Die Raad/Konsilie van Chalcedon

The word grace on the lips of an ungrateful person is profane – William Shakespeare

Die Raad/Konsilie van Chalcedon

Ons is besig om na sewe ekumeniese konsilies te kyk. Almal het probeer om ‘n uniforme Christelike teologie daar te stel. Die vierde het by Chalcedon plaasgevind. Toe Marcianus, ‘n ortodokse Christen, keiser word, wou hy die wanorde wat na die tweede konsilie by Efese ontstaan het, probeer regstel. Hierdie konsilie kom van 8 Oktober tot 1 November 451 in Chalcedon plaas. Chalcedon is tans ‘n distrik van die moderne Istanbul. Dit is nie in Italië gehou nie weens die bedreiging vir die Romeinse Ryk deur Attila en sy Hunne.

 

Die vergadering is deur tussen 350 en 500 biskoppe bygewoon. Die hoofkarakters was Eutyches en Dioscorus. Eutyches was ‘n bejaarde en invloedryke monnik van Konstantinopel. Weens sy onortodokse leringe oor Christus is hy in 448 veroordeel as dwaalleraar deur die plaaslike sinode in Konstantinopel. Dioscorus word die biskop van Aleksandrië na die afsterwe van Kurillos in 444. Hy verdedig vir Eutyches. Hy word die president van die tweede konsilie van Efese waar Eutyches herstel word en diegene wat hom uitgeban het self uit die kerk geban is.

By Chalcedon is probeer om die verwarring wat by die tweede konsilie by Efese ontstaan het, op te klaar. Die belydenisse van die vorige konsilies, soos dié by Nicea is bevestig. Die vergadering ontwikkel ‘n belydenisskrif wat ortodoksie bevestig het en dit verduidelik het teenoor ander teenstrydige sienings.

Dioscorus en ander biskoppe wat die besluite van die tweede konsilie by Efese ondersteun het, het voor die vergadering verskyn. Dioscorusis word skuldig bevind aan die misbruik van sy priesterlike gesag. Die vergadering bevestig Jesus se menslike en goddelike natuur wat saam in een persoon bestaan. Hierdie konsilie het min permanente gevolge gehad – die geskil het vererger. In 484 het Feliks III, die pous in Rome, vir Acacius, die aartsbiskop van Konstantinopel , sy priesterlike gesag ontneem. In reaksie verbreek Acacius alle bande met Feliks. Binne 33 jaar, as gevolg van die besluite van die vergaderings, skei die kerk in die Ooste en dié in die Weste.