Die Raad van Konstantinopel

image_pdfimage_print

Truth does not change according to our ability to stomach it. -Flannery O’Connor, skrywer (1925-1964)

Die Raad van Konstantinopel

Daar was sewe ekumeniese vergaderings/konsilies. Die eerste was by Nicea in 325; die laaste een was die tweede Raad van Nicea in 787. Tussen hierdie twee was daar vyf verdere vergaderings. Elkeen het ‘n verenigde Christelike teologie probeer verstaan en vestig. Vandag kyk ons na die eerste Raad van Konstantinopel.

 Hierdie vergadering is in Konstantinopel – die huidige Istanbul in Turkye gehou Dit is deur Theodosius I, Die keiser van die Oostelike Romeinse Ryk, bymekaar geroep. Hulle vergader van Mei tot Julie 381. Die doel was om die kerk te verenig oor die wese van Christus en sy verhouding met die Vader.

Die vraag is reeds by Nicea hanteer, maar dit het ‘n twispunt in die kerk gebly.

 Daar was 150 Oosterse biskoppe teenwoordig. Meletius, die aartsbiskop van Antiogië is as eerste president van die vergadering gekies, maar hy sterf kort na die aanvang van die vergadering. Gregorius van Nazianzus is by die aanvang van die vergadering as biskop van Konstantinopel verkies en hy volg Meletius as president op. Gregorius se verkiesing word uitgedaag omdat biskoppe nie van die een bisdom na ‘n ander oorgeplaas mag word nie. Gregorius was vantevore die biskop van Sasima. Hy bedank as biskop en president van die vergadering. Nectarius, ‘n staatsamptenaar is gou gedoop sodat hy kon oorneem as biskop van Konstantinopel en president van die vergadering.

 Die hoofitem op die agenda was om die leer wat by Nicea bepaal is, te bevestig. Hulle doen dit deur ‘n nuwe belydenisskrif, want van die taal wat in die oorspronklike Belydenis van Nicea gebruik is, was kontroversieel en problematies. Hulle het ook sekere ander punte opgeklaar.

 Een spesifieke gebied waar die leer ontwikkel het, was in verband met die Heilige Gees. Hulle voeg vier dinge aangaande die Heilige Gees by:

  • Die goddelike titel ‘Here.’
  • Goddelike funksies soos die gee van lewe.
  • Oorsprong uit die Vader, nie deur skepping nie.
  • Aanbidding gelyk aan dié wat aan die Vader en Seun gegee word.

 Ses en dertig Masedoniese biskoppe verlaat die vergadering, want hulle was nie bereid om sulke verhewe taal aangaande die Heilige Gees te aanvaar nie. Alhoewel hulle nie bereid was om die Heilige Gees God te noem nie, het hulle aanvaar dat Hy nie ‘n skepsel was nie.

 Die resultaat van die vergadering was die Belydenis van Konstantinopel. Dit stem baie ooreen met die Belydenis van Nicea, behalwe dat die banvloek teen Arianisme verwyder het. Ander sake is ook op die vergadering bevestig. Een daarvan was dat die biskop van Konstantinopel naas die biskop van Rome voorrang sal geniet, want “Konstantinopel was die nuwe Rome.” Hierdie was ‘n bedreiging vir Rome en die mag van sy biskop. Dit is as ‘n belediging gesien, want geen geestelike betekenis kon aan Konstantinopel geheg word nie. Die biskop van Rome het daarop aanspraak gemaak dat hy Petrus opgevolg het. Hierdie klein verandering sou vorentoe nog baie probleme gee.

 Teologies het hierdie vergadering die logika van Nicea voortgesit, en versigtig Nicea se verhouding van die Vader en die Seun ook op die verhouding van die Vader en die Heilige Gees toegepas. Dit het ook die status van Konstantinopel as die Nuwe Rome gevestig.

 Hierdie vergadering was betekenisvol, maar verskeie verdere vergaderings was nodig voordat ons van ‘n eenvormige Christelike leer kon praat.

image_pdfimage_print