Die roeping van Kores (Hoofstuk 45 vers 1 tot 8) – Francois Malan
45:1 Kores word geroep vir die wêreld-politiese werk wat die Here beplan vir sy volk Israel. Hy word met ‘n goddelike dekreet gesalf tot die Here se Gesalfde (Messias/Christus) ,gesalf as koning, soos vir Dawid in Ps 2 wat oor Israel se buurnasies moes optree om die gebied wat die Here aan hulle toegeken het, te onderwerp, Hier moet Kores in die hele bekende wêreld van destyds optree as die Here se Gesalfde (vgl. 44:28 hy is my herder-koning). Hierdie heidense heerser is die Here se ‘Christus’ om Israel te red uit die Babiloniese ballingkap deur die politieke en militêre take uit te voer wat nodig is om Jerusalem te herbou. Die Here hou sy regterhand vas (NAV wat Hy as Heerser aangestel het; vgl. 42:6 :Ek het jou hand gevat) om hom te lei en te help met al sy take; ‘om nasies voor hom te onderwerp. Selfs die lendene van konings sal Ek ontgord, om voor hom (stads) deure oop te maak en die hekke sal nie gesluit wees nie (In Jer 25:9 noem die Here koning Nebukadneser ook sy dienaar om Israel met wegvoering te straf vir hulle sonde).
Kores se loopbaan word gekenmerk deur baie gunstige omstandighede wat die Here voor hom uit geskep het, buiten sy militêre mag. Hy het die Persiese stamme met groot gemak om hom verenig; Babel het saam met hom die Mediërs onderwerp. Twee Mediese leërs is teen hom gestuur, wat altwee na hom toe oorgeloop het. Sy genadige optrede teenoor sy onderworpe volke het in sy guns getel. Sonder teenstand het Armenië aan hom oorgegee, die Lidiërs in Klein-Asië se perde het op die vlug geslaan toe hulle sy Persiese kamele geruik het, en die stad Babilon het sonder teenstand aan hom oorgegee (nadat hy die stad deur hulle droë water-kanaal ingekom het deur die kanaal by die Eufaat af te sluit, die nag toe die Here teen die muur van Belsasar se fees geskryf het, Dan 5:28 Mené, Mené, Tekél, Upharsin – ‘geweeg, geweeg, te lig, die Perse’ gaan jou oorneem). So het die Here, voor hom uit, deure en hekke oopgemaak en konings van hulle amp gestroop.
Soos die heidense Kores vir Israel onaanvaarbaar was as hulle redder, was Jesus van veragde Nasaret vir die Jode onaanvaarbaar as hulle Verlosser aan ‘n kruis, sodat die krag van God se liefde, deur die swakheid van Goeie Vrydag, die sonde van die wêreld weggeneem het. So is die kerk deur die eeue bespot oor hulle geloof dat Jesus die Woord van God is wat mens geword het, en kan die Here vandag nog selfs buite die kerk om swakkes, onaanvaarbares en ongelowiges gebruik om sy wil en werk deur te voer. In hierdie vers is dit duidelik dat God se toekoms vir Israel nie uitgewerk word soos hulle dit verwag of verkies het nie.
45:2 Die Here sê vir Kores: Ek self sal voor jou uitgaan en hoogtes gelykmaak – alle hindernisse verwyder (soos vir terugkerende Israel in 40:4). Koperdeure en ystergrendels stukkend slaan – Herodotus het destyds geskryf Babel het 100 koper deure.
45:3-6 Die skatte in die skatkamers van Babel (Jer 50:37; 51:13) en die rykdom van Sardis, hoofstad van Kroesus, die rykste man van die oudheid (spreekwoord: so ryk soos Kroesus), word aan Kores gegee sodat hy kan weet dat die Here hom by name geroep het en toegerus/versterk het vir die taak (letterlik: Ek gord jou – teenoor ontgord van die konings in 45:1), hoewel hy nie die Here ken nie. Dié mense wat die wil van die Here uitvoer al ken hulle Hom nie, doen dit vir heel ander redes, selfs negatiewe redes, maar word so deur die Here gebruik in sy diens. Die Here se doel met Kores se politiek en oorwinnings is ter wille van my dienaar Jakob, van Israel wat Ek uitverkies het, en dat elkeen van die Ooste tot die Weste kan weet dat daar geen god buiten die Here is nie – wat dit alles voorspel het, en uitgevoer het. Die Here se doel strek verder as Israel en die kerk. Dit gaan oor sy hele wêreld. Hy bepaal die toekoms van die ganse wêreld en elke samelewing. Maar die hele wêreld is ook voortaan die gebied waarin Israel as dienaar van die Here met hulle lewe en woorde moet getuig dat Hy die enigste ware God is.
45:7 As die enigste God is die Here die enigste wat lig vorm en duisternis skep, wat vrede/heil/voorspoed (sjaloom) maak en onheil/rampspoed (r‘a die slegte) skep. So is die Here verantwoordelik vir die skepping se lig en duisternis, vir die ballingskap en die bevryding van Israel. Die slotsom van verse 1-7 is: Ek, die Here, doen al hierdie dinge (44:24). Teenoor die Perse wat ‘n goeie en ‘n bose god teenoormekaar gestel het, is die Here in beheer van alles op aarde en gebruik Hy voorspoed en teenspoed om sy dienaars te vorm tot sy eer; selfs Jesus, as ons voorbeeld, het geleer wat gehoorsaamheid is deur wat Hy gely het (Hebr 5:8; vgl. sy gebede in Getsemane). So moes Israel in ballingskap leer hoe om dienaar te wees (vgl. dat die sterk Jakob na sy worsteling met God by Pniël mank stap, Gen 32:31; Josef was in die put en ‘n gevangene in Farao se tronk, om ‘n wyse onder-koning te word, Gen 50:20; en kinders van God het die vooreg om deel te hê aan Christus se lyding en daarom ook aan sy heerlikheid, Rom 8:17).
45:8 Die profesie eindig met ‘n lied wat Israel se verlossing en hulle erkenning van die Here geesdrigtig besing. Die Here beveel: ‘Hemele en wolke, laat strome geregtigheid uit die hoogte drup! Laat die aarde oopmaak en saam verlossing voortbring en geregtigheid laat uitspruit, Ek, die HERE het hom geskape.’
Die Here gaan die geregtigheid, om sy volk van hulle vyande te verlos, soos reën op die aarde uitstort. Met die ‘reën’ van geregtigheid sal die Here heil/vrede saam met geregtigheid op die aarde laat ontwikkel. Met Israel se verlossing deur Kores gaan geregtigheid onder mense ook vrede onder hulle bring. Wanneer die Here sy verhouding met die mense regmaak sal hulle ook in geregtigheid en vrede met mekaar saam lewe. Die Here gaan nie Israel verlos deur hulle eie Joodse soldate nie! maar deur ‘n nuwe skepping, deur ‘n vrye gawe van die Here, wat die hele skepping raak. So word die skepping en die gelowiges opgeroep om die Here te loof in verwondering oor sy wonderlike plan met die wêreld en dankbaarheid vir sy ruime genade oor die mensdom.
Skrywer: Prof Francois Malan