheid van morele verpligtings is nie ‘n bewys vir die bestaan van God nie,  maar is ‘n sterk getuienis vir die bestaan van God. As jy oortuig is van morele feite en verpligtings maak dit net eenvoudig meer sin om te glo aan ‘n wêreld met ‘n God. As daar ‘n God van goedheid en waarheid is en ons leef in ‘n verhouding met Hom, moet daardie goedheid en waarheid nie ook in ons lewens manifesteer nie?

 

 

image_pdfimage_print