Die Sabbat (1)

Die Sabbat (1) – Coen Slabber

Die Sabbat (ook Shabbat of Shabbas) is die rusdag. In die Bybel is dit ‘n dag van rus en ‘n tyd vir aanbidding. Dit is die sewende dag van die week en strek van Vrydag sononder tot Saterdag sononder – eintlik totdat daar drie sterre in die lug is. Gedurende hierdie tyd staak Jode alle gewone werksaamhede. Daar is ‘n verskil in die benadering tot die Sabbat in die Ou en Nuwe Testament.

  1. Die Sabbat in die Ou Testament 

In Genesis 2:2 – 3 lees ons: Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het. Elke dag word dan gedefinieer: Dit het aand geword en dit het môre geword. Hier sien ons ‘n duidelike verband tussen die Sabbat en die skepping.

In Eksodus 16:22 – 30 gee Moses aan die Israeliete opdrag om op die sesde dag ‘n dubbele porsie manna op te tel en die helfte te bewaar vir die volgende dag, want op die sewende dag sou daar geen manna wees nie. Die volk het op die sewende dag gerus.

In Eksodus 20:8 – 11 lees ons die vierde van die tien gebooie: Sorg dat jy die Sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as ‘n gereelde rusdag geheilig.

Hierdie gebod geld vir almal, insluitend vreemdelinge en diere – God het hulle immers ook gemaak. In Eksodus 31:12 – 18 word die sabbat as ‘n teken beskryf tussen My en julle sodat julle kan besef dat Ek, die Here, julle vir My geheilig het. Mense wat die sabbat ontheilig moet doodgemaak word en diegene wat op die sabbat werk, moet van die volk afgesny word. Dat die die tien gebooie baie belangrik is,  is duidelik: die twee kliptafels moet in die verbondsark geplaas word en God het dit self met sy vinger op die tafels geskryf (Eksodus31:18).

Die jaarlikse versoendag (Yom Kippur), die heiligste dag in die Joodse jaar,  word ook as ‘n Sabbat beskou. In Levitikus 19 word baie van die tien gebooie herhaal, insluitend dié wat oor die sabbat gaan. In Levitikus 23:3 word die volk beveel om op die sabbat ‘n gewyde byeenkoms te hou. Die offerbrood moet ook elke Sabbat vervang word (Levitikus 24:8).

In Levitikus 25 lees ons van die sabbatsjaar en die hersteljaar. Elke sewende jaar moet die hele land ‘n rustyd hê – ‘n Sabbatsjaar tot eer van die Here. Die vyftigste landbouseisoen moet ook aan die Here gewy word – die hersteljaar. Dan moet alle skuld afgeskryf word, grond moet aan die families teruggegee word en Joodse slawe moet vrygestel word. Hierdie was ‘n groot toets vir die volk se gehoorsaamheid aan God en hulle gewilligheid om Hom te vertrou vir hulle lewensonderhoud. Dit is interessant dat beide Alexander die Grote en die Romeine die Jode tydens die Sabbatjaar van belasting vrygestel het.

Die erns van die Sabbat word beklemtoon in die verhaal van die man wat op die Sabbat hout bymekaargemaak het. Die Here beveel dat Hy buite die kamp met klippe doodgegooi moet word (Numeri 15:32 – 36).

In Deuteronomium 5 lees ons weer die tien gebooie, maar hier lees ons ‘n ander rede vir die onderhouding van die Sabbat: Jy moet daaraan dink dat jy in Egipte ‘n slaaf was en dat die Here jou God jou deur sy groot krag en met magtige dade daaruit bevry het. Hier gaan dit spesifiek oor Israel. Die Sabbat wys dus na:

•             God se goedheid vir alle mense as hulle Skepper; en

•             God se genade vir sy uitverkore volk as hulle Redder.

Die Ou Testament brei ook uit oor wat op die Sabbat gedoen mag word:

•             Die boer moet rus op die Sabbat – of dit nou ploegtyd of oestyd is (Eksodus 34:21).

•             Die huisvrou mag geen vuur in haar woning maak nie – sy kan nie kook of bak nie (Eksodus 35:3).

•             Die handelaar mag geen goed deur die poorte van Jerusalem dra nie (Jeremia 17:27).

Die gevaar is dat die Sabbat deur mense as ‘n dag van vrees beskou kan word – hulle is bang hulle word gestraf. Die Sabbat is ‘n seën en nie ‘n vloek nie. Die Sabbat is ‘n dag om oor God se grootheid te juig – ‘n dag van vreugde (Psalm 92). Die onderhouding van die Sabbat was ook een van die tekens van getroue Jode se identiteit as hulle hulle in ‘n vreemde land (soos tydens die ballingskap) bevind het.

Die Sabbat het ‘n belangrike rol in die Ou Testament gespeel. Het die koms van Jesus dit enigsins verander? In die volgende artikel gaan ons na die Sabbat in die Nuwe Testament kyk.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber